REGSPRAAK
Is racism a justifiable ground for a bank to terminate a bank-client contract?
Author: Loice Takaedza
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 617-628
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a10
Abstract
Die beëindiging van bank-kliënt-verhoudings bly ’n aktuele en relevante onderwerp ten spyte van die talle hofsake waarin dit duidelik gemaak is dat die verhouding kontraktueel van aard is en dat beide partye bevoeg is om die verhouding met kennisgewing te beëindig. Sodanige dispute word hoofsaaklik beïnvloed deur die belangrikheid van bankdienste in mense se ekonomiese en sosiale lewens, asook die gebrek aan toepaslike alternatiewe tot bankrekeninge. Ondanks die toename in finansiële tegnologie- (fintech-) maatskappye wat finansiële dienste aanbied, bly banke steeds sleutelrolspelers in die moderne finansiële sektor, met die bankrekening wat lank reeds as maatstaf vir finansiële insluiting dien. Om “ontbank” te word, wek ’n gevoel van paniek by die betrokke partye, wat aanleiding gee tot ’n toename in dispute waarin die beëindiging van die bank-kliënt-verhouding betwis word, veral waar die bank die inisiatief neem om die verhouding te beëindig. Hierdie bespreking handel oor ’n onlangse uitspraak in Namibië oor die beëindiging van ’n bankkliënt-kontrak en die relevansie daarvan vir die breër gesprek oor die sluiting van bankrekeninge. Dit belig ook op watter regverdigingsgronde ’n bank – wat in ’n sterker bedingingsposisie as kliënte staan – kan steun om die verhouding te beëindig. Sodanige regverdigingsgronde sluit situasies in waar ’n kliënt van die bank se personeel benadeel. Korporatiewe beheer vereis dat banke stappe doen om hul werknemers se welstand te beskerm en te bevorder. In dié verband kwalifiseer die optrede van ’n bankkliënt wat die waardigheid of veiligheid van personeel van die bank benadeel as ’n geldige grond vir die beëindiging van die bank-kliënt-kontrak. Die bespreking beklemtoon die rol en belang van kontraktuele beginsels in die bank-kliëntverhouding en die behoefte aan wedersydse respek tussen die partye. Dit ondersoek verder hoe die regsubjek wat daadwerklik die finansiële beheer oor ’n regspersoon uitoefen se optrede die regspersoon kan benadeel en waarom ook die natuurlike persone in daardie posisie moet verseker dat hul gedrag nie die entiteit negatief beïnvloed nie. Die bespreking sluit af deur aan te beveel dat beide Namibië en Suid-Afrika die reg op ’n basiese bankrekening moet erken, om so die toename in hofgedinge oor die sluiting van bankrekeninge te beperk en om te verseker dat selfs ongewenste persone minstens toegang tot ’n minimum bankdiens het. Dit herbevestig ook die belangrikheid daarvan om die bank-kliënt-kontrak binne die raamwerk van kontraktereg te hou, sodat beide partye op hierdie kontraktuele remedies kan steun in geval van kontrakbreuk of onbehoorlike optrede.