A step in the right direction for the condonation of electronic wills

REGSPRAAK

A step in the right direction for the condonation of electronic wills

Author: JT Faber

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 602-616
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a9

Abstract

Tegnologie het die wyse waarop mense hul testamentêre wense weergee, ingrypend verander. In die Suid-Afrikaanse reg bly elektroniese testamente egter in ’n grys area, aangesien die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies 25 van 2002 nie op testamente van toepassing is nie en daar regtens geen raamwerk bestaan wat hul geldigheid reguleer nie. Teen hierdie agtergrond het artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953, die sogenaamde “kondonasiebepaling”, as ’n meganisme na vore getree waardeur howe ’n nienakoming van statutêre formaliteite kan verskoon. Deur sodanige kondonasie word die formaliteitsgebrek regtens oorkom en kan die betrokke dokument – insluitend ’n elektronies geskepte dokument – erken en regskrag aan verleen word. In Mokgoro v Master of the High Court, Kimberley (en die daaropvolgende aansoek om verlof tot appèl in Mmelesi v Mokgoro NO wat van die hand gewys is), het die hof vir die eerste keer die kondonasie van ’n egte elektroniese testament oorweeg – een wat volledig elektronies opgestel, verly en gestoor is. Die hof het voorts die regsimplikasies van die uitsluiting van testamente uit die regulerende raamwerk van Wet 25 van 2002 ondersoek ten einde te bepaal of sodanige uitsluiting ook ’n beperkende uitwerking op die werking van artikel 2(3) van die Wet op Testamente sou hê. Die hof bevestig dat artikel 2(3) van toepassing is op elektroniese dokumente en dat Wet 25 van 2002 nie die moontlikheid van kondonasie uitsluit nie. Alhoewel elektroniese verlyding nie aan die statutêre formaliteitsvereistes vir ’n geldige testament voldoen nie, het die hof ’n wye uitleg aan die begrip “verly” vir doeleindes van artikel 2(3) gegee en tot die slotsom gekom dat ’n testament wat elektronies onderteken is, wel as verly beskou kan word vir kondonasiedoeleindes. Die hof het bevind dat die aanbring van die elektroniese handtekening aan die verlydingsvereiste vir kondonasie voldoen. Hierdie benadering skep ’n belangrike presedent vir die toekomstige kondonasie van elektroniese testamente. Die uitspraak bied groter regsekerheid en verteenwoordig ’n betekenisvolle stap in die regte rigting na ’n meer tegnologies bewuste benadering – met klem op die testateur se bedoeling – in die Suid-Afrikaanse erfreg.

Is racism a justifiable ground for a bank to terminate a bank-client contract?

REGSPRAAK

Is racism a justifiable ground for a bank to terminate a bank-client contract?

Author: Loice Takaedza

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 617-628
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a10

Abstract

Die beëindiging van bank-kliënt-verhoudings bly ’n aktuele en relevante onderwerp ten spyte van die talle hofsake waarin dit duidelik gemaak is dat die verhouding kontraktueel van aard is en dat beide partye bevoeg is om die verhouding met kennisgewing te beëindig. Sodanige dispute word hoofsaaklik beïnvloed deur die belangrikheid van bankdienste in mense se ekonomiese en sosiale lewens, asook die gebrek aan toepaslike alternatiewe tot bankrekeninge. Ondanks die toename in finansiële tegnologie- (fintech-) maatskappye wat finansiële dienste aanbied, bly banke steeds sleutelrolspelers in die moderne finansiële sektor, met die bankrekening wat lank reeds as maatstaf vir finansiële insluiting dien. Om “ontbank” te word, wek ’n gevoel van paniek by die betrokke partye, wat aanleiding gee tot ’n toename in dispute waarin die beëindiging van die bank-kliënt-verhouding betwis word, veral waar die bank die inisiatief neem om die verhouding te beëindig. Hierdie bespreking handel oor ’n onlangse uitspraak in Namibië oor die beëindiging van ’n bankkliënt-kontrak en die relevansie daarvan vir die breër gesprek oor die sluiting van bankrekeninge. Dit belig ook op watter regverdigingsgronde ’n bank – wat in ’n sterker bedingingsposisie as kliënte staan – kan steun om die verhouding te beëindig. Sodanige regverdigingsgronde sluit situasies in waar ’n kliënt van die bank se personeel benadeel. Korporatiewe beheer vereis dat banke stappe doen om hul werknemers se welstand te beskerm en te bevorder. In dié verband kwalifiseer die optrede van ’n bankkliënt wat die waardigheid of veiligheid van personeel van die bank benadeel as ’n geldige grond vir die beëindiging van die bank-kliënt-kontrak. Die bespreking beklemtoon die rol en belang van kontraktuele beginsels in die bank-kliëntverhouding en die behoefte aan wedersydse respek tussen die partye. Dit ondersoek verder hoe die regsubjek wat daadwerklik die finansiële beheer oor ’n regspersoon uitoefen se optrede die regspersoon kan benadeel en waarom ook die natuurlike persone in daardie posisie moet verseker dat hul gedrag nie die entiteit negatief beïnvloed nie. Die bespreking sluit af deur aan te beveel dat beide Namibië en Suid-Afrika die reg op ’n basiese bankrekening moet erken, om so die toename in hofgedinge oor die sluiting van bankrekeninge te beperk en om te verseker dat selfs ongewenste persone minstens toegang tot ’n minimum bankdiens het. Dit herbevestig ook die belangrikheid daarvan om die bank-kliënt-kontrak binne die raamwerk van kontraktereg te hou, sodat beide partye op hierdie kontraktuele remedies kan steun in geval van kontrakbreuk of onbehoorlike optrede.

