Locus standi in subrogation – once again

ARTIKEL

Locus standi in subrogation – once again

Author: Susan Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor Emeritus and Extraordinarius, Department of Private Law, UNISA
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 431-451
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a1

Abstract

’n Aantal onlangse uitsprake oor locus standi in die versekeringsreg regverdig ’n herwaardering van die aangeleentheid. Die kwessie wat aangespreek word, is die beginsel dat ’n versekeraar na skadeloosstelling van die versekerde in naam van die versekerde ’n eis kan instel teen die dader wat vir die skade verantwoordelik is. Die vroeëre uitsprake wat as gesag vir hierdie moontlikheid aangehaal word, word weer deeglik ondersoek. Die klem val op die feite van elke saak, die bindende krag van elkeen, die rol wat Engelse regsbeginsels in die verwarrende uitsprake speel, billikheid en die belangrikheid daarvan om regsbeginsels in ’n gees van helder denke onderskraag deur diepgaande kennis te benader. Die rol wat Engelse regsbeginsels speel in die aanvaarding van hierdie beginsel word ondersoek en die oorsprong van die beginsel word aangedui ten einde verdere verwarring te probeer voorkom. Uitsprake voor en na 2008 word ondersoek. Die skeiding word gemaak as gevolg van die belangrike uitspraak in Rand Mutual Assurance Co Ltd v Road Accident Fund (2008 6 SA 511 (HHA)). Laasgenoemde saak word as uitgangspunt geneem vir moontlike regshervorming, terwyl die uitspraak in Le Bonheur Wine Estate (Pty) Ltd v Stellenbosch Vineyards (Pty) Ltd (2025 5 SA 458 (WKK)) sterk gekritiseer word. Regshervorming word voorgestel in ooreenstemming met die posisie in Europese regstelsels. As uitgangspunt word die beslissing in die Rand Mutual-uitspraak gebruik waar die regter beslis het dat die versekeraar in eie naam aksie teen die derde mag instel, sonder om die basis vir hierdie reg aan te dui. Daar word voorgestel dat die knoop deurgehak moet word deur aan te dui dat ons by subrogasie met ’n ex lege oorgang van die versekerde se reg aan die versekeraar te doen het en nie met ’n oordrag soos by sessie nie. Die gevolge van die oorgang van die reg is soortgelyk aan die gevolge van sessie met sekere kontraktuele beperkings. Die versuim om die feite van sake behoorlik in ag te neem, verwaarlosing van die presedenteleer en die gebrek aan helder denke word uitgelig. Die neiging om erkende regsinstellings met verwysing na die grondwet sonder meer om ver te werp, word afgekeur.

Implied hearsay: a comparative view of Australian and South African law on the subject

ARTIKEL

Implied hearsay: a comparative view of Australian and South African law on the subject

Author: Wouter Le R De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 452-470
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a2

