Wind farms and fantasy dinners

Author: A Firth

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Non-resident Teacher for Intellectual Property and Knowledge Management for the Master’s Programme at Maastricht University; Visiting Professor, Newcastle Law School; Professor Emeritus in Law, University of Surrey
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 20-30
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a2

Abstract

Immaterieel goedereregte vorm deel van die vermoënsregte en is as sodanig boedelbates met ’n potensiële ekonomiese waarde. Saam met ander vermoënsbates kan dit ’n bousteen vorm van ’n kapitalistiese besigheidsmodel wat wins najaag ook uit verbruikbare bates. Die tipiese kenmerke van die post-industriële fase met die kenmerkend hoë persentasie aan vermorsing van hulpbronne kan ook ten aansien van die immateriële goedereregte negatief druk uitoefen op toekomstige geslagte. ’n Toekomstige verandering in ingesteldheid wég van die maklike wegsmyt en vervanging van alle gebruikte toerusting ná ’n era van gewaardeerde hergebruik of herwinning van waardevolle grondstowwe teen die toenemende vermorsing van skaars hulpbronne stuit teen gevestigde immaterieel goedereregte wat waak teen aanklamping en namaaksels. Plagiaat maak by ontstentenis van ’n toegekende lisensie vir gereguleerde benutting van die beskermde immateriële belang direk inbreuk op belange van die patentreghebbende of die outeur of komponis van die beskermde werk.

In hierdie bydrae reageer die outeur op temas wat tydens ’n ius commune-werkswinkel aangebied aan die Universiteit te Maastricht oor grensverskuiwende tegnologie en ’n sirkel-ekonomie gehou is. In plaas daarvan om die standaard liniêre ekonomiese model na te volg van verbruik en verwerking van grondstowwe en uiteindelik vermorsende afval, moedig ’n sirkel ekonomie die deel, hergebruik en herbestemming van bates aan. In die bydrae word twee uitsprake bespreek waarin volgens die tersake wetgewing van die Verenigde Koninkryk uitspraak gelewer is en waarin die gedagte onderliggend aan deel en herbestemming van immateriële bates ter uiting kom.

In die eerste saak, Siemens Gamesa Renewable Energy A/S v GE Energy (UK) Limited, is die hergebruik en deel deur middel van kruisverwysing van formulerings benut in verdrag- en wetstekste ontrafel om te beslis of die Britse oktrooi- of patentreg ook toepassing vind met betrekking tot ’n windplaas wat aangelê is buite die gebiedswaters van Groot Brittanje. Die regbank beslis dat die patentwetgewing van Groot Brittanje nie uitgebrei is en van toepassing is op die deel van die seegebied wat kragtens die seereg as eksklusiewe ekonomiese sone tussen het Verenigde Koninkryk en die Europese Vasteland geleë is nie. Daar is egter beslis dat dit wel strek tot die kontinentale plaat wat dieselfde oppervlakte insluit. Die twee sones gee eksklusiewe bevoegdhede oor verskillende aldaar te vinde natuurlike hulpbronne.

Die tweede saak, Shazam Productions Ltd v Only Fools The Dining Experience Ltd, handel oor die herbestemming van persoonlikhede, insidente, grappe en kwinkslae ontleen aan ’n gewilde televisiereeks “Only Fools and Horses”. Die hof beslis vir die eerste keer in die Engelse reg dat outeursreg wel insluit die beskerming van die fiktiewe persoonlikhede soos dit beskerming bied aan die hele werk waarmee dit vereenselwig word. In die proses kom ook ter sprake tot welke mate die verweer van eerlike hantering van die idee vir doeleindes van parodie, pastiche en karikatuur steek hou. In geskil was of die outeursreg van toepassing op die televisiereeks verhinder dat die onderliggende idee herbenut kan word deur ’n ander vir eie gewin.