The “leading case” that continues to confound: Badenhorst v Badenhorst 2006 2 SA 255 (SCA) and the need, in response to Justice Binns-Ward, for a nuanced approach to piercing the veneer of abused trusts at divorce (part 1)

Author: B Smith

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer: Research, The IIE’s Varsity College, South Africa; Extraordinary Professor of Private Law, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 44-63
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a4

Abstract

Hierdie bydrae poog om die siening van regter Binns-Ward in ’n referaat wat gedurende 2022 gelewer is, waarin hy ageer dat geen Suid-Afrikaanse hof tot dusver die trustsluier vir doeleindes van die vermoënsregtelike gevolge van egskeiding gelig het nie, te beoordeel. Daar word aan die hand gedoen dat alhoewel die korrekte uitleg van die toonaangewende uitspraak in Badenhorst v Badenhorst (2006 2 SA 255 (HHA)) deur ons howe steeds onseker is, drie gevolgtrekkings bereik kan word wat lynreg indruis teenoor dié van regter Binns-Ward.

Die eerste is dat die Badenhorst-uitspraak – wat oor ’n herverdeling-van-bates-bevel ingevolge artikel 7 van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 gehandel het – wel ’n lig van die trustsluier behels het, na aanleiding van die uitoefening van ’n gemeenregtelike bevoegdheid wat onafhanklik staan van enige diskresie wat moontlik ingevolge die Wet op Egskeiding of die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 uitgeoefen mag word. In die Badenhorst-saak is dit bewerkstellig deur die appellant se voldoening aan die sogenaamde “beheer-toets”, ingevolge waarvan aangetoon is dat die respondent se misbruik van die trustvorm behels het dat sy persoonlike boedel onderwaardeer is. Voldoening aan hierdie toets was egter nie genoeg om die appellant toe te laat om in die respondent se (herwaardeerde) boedel te deel nie; dit kon slegs gebeur indien die toepassing van subartikels 7(4) en (5) ’n verband (nexus) geskep het tussen die uitoefening van die gemeenregtelike bevoegdheid en bateverdeling ingevolge die tersaaklike huweliksgoederestelsel (algehele skeiding van goedere).

Tweedens is die remedie wat aan die appellant voorsien is inderdaad ’n remedie vir die misbruik van die trustvorm, in die sin dat daar gepoog is om ’n verpligting wat aan die appellant by egskeiding verskuldig is (te wete die moontlikheid van ’n herverdelingsbevel ingevolge subartikel 7(3) van die Wet op Egskeiding) te omseil. Hierdie remedie behels ’n “beperkte beskouingsbevel” ingevolge waarvan ’n gade se persoonlike aanspreeklikheid bepaal word deur die trustbates in ag te neem sonder dat beslag gelê mag word op daardie bates. Hierdie persoonlike aanspreeklikheid het behels dat die waarde van die trustbates toegevoeg is tot die respondent se boedel vir doeleindes van die herverdelingsbevel soos deur die appellant aangevra. Hierdie gevolgtrekking strook met die beginsels wat ek aanvoer toegepas behoort te word gegewe die genuanseerde konteks van trustmisbruik in die egskeidingsverband en die eiesoortige aard van die regsverpligting wat gepoog is omseil te word.

Derdens word, na aanleiding hiervan, die gevolgtrekking bereik dat die “beheer-toets” in die Badenhorst-saak inderdaad – soos tereg bevind is in PAF v SCF (2022 6 SA 162 (HHA)) – toepassing behoort te geniet waar, onder andere, die aanwasbedeling ter sprake is. Voorts word aan die hand gedoen dat regter Binns-Ward se onderskrywing van die uitspraak in MJK v IIK (2023 2 SA 158 (HHA)) ter onderskraging van sy standpunte onoortuigend is, weens die inherente tekortkominge van daardie hof se ratio decidendi.