REGSPRAAK
A step in the right direction for the condonation of electronic wills
Author: JT Faber
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 602-616
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a9
Abstract
Tegnologie het die wyse waarop mense hul testamentêre wense weergee, ingrypend verander. In die Suid-Afrikaanse reg bly elektroniese testamente egter in ’n grys area, aangesien die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies 25 van 2002 nie op testamente van toepassing is nie en daar regtens geen raamwerk bestaan wat hul geldigheid reguleer nie. Teen hierdie agtergrond het artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953, die sogenaamde “kondonasiebepaling”, as ’n meganisme na vore getree waardeur howe ’n nienakoming van statutêre formaliteite kan verskoon. Deur sodanige kondonasie word die formaliteitsgebrek regtens oorkom en kan die betrokke dokument – insluitend ’n elektronies geskepte dokument – erken en regskrag aan verleen word. In Mokgoro v Master of the High Court, Kimberley (en die daaropvolgende aansoek om verlof tot appèl in Mmelesi v Mokgoro NO wat van die hand gewys is), het die hof vir die eerste keer die kondonasie van ’n egte elektroniese testament oorweeg – een wat volledig elektronies opgestel, verly en gestoor is. Die hof het voorts die regsimplikasies van die uitsluiting van testamente uit die regulerende raamwerk van Wet 25 van 2002 ondersoek ten einde te bepaal of sodanige uitsluiting ook ’n beperkende uitwerking op die werking van artikel 2(3) van die Wet op Testamente sou hê. Die hof bevestig dat artikel 2(3) van toepassing is op elektroniese dokumente en dat Wet 25 van 2002 nie die moontlikheid van kondonasie uitsluit nie. Alhoewel elektroniese verlyding nie aan die statutêre formaliteitsvereistes vir ’n geldige testament voldoen nie, het die hof ’n wye uitleg aan die begrip “verly” vir doeleindes van artikel 2(3) gegee en tot die slotsom gekom dat ’n testament wat elektronies onderteken is, wel as verly beskou kan word vir kondonasiedoeleindes. Die hof het bevind dat die aanbring van die elektroniese handtekening aan die verlydingsvereiste vir kondonasie voldoen. Hierdie benadering skep ’n belangrike presedent vir die toekomstige kondonasie van elektroniese testamente. Die uitspraak bied groter regsekerheid en verteenwoordig ’n betekenisvolle stap in die regte rigting na ’n meer tegnologies bewuste benadering – met klem op die testateur se bedoeling – in die Suid-Afrikaanse erfreg.