Abstract
Interpretasie is die proses waarin betekenis aan woorde gekoppel word. In Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality (2012 4 SA 593 (HHA)) het die hof opgemerk dat interpretasie ’n eenheidsproses is wat behels dat die woorde, in die lig van hul gewone grammatikale betekenis, die konteks waarin die woorde verskyn, die doel van die bepaling, en die materiaal bekend aan diegene wat vir die opstel van die bepaling verantwoordelik is, oorweeg moet word. Hierdie eenheidsproses is ook van toepassing op belastingwetgewing. Die artikel bespreek hoe twee elemente van die eenheidsproses, naamlik konteks en bedoeling, toegepas moet word en hoe Suid-Afrikaanse howe dit reeds toegepas het op belastingwetgewing. Daar word ook voorgestel watter ander bronne of prosesse howe behoort te gebruik, of met groot versigtigheid moet hanteer. Die fokus val op uitsprake van die konstitusionele hof en die hoogste hof van appèl sedert 2020.
Die grondwet bied ’n belangrike konteks vir die interpretasie van belastingwette. Howe staan onder ’n verpligting om die gees, bedoeling en doelwitte van die handves van menseregte te bevorder en belastingwette so te interpreteer dat dit grondwetlik geldig bly. Ander grondwetlike waardes, soos die oppergesag van die reg, speel ook ’n rol. Vele ander bepalings in die grondwet beïnvloed ook die interpretasie van belastingwetgewing.
Die hele wet, insluitend die betrokke hoofstuk, afdeling en omliggende bepalings, bied konteks vir interpretasie van ’n betrokke woord, frase of bepaling. Kommissies van ondersoek, soos die Davis Belastingkomitee, kan ook konteks verskaf deur probleme uit te lig of veranderinge aan te beveel. Aangesien belastingwette dikwels gewysig word, is die geskiedenis van ’n bepaling nuttige konteks vir interpretasie.
Die interpretasieproses vereis dat die doel van die wet vasgestel word, maar in die geval van belastingwetgewing moet die doel van die betrokke bepaling vasgestel word, eerder as die doel van die wet. Die wet se titel en toeganklike verduidelikende memoranda, opgestel deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, kan help om die doel daarvan vas te stel, maar howe behoort laasgenoemde ook met ’n mate van omsigtigheid te benader. Die bewoording en konteks van ’n bepaling kan ook die doel van die betrokke bepaling aandui, asook die agtergrondsfeite wat aanleiding gegee het tot die totstandkoming van die bepaling.
Die interpretasie van belastingwetgewing in Suid-Afrika het ontwikkel van ’n letterlike benadering tot een wat, as standaardpraktyk, konteks en doel in ag neem. Die omvang van die materiaal wat howe in ag mag neem tydens die interpretasieproses, is ook uitgebrei. Die grondwet bly die rigtingwyser in die interpretasieproses.