Nuisance laws and autism in South Africa: seeking a disability rights-compliant approach

ARTIKEL

Nuisance laws and autism in South Africa: seeking a disability rights-compliant approach

Author: Willene Holness

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, School of Law, University of KwaZulu-Natal. Member of the Navi Pillay Research Group
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 207-237
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a1

Abstract

Sommige outistiese persone mag onwillekeurige selfregulerende gedrag toon, soos om te stimuleer, wat ’n impak kan hê op hul bure se genot van hul omgewing, veral waar sulke gedrag geraas veroorsaak. Deur te steun op ’n gelykenis afgelei van anekdotiese en mediaberigte oor hierdie buregeskille, oorweeg hierdie artikel die toepassing van oorlaswette met betrekking tot klagtes weens oormatige geraas deur outistiese persone in Suid-Afrika om ’n benadering te identifiseer wat voldoen aan gestremdheidsregte om die gemeenskapstigma wat outistiese persone in hierdie gevalle ly, aan te spreek – maar gebalanseer met die regte van bure. ’n Benadering wat voldoen aan gestremdheidsregte word uiteengesit met verwysing na internasionale en streeksreg en jurisprudensie, wat ’n belyning met ’n neurodiverse paradigma insluit. Verder word die Suid-Afrikaanse regstoets van redelikheid op die feitestel toegepas en bevind dat dit meestal ooreenstem met ’n benadering tot gestremdheidsregte. Verdere wetgewende beskermings soos remedies in die Wet op Beskerming teen Teistering 17 van 2011 en die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act 4 van 2000 word ondersoek. Daar word aangevoer dat wette proaktiewe maatreëls moet bevat om neuro-afwykende ofte wel neurodivergente persone te erken en te akkommodeer, in plaas daarvan om hulle reaktief op versoek te akkommodeer of hulle heeltemal uit te sluit. Daar word verder aangevoer dat as ’n outistiese persoon stimuleer om sensoriese oorlading te hanteer, hul huisomgewing hierdie behoefte moet akkommodeer. Gevolglik moet bure nie net “verdraagsaam” nie, maar ook akkommoderend teenoor hierdie behoefte wees, en die staat moet maatreëls instel, soos subsidies vir aanpassings aan huisomgewings, om gesinne wat akkommodasie benodig, te help om neurodivers-vriendelike ruimtes te skep.

The interpretation of taxing statutes in South Africa: ideas on context and purpose

ARTIKEL

The interpretation of taxing statutes in South Africa: ideas on context and purpose

Author: Izelle Du Plessis

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, Department of Mercantile Law, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 238-251
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a2

Abstract

Interpretasie is die proses waarin betekenis aan woorde gekoppel word. In Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality (2012 4 SA 593 (HHA)) het die hof opgemerk dat interpretasie ’n eenheidsproses is wat behels dat die woorde, in die lig van hul gewone grammatikale betekenis, die konteks waarin die woorde verskyn, die doel van die bepaling, en die materiaal bekend aan diegene wat vir die opstel van die bepaling verantwoordelik is, oorweeg moet word. Hierdie eenheidsproses is ook van toepassing op belastingwetgewing. Die artikel bespreek hoe twee elemente van die eenheidsproses, naamlik konteks en bedoeling, toegepas moet word en hoe Suid-Afrikaanse howe dit reeds toegepas het op belastingwetgewing. Daar word ook voorgestel watter ander bronne of prosesse howe behoort te gebruik, of met groot versigtigheid moet hanteer. Die fokus val op uitsprake van die konstitusionele hof en die hoogste hof van appèl sedert 2020.
Die grondwet bied ’n belangrike konteks vir die interpretasie van belastingwette. Howe staan onder ’n verpligting om die gees, bedoeling en doelwitte van die handves van menseregte te bevorder en belastingwette so te interpreteer dat dit grondwetlik geldig bly. Ander grondwetlike waardes, soos die oppergesag van die reg, speel ook ’n rol. Vele ander bepalings in die grondwet beïnvloed ook die interpretasie van belastingwetgewing.
Die hele wet, insluitend die betrokke hoofstuk, afdeling en omliggende bepalings, bied konteks vir interpretasie van ’n betrokke woord, frase of bepaling. Kommissies van ondersoek, soos die Davis Belastingkomitee, kan ook konteks verskaf deur probleme uit te lig of veranderinge aan te beveel. Aangesien belastingwette dikwels gewysig word, is die geskiedenis van ’n bepaling nuttige konteks vir interpretasie.
Die interpretasieproses vereis dat die doel van die wet vasgestel word, maar in die geval van belastingwetgewing moet die doel van die betrokke bepaling vasgestel word, eerder as die doel van die wet. Die wet se titel en toeganklike verduidelikende memoranda, opgestel deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, kan help om die doel daarvan vas te stel, maar howe behoort laasgenoemde ook met ’n mate van omsigtigheid te benader. Die bewoording en konteks van ’n bepaling kan ook die doel van die betrokke bepaling aandui, asook die agtergrondsfeite wat aanleiding gegee het tot die totstandkoming van die bepaling.
Die interpretasie van belastingwetgewing in Suid-Afrika het ontwikkel van ’n letterlike benadering tot een wat, as standaardpraktyk, konteks en doel in ag neem. Die omvang van die materiaal wat howe in ag mag neem tydens die interpretasieproses, is ook uitgebrei. Die grondwet bly die rigtingwyser in die interpretasieproses.

