Regspraak: “A veritable cesspool of lawlessness”: upholding impartiality and decorum in South African judgments

Author: Marno Swart

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Cambridge
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 386-396
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a13

Abstract

Die onpartydige beslegting van geskille deur die regbank is ’n grondliggende kenmerk van ’n legitieme en beskaafde regsisteem. Hierdie beginsel is onheuglik tot die Suid-Afrikaanse reg en ontspruit uit die Romeins-Hollandse stelreël nemo iudex in sua causa potest (niemand is geskik om as ’n regter in hul eie saak op te tree nie). Sedert 1996 word regterlike onpartydigheid deur die grondwet onderskryf wat, tesame met die gemenereg en ’n ryk regspraak, regterlike onpartydigheid reël.
Dit is oor die algemeen onbetwis dat misdadigheid en korrupsie deesdae in Suid-Afrika gedy. Voorsittende beamptes word, uit hoofde van hul amp, waarskynlik nog meer blootgestel aan dié realiteit as die deursnee-Suid-Afrikaner. Hierdie blyk duidelik vanuit ’n onlangse uitspraak in die Gauteng afdeling van die hooggeregshof te Pretoria, waar hierdie ongelukkige toedrag van sake gekritiseer word in ’n meestal obiter dicta relaas, wat nouliks verband hou met die aangeleentheid onder besleg.
Dié aantekening neem die uitspraak in die Mogoai-saak krities in oënskou en voer aan dat die opperheerskappy van die reg as kernbeginsel – asook die onafhanklike funksionering van die Suid-Afrikaanse howe as deel van die trias politica – vereis dat hofuitsprake onpartydig, behoorlik deurdag en gepas moet wees tot die dekorum van (formele) regsverrigtinge. Ten eerste analiseer die aantekening die uitspraak van waarnemende regter Ngalwana om vas te stel wat die regsvraag is waaroor besleg moes word, asook om uit te lig waar die grense van ’n behoorlike, onpartydige uitspraak oortree word. Daarna kontekstualiseer die aantekening die normatiewe regsbeginsels binne die regsprofessie ten einde hofuitsprake te kategoriseer as ’n besondere genre van (formele) skryfwerk. Laastens, word die uitspraak in die Mogoai-saak gejukstaponeer teen die uitgelegde normatiewe bepalings en word aan die hand gedoen dat voorsittende beamptes selfbeheersing aan die dag moet lê en berekend moet wees by die skryf van hofuitsprake (en hofverrigtinge oor die algemeen). Dit verseker dat die integriteit en waardigheid van die regbank bewaar, en die opperheerskappy van die reg gehandhaaf word.
Hierdie aantekening bespreek uitsluitlik die wyse waarop die hof sy uitspraak uitdruk in die Mogoai-saak. Die meriete van die onderskeie partye se sake, en die beslissing aan die hand daarvan, word nie bespreek nie. Hierdie aantekening voer aan dat die waarnemende regter die grense van sy amp oortree en as’t ware ’n partydige toespraak (eerder as ’n uitspraak) gelewer het. Die gevolg van die irrelevant-polemiese uitspraak is ’n verwarrende en swak beredeneerde ratio wat nie in belang van geregtigheid is nie.