ARTIKEL
Implied hearsay: a comparative view of Australian and South African law on the subject
Author: Wouter Le R De Vos
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 452-470
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a2
Abstract
Die fokus van die artikel is die regsposisie onderskeidelik in Australië en Suid-Afrika met betrekking tot die konsep geïmpliseerde hoorsê. Die kernvraag is of geïmpliseerde uitlatings buite die hof gedoen binne die omvang van die hoorsê omskrywing val en dus as ontoelaatbaar in die onderskeie jurisdiksies beskou word. Geïmpliseerde hoorsê behels getuienis omtrent ’n uitlating buite die hof gedoen wat aangebied word nie om te bewys wat uitdruklik gesê is nie, maar wel wat daaruit geïmpliseer kan word. Volgens die Engelse gemene bewysreg (“common law”), wat in beide Australië en Suid-Afrika ingevoer is, val geïmpliseerde hoorsê binne bestek van die hoorsê omskrywing en is dit dus ontoelaatbaar, behalwe as dit onder een van die uitsonderings op die hoorsêreël toegelaat kan word. Die gesag ter ondersteuning van die posisie is die welbekende beslissing van die privy council in Teper v R. Die rasionaal onderliggend aan die reël is dat beide uitdruklike en geïmpliseerde uitlatings buite die hof gedoen dieselfde risiko van onbetroubaarheid inhou. In Australië moet onderskei word tussen die state waar die Engelse “common law” nog geld en die jurisdiksies wat die Uniform Evidence Act aanvaar het. In die “common law”-stelsels word geïmpliseerde hoorsê ingesluit onder die hoorsê omskrywing en is dit in beginsel ontoelaatbaar. Die hoë hof (“high court”) beslissings in Walton v R, R v Benz en Pollitt v R dien as gesag in dié verband. In die jurisdiksies wat die Uniform Evidence Act aanvaar het, word geïmpliseerde hoorsê in beginsel uitgesluit van die hoorsê definisie maar die bewoording van die wetgewing is kompleks. In Suid-Afrika moet onderskei word tussen die voormalige gemenereg (“common law”) stelsel, wat tot 1988 gegeld het, en die statutêre skema wat in daardie jaar by wyse van wetgewing ingevoer is. Volgens die gemenereg was geïmpliseerde hoorsê ingesluit onder die hoorsê omskrywing en dit was in beginsel ontoelaatbaar. Die saak van S v Van Niekerk dien as gesag in die verband. Die wetgewing van 1988 het ’n drastiese breuk met die verlede meegebring. Dit het ’n nuwe definisie van hoorsê en ’n buigsamer skema vir die toelating van sodanige getuienis geskep. Die ou definisie, wat verklaringsgeoriënteerd was en gerig was op die vraag of die getuienis aangebied is om die waarheid van die verklaring te bewys, is vervang met ’n verklaarder-georiënteerde definisie wat die klem plaas op die vraag of die bewyswaarde van die getuienis afhang van die geloofwaardigheid van die verklaarder. Volgens die nuwe stelsel word geïmpliseerde hoorsê ook ingesluit onder die hoorsê omskrywing maar dit kan toegelaat word indien die hof dit in belang van geregtigheid ag. Ten slotte word in oorweging gegee dat die nuwe statutêre stelsel in Suid-Afrika groter voordele inhou as die “common law” bedeling wat voorheen in Suid-Afrika gegeld het en steeds in die “common law” jurisdiksies in Australië gehandhaaf word. Daar is weggedoen met die moeilike vraag of die nie-getuie se uitlating as die waarheid aangebied word en in die plek daarvan word gefokus op die geloofwaardigheid van die verklaarder, wat ’n makliker toets is. Verder is ’n soepeler skema vir die toelating van hoorsê, insluitende geïmpliseerde hoorsê, geskep.