Abstract

Die fokus van die artikel is die regsposisie onderskeidelik in Australië en Suid-Afrika met betrekking tot die konsep geïmpliseerde hoorsê. Die kernvraag is of geïmpliseerde uitlatings buite die hof gedoen binne die omvang van die hoorsê omskrywing val en dus as ontoelaatbaar in die onderskeie jurisdiksies beskou word. Geïmpliseerde hoorsê behels getuienis omtrent ’n uitlating buite die hof gedoen wat aangebied word nie om te bewys wat uitdruklik gesê is nie, maar wel wat daaruit geïmpliseer kan word. Volgens die Engelse gemene bewysreg (“common law”), wat in beide Australië en Suid-Afrika ingevoer is, val geïmpliseerde hoorsê binne bestek van die hoorsê omskrywing en is dit dus ontoelaatbaar, behalwe as dit onder een van die uitsonderings op die hoorsêreël toegelaat kan word. Die gesag ter ondersteuning van die posisie is die welbekende beslissing van die privy council in Teper v R. Die rasionaal onderliggend aan die reël is dat beide uitdruklike en geïmpliseerde uitlatings buite die hof gedoen dieselfde risiko van onbetroubaarheid inhou. In Australië moet onderskei word tussen die state waar die Engelse “common law” nog geld en die jurisdiksies wat die Uniform Evidence Act aanvaar het. In die “common law”-stelsels word geïmpliseerde hoorsê ingesluit onder die hoorsê omskrywing en is dit in beginsel ontoelaatbaar. Die hoë hof (“high court”) beslissings in Walton v R, R v Benz en Pollitt v R dien as gesag in dié verband. In die jurisdiksies wat die Uniform Evidence Act aanvaar het, word geïmpliseerde hoorsê in beginsel uitgesluit van die hoorsê definisie maar die bewoording van die wetgewing is kompleks. In Suid-Afrika moet onderskei word tussen die voormalige gemenereg (“common law”) stelsel, wat tot 1988 gegeld het, en die statutêre skema wat in daardie jaar by wyse van wetgewing ingevoer is. Volgens die gemenereg was geïmpliseerde hoorsê ingesluit onder die hoorsê omskrywing en dit was in beginsel ontoelaatbaar. Die saak van S v Van Niekerk dien as gesag in die verband. Die wetgewing van 1988 het ’n drastiese breuk met die verlede meegebring. Dit het ’n nuwe definisie van hoorsê en ’n buigsamer skema vir die toelating van sodanige getuienis geskep. Die ou definisie, wat verklaringsgeoriënteerd was en gerig was op die vraag of die getuienis aangebied is om die waarheid van die verklaring te bewys, is vervang met ’n verklaarder-georiënteerde definisie wat die klem plaas op die vraag of die bewyswaarde van die getuienis afhang van die geloofwaardigheid van die verklaarder. Volgens die nuwe stelsel word geïmpliseerde hoorsê ook ingesluit onder die hoorsê omskrywing maar dit kan toegelaat word indien die hof dit in belang van geregtigheid ag. Ten slotte word in oorweging gegee dat die nuwe statutêre stelsel in Suid-Afrika groter voordele inhou as die “common law” bedeling wat voorheen in Suid-Afrika gegeld het en steeds in die “common law” jurisdiksies in Australië gehandhaaf word. Daar is weggedoen met die moeilike vraag of die nie-getuie se uitlating as die waarheid aangebied word en in die plek daarvan word gefokus op die geloofwaardigheid van die verklaarder, wat ’n makliker toets is. Verder is ’n soepeler skema vir die toelating van hoorsê, insluitende geïmpliseerde hoorsê, geskep.

The origins of the sustainability concept in space law

ARTIKEL

The origins of the sustainability concept in space law

Author: Theunis Kotzé

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg Research Centre for Private International Law in
Emerging Countries
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 484-498
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a3