No limiting principle: the authoritarian statism underlying South Africa’s legal discourse of “transformative constitutionalism”

ARTIKEL

No limiting principle: the authoritarian statism underlying South Africa’s legal discourse of “transformative constitutionalism”

Author: Martin Van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Head of Policy, Free Market Foundation
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 252-275
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a3

Abstract

Sogenaamde “transformatiewe konstitusionalisme” (eerder, transformatisme) is die ideologiese grondslag van Suid-Afrika se hedendaagse toonaangewende regsdiskoers. Dit streef na sogenaamde substantiewe gelykheid in alle wesenlike velde van die samelewing en meen dat hierdie oënskynlike ideaal nie organies tot stand gaan kom nie. Wetgewende- en juridiese sosiale manipulering word dus ontplooi, ook met ’n voorkeur vir gesentraliseerde magspolitiek bo gedesentraliseerde of strengbeperkende modelle. Die staat word met ander woorde beskou as die sentrale werktuig vir dié sosiale verandering. Transformatisme vereis ’n kragtige uitvoerende en wetgewende gesag, ondersteun deur ’n regbank wat óf terughoudend is wanneer die regering “transformasie” bevorder, óf aktivisties optree wanneer die regering versuim om transformasiedoelwitte na te streef. Die howe, wat die ideologiese uitgangspunte van die politieke elite weerspieël, word in ooreenstemming met ’n beginsel van sosialistiese regsdenke beskou as deel van die “verenigde mag” van die staat, eerder as ’n werklike kontrole oor staatsmag. Hierdie oordrewe staatsbenadering verwerp onder andere streng-beskermde private eiendomsregte en markvryheid, ten gunste van staatsgedrewe herverdeling van eiendom en hulpbronne. Transformatisme streef uiteindelik die totale herstrukturering en herkonfigurasie van die hele Suid-Afrikaanse samelewing na. Hierdie benadering bots met tradisionele opvattings van konstitusionalisme.
Konstitutionalisme is die beginsel van regsbeperkte staatsmag, daarop gemik om willekeurige magsuitoefening te voorkom en vryheid, pluralisme en geregtigheid te beskerm. Transformatisme verwerp hierdie uitgangspunt van beperking en karakteriseer dit as ’n fasade vir die voortsetting van historiese ongelykhede en wit bevoorregting. In die plek daarvan moet staatsgedrewe maatskaplike verandering en herverdeling bo die heerskappy van die reg geprioritiseer word – en die heerskappy van die reg moet selfs herdefinieer word om plek te maak (ingevolge regsbeginsel) vir die transformasiedoelwitte van die huidige regering. Hierdie benadering skryf ideologiese betekenisse aan die teks van die Suid-Afrikaanse grondwet toe, om die hoogste reg te instrumentaliseer vir outoritêre en selfs totalitêre doeleindes. Die vermoë om outoritêre doeleindes in die fasade van reg en konstitusionalisme te omhul, is lank reeds ’n aantreklike meganisme vir diegene met tiranniese agendas, en post-apartheid Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Deur die grondwet as ’n werktuig vir magspolitiek eerder as die beskerming van vryheid en die opbouing van die regstaat te gebruik, ondermyn transformatisme die idee van konstitusionalisme per se en kan dus onder geen omstandighede sélf as (“transformatief-”) konstitusioneel beskryf word nie.

