REGSPRAAK

What is the position regarding double hearsay in the law of evidence? Case law on the subject; a legal representative’s duty regarding baseless actions

Author: Wouter Le R De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 839 – 848
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a11

Abstract

Die fokus in hierdie vonnisbespreking val op die konsep van dubbele hoorsê-getuienis. Twee vrae doen hulle voor in die verband. Eerstens, wat is dubbele hoorsê en tweedens kan sodanige getuienis ingevolge artikel 3(1)(c) van die Wysigingswet op die Bewysreg 45 van 1988 toegelaat word? Die onderhawige onderwerp geniet weinig, indien enige, aandag in die prominente handboeke oor die bewysreg, nóg hier te lande nóg in Australië. Zeffertt en Paizes The South African Law of Evidence (2017) is die enigste bron wat die konsep kortliks behandel, met verwysing na twee sake, wat hieronder bespreek word. Dubbele hoorsê, eenvoudig gestel, behels getuienis van ’n getuie (G) oor ’n verklaring buite die hof gedoen deur ’n niegetuie (X) wat laasgenoemde aan ’n ander nie-getuie (Y) buite die hof oorgedra het en wat laasgenoemde (Y) aan die getuie (G) oorvertel het. Byvoorbeeld, Andrew getuig dat David hom vertel het dat Caroline hom (David) meegedeel het dat Bryan sy (Andrew se) stilstaande motor gestamp het. Ryan v Hyatt Regency Cape Town, ’n onlangse saak waarin dubbele hoorsê onder oorweging gekom het, bied ’n goeie illustrasie van sodanige getuienis. Die eiseres, ’n bekende besigheidsvrou, het ’n eis op grond van laster teen die Hyatt Regency hotel in Kaapstad en ene Cornelius, ’n voertuigbestuurder in diens van die hotel, ingestel. Die enigste getuienis wat namens die eiseres in ’n aansoek om verstekvonnis teen Cornelius aangebied is, was haar eie getuienis. Sy het getuig dat Cornelius vir haar en haar moeder op die betrokke dag per motor na die La Colombe-restaurant in Constantia vir middagete geneem het. Na middagete het sy en haar moeder per taxi vertrek. Daarna het haar niggie, wat ook by die middagete was, haar gebel en gesê dat die deurwag by die restaurant haar (die niggie) meegedeel het dat Cornelius aan hom (die deurwag) gesê het dat die eiseres haar moeder op ’n beledigende wyse in die motor behandel het. Lede van die publiek in die onmiddellike omgewing het die opmerkings gehoor. Die hof het daarop gewys dat die bewyswaarde van die eiseres se getuienis hoofsaaklik afgehang het van die geloofwaardigheid van die deurwag, wat nie as ’n getuie geroep is nie. Dit was dus hoorsê en, meer spesifiek, dubbele hoorsê. Die hof het vervolgens oorweeg of die getuienis ingevolge die wysigingswet toegelaat kon word en tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie in belang van geregtigheid sou wees om dit te doen nie, omdat die getuienis op die kernpunt van die saak gerig was, naamlik of die eiseres belaster was. Daar word in oorweging gegee dat die hof se bevinding dat die getuienis dubbele hoorsê was en dat dit nie toegelaat kon word nie, korrek was. Die vonnisbespreking neem ook drie ander sake waar dubbele hoorsê ter sprake was, onder die loep. Die beslissing van die hoogste hof van appèl in Makhathini v Road Accident Fund is veral van belang omdat dit ’n goeie grondslag vir die hantering van dubbele hoorsê in die Suid-Afrikaanse reg bied. Die posisie, in ’n neutedop, is dat dubbele hoorsê nie in beginsel uitgesluit is van die wysigingswet se skema vir die toelating van hoorsê-getuienis nie. Maar aangesien dubbele hoorsê, per definisie, meer onbetroubaar as gewone hoorsê is, sal die howe dubbele hoorsê slegs in hoogs uitsonderlike gevalle toelaat. So ’n geval was die Makhathini-saak. ’n Vraag wat terloops aangespreek word, is wat die plig van ’n regsverteenwoordiger is wanneer sy of haar kliënt ’n saak met geen meriete nie voor ’n hof wil bring. Die Ryan-saak bied ’n goeie voorbeeld daarvan. Die plig van die regsverteenwoordiger teenoor die hof verg dat hy of sy behoort te weier om die kliënt se opdrag uit te voer. Die regsverteenwoordiger is ’n beampte van die hof en sy of haar plig teenoor die hof oortref sy of haar plig teenoor die kliënt in so ’n geval. Om met so ’n saak voort te gaan, sou die hof se kosbare tyd en bronne mors.