The mountain must go to Mohammed: private entities doing the state’s work due to the state’s laxity – are the courts facilitating this?

REGSPRAAK

The mountain must go to Mohammed: private entities doing the state’s work due to the state’s laxity – are the courts facilitating this?

Author: YM Joubert

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 629-637
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a11

Abstract

In die normale loop van sake kan privaat entiteite nie ongevraagd werk namens staatsorgane onderneem, en daarna hul uitgawes van die staat terugeis nie. Dit is egter wat in hierdie geval gebeur het. Goldfields het ’n vervalle publieke pad namens die munisipaliteit herstel en het daarna hulle uitgawes van die munisipaliteit probeer verhaal. Dit is algemeen aanvaar dat Goldfields nie kennisgewing ingevolge artikel 3(1) van die Wet op die Instel van Regsgedinge teen sekere Staatsorgane 40 van 2002 gegee het nie. Die LUR het ’n spesiale pleit geopper waarin beswaar aangeteken is teen die gebrek aan die statutêr vereiste kennisgewing aan die staat. Die hof van eerste instansie het saamgestem en die spesiale pleit gehandhaaf teen Goldfields. Op appèl het die volbank egter Goldfields van die statutêr vereiste kennisgewing vrygestel. Daar is bevind dat die skuldoorsaak nie ’n onregmatige daad was wat ’n vordering om skadevergoeding ten grondslag kan lê nie en die geskil gevolglik nie binne die bestek van die wet se definisie van ’n “skuld” val waarop die kennisgewingvereiste van toepassing is nie. Die hoogste hof van appèl het daardie bevinding van die volbank bevestig. Die appèlhof het beaam dat die skuldoorsaak saakwaarneming was waarop die actio negotiorum gestorum toepassing vind. As sodanig kan dit nie as ’n vordering vir skadevergoeding geklassifiseer word nie. In hierdie bespreking van die uitspraak word met die appèlhof saamgestem. Kennisgewing soos vereis ingevolge Wet 40 van 2002 was onnodig aangesien die skuldoorsaak nie ’n verwytbare onregmatige daad is soos bedoel in die wet nie. Dit word egter bevraagteken of die hof geregtig was om sonder meer te verklaar dat die skuldoorsaak saakwaarneming was. Die hof kon moontlik rede gehad het om te twyfel oor Goldfields se oogmerk toe hulle die pad herstel het. Is die herstel regtig ten gunste van die LUR gedoen, of was dit tot Goldfields se eie ekonomiese voordeel? In die lig van die feit dat Suid-Afrika tans swig onder swak dienslewering deur die staat, word uitgewys dat hierdie tipe eise, waar privaat individue herstelwerk aan staatseiendom (paaie, ens) verrig juis weens die staat se laksheid maar sonder ’n mandaat daarvoor deur die staat, meer gereeld voorkom. Dit blyk uit sake soos MEC v Goldfields, asook Agri Eastern Cape v MEC, asof die howe hiermee genoeë neem en die proses selfs probeer fasiliteer deur prosedurele maatstawwe daar te stel wat nagekom moet word, ten einde suksesvolle eise te verseker vir die onkostes aangegaan ten behoewe van die staat.