False paternity in South Africa: is it time to pay the piper?

ARTIKEL

False paternity in South Africa: is it time to pay the piper?

Authors: Latiefa Manie and Carmel Jacobs

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, Department of Private Law, University of the Western Cape, South Africa; Senior Lecturer, Department of Private Law, University of the Western Cape, South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 276-290
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a4

Abstract

Verkeerd toegekende vaderskap en/of vaderskapsbedrog is geensins ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie. Ten minste vier gerapporteerde en ’n onbekende aantal ongerapporteerde sake van hierdie aard het reeds voor ons howe gedien. In EAP v SW ((A115/2025) 2025 ZAWCHC 540 (20 Nov 2025)) is pas na 25 jaar uitsluitsel oor die twyfelagtige vaderskap van die tersake kind gegee in die uitspraak van die volbank op appèl). In twee van die gerapporteerde gevalle is die eise om onderhoud van die hand gewys. Die aansoekers in die oorblywende twee sake, waar die waarheid ontdek is, was suksesvol om hul vermeende ouerlike verantwoordelikhede en pligte jeens die andermanskind te beëindig. Hierdie regspraak stuur teenstrydige boodskappe uit. Dit is nou onseker of ’n persoon wat as gevolg van bedrog deur ander (die biologiese vader en moeder) foutiewelik as die wettige vader aangemerk was, geregtig is op ’n remedie, en indien wel, wat die aard daarvan sou behels. Anders as in die verlede is daar danksy moderne DNS-toetse (DesoxyriboNucleïneSuur) die moontlikheid om bó redelike twyfel wél die vaderskapsverband met ’n bepaalde kind vas te stel. Daar is geen regverdiging vir enige hof om steeds slegs steunend op die vermoede pater est quem nuptiae demonstrant (D 2 4 5) in betwyfelde gevalle te beslis asof dié vermoede onweerlegbaar is nie. (DDC-vaderskapstoetse is byvoorbeeld in Duitsland, België, Nederland en Switserland selfs oor die pos beskikbaar teen €169 én is regtens as hoogs betroubaar erken met voldoening aan die ISO 17025 norme.)
Ons ondersoek die bestaande regsraamwerk rakende vals vaderskapseise in Suid Afrika en evalueer of die huidige wetgewing bevredigend is. Tot nou toe het mans wat suksesvol was om te bewys dat hulle op bedrieglike wyse gedwing is om pligte as vaders na te kom probeer om vergoeding te vorder deur middel van die condictio indebiti en eise vir wanvoorstelling. Ongelukkig was sodanige eise vir die verhaal van verkeerdelik betaalde onderhoud tot dusver meestal onsuksesvol. Dit is gedoen omdat dit alles vermeend “in die beste belange van die kind” is, maar dit is ten koste van die skynvader. In die bestaande regspraak is grootliks gefokus op die versuim van mans om hul vaderskap vroeër te ontken asof hulle aanspreeklik was en asof daar ’n verjaringsbeperking was om vaderskap te ontken terwyl die onjuistheid van die toegedigde vaderskap nog nie tot die skynvader se kennis gekom het en die verjaringstermyn nog nie ’n aanvang geneem het nie.
Die moeder aan die ander kant, het tot dusver grotendeels ongeskonde daarvan afgekom. Pogings is aangewend om haar gedrag te regverdig, terwyl die kollig op die skynvader wat ook die slagoffer is, geplaas word. Die howe was huiwerig om sulke eise te erken, aangesien dit “’n andersins liefdevolle en sorgsame ouerlike verhouding met ’n kind” kan vernietig, wat die kind se aanspraak op familie en ouerlike sorg kragtens artikel 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, sou skend.
Hierdie status quo word gekenmerk deur die kind se belange te prioriseer en die vrou se afkeurenswaardige gedrag te ignoreer, terwyl ’n man wat weier om ’n verhouding met die kind te handhaaf of die kind finansieel te ondersteun, verag word en sy belange oor die hoof gesien word. Ons kom tot die gevolgtrekking dat regsontwikkeling op hierdie terrein dringend noodsaaklik is, sodat die moeder uiteindelik aanspreeklik gehou kan word vir die gevolge van haar optrede. Dit behoort op so ’n wyse gedoen te word dat dit regverdigheid bevorder sonder om verdere nadeel vir die betrokke kind te berokken.