Abstract

Enigeen wat gebeure in die Verenigde Nasies volg, sou opgemerk het dat die onderwerp van volhoubaarheid in die buitenste ruimte deesdae groot nuus is. Maar hoekom het volhoubaarheid dan so ’n drywer in ruimte-ontwikkeling geword? Tydens die Koue Oorlog was breë internasionale ooreenkoms oor globale ruimtebestuur makliker om te bereik en die Verenigde Nasies se Committee for the Peaceful Uses of Outer Space se vyf verdrae oor die buitenste ruim in ’n tydperk van net meer as ’n dekade het ruimtereg as ’n heeltemal nuwe vertakking van internasionale reg geskep. Alhoewel die Verenigde Nasies die konsep van volhoubare ontwikkeling op aarde al vir meer as vier dekades tydens ’n aantal wêreldwye topberade en fora aangespreek het, is die uitbreiding van die konsep van volhoubaarheid na die buitenste ruimte ’n meer onlangse ontwikkeling. Dit is genoodsaak deur die besef dat die aarde se wentelbaan-omgewing ’n beperkte hulpbron is wat deur ’n toenemende aantal akteurs gebruik word, insluitend state, internasionale organisasies, nie-regeringsorganisasies en privaat maatskappye. Navorsing dui aan dat die internasionale ruimtegemeenskap wel vroeg reeds bekommerd was oor probleme met die ruimte-omgewing tydens verkenning en van die behoefte om die ruimte-omgewing te beskerm. Alhoewel verskeie aspekte van die werk van hierdie Verenigde Nasies se komitee relevant was, soos die beskikking oor ruimtetuigrommel en monitering van ruimteweer, is hierdie onderwerpe in isolasie en in afsonderlike agendapunte aangespreek. Twee ernstige voorvalle in die ruimte na 2006, naamlik twee stelle toetse van anti-satelliet wapens en ’n botsing tussen die Iridium 33 en Cosmos 2251 satelliete, het toenemend bewustheid onder die multilaterale delegasies geskep. Tesame daarmee het beter navorsing oor die kwessies wat verband hou met langtermyn volhoubaarheid die bespreking oor hierdie konsep binne die komitee na 2007 bevorder. Dit het egter geblyk moeilik te wees om weer die roete van ’n internasionale verdrag te volg wat ’n fokus op sagte(r) regsriglyne en -standaarde genoodsaak het. Dit lei tot die 2007 Space Debris Mitigation Guidelines. Langtermyn volhoubaarheid van ruimte aktiwiteite is uiteindelik bevestig as ’n agendapunt onder ruimtevarende lande in multilaterale fora vanaf 2010. Dit is gedryf deur ’n besef dat indien almal net korttermyn belange oorweeg, die toekoms van ruimteverkenning en -gebruik ernstig benadeel sal word. In onlangse jare sou die werkgroep ooreenkom oor langtermyn volhoubaarheid van die ruimte ten aansien van 21 tendens-vernuwende riglyne en ’n polities betekenisvolle en konteksbepalende teks in die Long-term Sustainability of Outer Space Guidelines. Regsgeleerdes wat aktief in die vakgebied werksaam is, moet derhalwe in ag neem dat die onderwerp van volhoubare ontwikkeling in die buitenste ruimte toenemend die belangrikste gesprekspunt raak.

Beyond Steinhoff: ethical leadership, board independence and the future of corporate governance in South Africa

ARTIKEL

Beyond Steinhoff: ethical leadership, board independence and the future of corporate governance in South Africa

Author: CJ Van der Walt

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg and Director: Partnerships, Legal and Compliance, AstraZeneca UK
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 484-498
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a4

Abstract

Die artikel ondersoek die ontwikkeling en huidige stand van korporatiewe bestuur in Suid-Afrika, met spesifieke fokus op die Steinhoff-skandaal as ’n keerpunt wat diep sistemiese tekortkominge blootgelê het. Suid-Afrikaanse korporatiewe bestuur het oor die afgelope drie dekades betekenisvol ontwikkel, van los riglyne na ’n omvattende raamwerk wat etiese leierskap, strategiese toesig, verantwoordbaarheid en volhoubare waarde-skepping bevorder. Hierdie ontwikkeling is grootliks beliggaam in die Kingverslae (King I–IV) en die Maatskappywet van 2008. Ten spyte van hierdie robuuste regulatoriese raamwerk toon herhalende korporatiewe mislukkings, insluitend Steinhoff, VBS Mutual Bank, Tongaat Hulett en ander ’n duidelike gaping tussen formele regulering en praktiese toepassing. Die Steinhoff-ineenstorting het besonder ernstige tekortkominge in direksietoesig, onafhanklikheid, deursigtigheid en etiese leierskap uitgelig. Alhoewel Steinhoff op papier aan King III voldoen het, was die direksie se onafhanklikheid in die praktyk bevraagteken weens lang ampstermyne, persoonlike en finansiële bande, en ’n kultuur van lojaliteit eerder as kritiese uitdaging. Die artikel beklemtoon dat die kern van effektiewe korporatiewe bestuur lê in die kombinasie van etiese leierskap en werklike direksie-onafhanklikheid, soos vervat in King IV se beginsels. Etiese leierskap stel die “toon aan die bopunt”, bevorder integriteit, aanspreeklikheid en billikheid, en vereis openlike openbaarmaking en konsekwente dissiplinêre optrede. Onafhanklikheid van die direksie, beide formeel en gedragsmatig, stel direkteure in staat om bestuur effektief uit te daag en risiko’s, finansiële verslagdoening en verwanteparty-transaksies krities te beoordeel. Die Maatskappywet versterk hierdie raamwerk deur direkteure se fidusiêre pligte gedeeltelik te kodifiseer en persoonlike aanspreeklikheid vir oortredings te bepaal. Tog wys die Steinhoff-saak en daaropvolgende hofsake dat afdwinging en aandeelhouersremedies beperk bly. Ná Steinhoff is belangrike hervormings deur die JSE ingestel om direksiestrukture, openbaarmaking en oudittoesig te versterk. Ten slotte voer die artikel aan dat, sonder ’n werklike kulturele skuif na etiese leierskap, onafhanklike toesig en konsekwente afdwinging, selfs die beste bestuursraamwerke nie toekomstige mislukkings sal voorkom nie. Die lesse van Steinhoff bly dus krities vir die herstel van vertroue in Suid-Afrika se korporatiewe sektor.

