Linking “linked credit providers” and “linked credit agreements” to the National Credit Act 34 of 2005: addressing legislative overlap and the two‑hats problem
AANTEKENINGE
Linking “linked credit providers” and “linked credit agreements” to the National Credit Act 34 of 2005: addressing legislative overlap and the two‑hats problem
Author: Philip Stoop
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 560-578
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a7
Abstract
In hierdie bydrae ondersoek die outeur die steeds problematiese oorvleueling tussen die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 en die Verbruikersbeskermingswet 68 van 2008, veral in gevalle waar goedere of dienste ingevolge ’n kredietooreenkoms gefinansier word. Die analise fokus op twee onderling-verbonde vraagstukke: die sogenaamde oorvleuelingsprobleem en die twee-hoedeprobleem (of dubbelrol-probleem), waar ’n kredietverskaffer terselfdertyd as verkoper of verskaffer optree, hetsy direk of deur ’n nou verwante entiteit. Hierdie probleme het die afgelope jare in verskeie hofuitsprake na vore gekom en beklemtoon die behoefte aan groter duidelikheid in die Suid-Afrikaanse verbruikerskredietreg. Ten opsigte van die oorvleuelingsprobleem toon die bydrae dat artikel 5(2)(d) van die Verbruikersbeskermingswet ’n kunsmatige skeiding skep tussen die kredietooreenkoms (wat onder die Nasionale Kredietwet val) en die goedere of dienste wat die onderwerp van die kredietooreenkoms is (wat binne die Verbruikersbeskermingswet se omvang bly). Die uitsprake in MFC v Botha en Nedbank v Sithole illustreer dat hierdie skeiding dikwels tot onuitvoerbare regte lei, onder meer die onmoontlikheid vir ’n verbruiker om gebrekkige goedere ingevolge artikel 56(2) van die Verbruikersbeskermingswet terug te neem waar die kredietverskaffer die eienaar van die goedere is. Die howe worstel ook met die vraag of ’n kredietverskaffer, wat nie self die goedere verkoop nie, maar die aankoop finansier, steeds aanspreeklik kan wees onder die Verbruikersbeskermingswet. Die tweede vraagstuk, naamlik die twee-hoede-probleem, word in groter diepte ontleed. Die bydrae toon hoe kredietverskaffers in die praktyk dikwels struktureel en funksioneel verbonde is aan die verskaffers van die goedere, hetsy deur agentskappe, kommissiestrukture, in-huis finansieringsafdelings of ander kommersiële verbintenisse. Uitsprake soos NCR v NCT en die belangrike beslissing van die hoogste hof van appèl in Van Niekerk v FirstRand bevestig dat die tradisionele aannames van onafhanklikheid tussen finansier (kredietverskaffer) en verskaffer van goeder of dienste nie meer houdbaar is nie. Laasgenoemde uitspraak het uitdruklik erken dat ’n bank in sodanige gevalle “twee hoede dra”, naamlik die van verskaffer én van kredietverskaffer waaruit spesifieke regspligte kan voortspruit. Die outeur oorweeg vervolgens die waarde van die Europese Unie se nuwe 2023 Verbruikerskredietriglyn (ook bekende as die Consumer Credit Directive), wat onder meer gekoppelde kredietooreenkomste, kredietbemiddelaars, openbaarmakingspligte, gesamentlike aanspreeklikheid, en strukturele verhoudings tussen verkoper en finansier duidelik reguleer. Die Consumer Credit Directive bied ’n samehangende voorbeeld wat verskeie van die Suid-Afrikaanse probleme kan verlig, veral in verband met gebrekkige goedere, regte tydens kansellasie, aanspreeklikheid van finansiers en die deursigtigheid van fooie en bemiddelingskostes. Die outeur oorweeg ook kortliks attornment as leweringsvorm by afbetalingsooreenkomste ingevolge die Nasionale Kredietwet. Ten slotte word aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse wetgewer die Nasionale Kredietwet en Verbruikersbeskermingswet wysig om: (i) ’n statutêre raamwerk vir gekoppelde kredietooreenkomste te skep; (ii) die rol en pligte van kredietbemiddelaars uitdruklik te reguleer; (iii) duidelike remedies te voorsien waar gelewerde goedere gebrekkig is of nie gelewer word nie; en (iv) die verhoudings tussen verskaffers en finansiers op ’n realistiese en deursigtige wyse te reguleer. Só ’n hervorming sal die huidige onsekerhede verminder en die praktiese beskerming van verbruikers wesenlik verbeter.