Unlawful and illegal mining and the draft Mineral Resources Development Bill, 2025

ARTIKEL

Unlawful and illegal mining and the draft Mineral Resources Development Bill, 2025

Author: PJ Badenhorst

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Honorary Professor of Law, NMU
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 291-306
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a5

Abstract

Die probleme rondom onregmatige en onwettige mynbou binne die raamwerk van die Mineral and Petroleum Resources Development Act, 28 van 2002 (die hoofwet) is al vantevore bespreek. Die Mineral and Resources Development Bill, 2025 poog om sommige van hierdie probleme aan te spreek. Die vraag rondom eiendomsreg van minerale wat voorkom in die grond of afgeskeide minerale word steeds nie beantwoord nie en beginsels van die gemenereg moet steeds diens doen om die leemtes in die hoofwet aan te vul. Daar word in oorweging gegee dat die volgende beginsels in die hoofwet vervat behoort te word: (a) Eiendomsreg van minerale, wat voorkom in die grond, word gehou deur die eienaar van die grond (of die staat); (b) Die houer van ’n prospekteerreg, mynreg of mynpermit verkry eiendomsreg van minerale tydens die myn of skeiding van die minerale van die grond; (c) ’n Persoon wat minerale, wat voorkom in die grond, in stryd met artikel 5A van die hoofwet myn of skei, verkry nie eiendomsreg van sulke minerale nie; (d) Indien minerale in stryd met artikel 5A van die hoofwet van die grond gemyn of geskei word, verkry die staat eiendomsreg van afgeskeide minerale.
Die beoogde nuwe mynpermit (“artisanal mining permit”) word van naderby bekyk in die dampkring van pogings om onwettige myners te betrek in die raamwerk van die hoofwet. ’n Meer eenvoudige mynpermit, wat byvoorbeeld in Australië voorkom, word voorgehou as ’n beter oplossing om onwettige myners deel van die sisteem te maak. Daar word toegegee dat die omgewing, gesondheid en veiligheid van myners steeds beskerm moet word.
Die bepalings wat daarop gemik is om historiese mynhope (wat nie onderhewig is aan die bepalings van die hoofwet nie) onder beheer daarvan te bring, word krities beoordeel. Daar word daarop gewys dat die blote herhaling van die bepalings van ’n vorige wysigingswet, wat nooit inwerking gestel is nie, steeds problematies is. Daar word oorweging gegee dat, ingevolge die beslissing in Agri SA v Minister of Minerals and Energy (2013 4 SA 1 (KH)), die maatreëls wat daarop gemik is om historiese mynhope te betrek nie onteiening sonder vergoeding uitmaak nie. Dit is daaraan te wyte dat min of meer dieselfde werkswyse wat van toepassing was op ou orde regte in skedule II van die hoofwet, gevolg is. ’n Beter konstruksie sou egter gewees het indien eiendomsreg van historiese mynhope behou is en die eienaars die geleentheid gebied is om binne twee jaar die omvang van bestaande mynregte te vergroot of nuwe mynregte ten aansien van die historiese mynhope te verkry, indien die mynhope binne of buite ’n myngebied val. Slegs by versuim om aansoek te doen behoort die staat bewaarhouerskap (“custodianship”) oor sodanige historiese mynhope te vestig – maar steeds sonder beëindiging van eiendomsreg van sulke mynhope. Sodanige konstruksie vermy die moontlike juridiese verkryging van heerlose mynhope deur onwettige myners. Die korrekte omskrywing en uitbreiding van misdade in die hoofwet word verwelkom.