Constitutional values and transformative constitutionalism in Ghana: comparative insights from South Africa and beyond

ARTIKEL

Constitutional values and transformative constitutionalism in Ghana: comparative insights from South Africa and beyond

Authors: Callistus Clarke Noyoru and Prince Obiri-Korang

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Doctoral Candidate, University of Ghana School of Law, Legon; Senior Research Fellow, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg; Senior Lecturer in Law, University of Ghana School of Law, Legon
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 499-527
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a5

Abstract

Hierdie artikel ondersoek die grondwetlike waardes wat die normatiewe grondslag vorm van die 1992 grondwet van die Republiek van Ghana en plaas dit binne ’n breër vergelykende en regsfilosofiese raamwerk. Die sentrale betoog is dat die grondwet, hoewel dit oorspronklik ontwerp is as ’n liberaledemokratiese handves om politieke stabiliteit, grondwetlike regering en die oppergesag van die reg te verseker, geleidelik ontwikkel het tot ’n instrument van transformerende konstitusionalisme. Hierdie ontwikkelende model beskou die grondwet nie bloot as ’n raamwerk vir magstoedeling nie, maar as ’n dinamiese werktuig vir morele vernuwing, sosiale geregtigheid en nasionale ontwikkeling. Deur ’n sistematiese vergelykende analise met Suid-Afrika se 1996 grondwet, sowel as met elemente uit die grondwetlike tradisies van die Verenigde State, Duitsland en Kanada, demonstreer die artikel hoe waardes soos menswaardigheid, gelykheid, vryheid, aanspreeklikheid en demokratiese regering die morele kern van moderne grondwetlike demokrasieë vorm. Spesifieke aandag word geskenk aan Suid-Afrika se leerstelling van transformerende grondwetlikheid, waar die grondwet doelbewus as ’n middel vir die regstelling van historiese ongelykhede en strukturele uitsluiting aangewend word. Hierdie ervaring bied belangrike normatiewe en institusionele lesse vir Ghana se eie grondwetlike ontwikkeling. Die bydrae ondersoek verder hoe hierdie waardes binne Ghana se grondwetlike bestel gemanifesteer word, met besondere fokus op die handves van regte, die direktiewe beginsels van staatsbeleid en die rol van die howe in grondwetlike interpretasie. Dit word aangetoon dat die hooggeregshof toenemend ’n doel en waardegebaseerde benadering volg, waarin die grondwet as ’n samehangende geheel gelees word en ontwikkelingsdoelwitte regsbetekenis verkry. Terselfdertyd word die spanning tussen grondwetlike ideaal en politieke praktyk belig, veral waar partypolitiek, institusionele afhanklikheid en beleidsdiskontinuïteit die verwesenliking van die grondwet se ontwikkelingsvisie belemmer. Die artikel sluit af deur te argumenteer dat die sukses van Ghana se transformerende konstitusionele projek uiteindelik afhang van die verdieping van ’n lewende grondwetlike kultuur, die versterking van institusionele integriteit en onafhanklikheid, en die bevordering van volhoubare burgerlike verantwoordelikheid. Die vergelykende analise bevestig dat grondwetlike waardes, indien konsekwent geïnternaliseer en toegepas, kragtige drywers van demokratiese konsolidasie, sosiale transformasie en volhoubare ontwikkeling kan wees.