REGSPRAAK

Mining of mixed minerals – when African elephants fight, ask whether the minister has waved the flag

Author: PJ Badenhorst

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Nelson Mandela University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 822 – 839
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a10

Abstract

Mynbou van gemengde minerale vind plaas wanneer verskillende minerale wat binne dieselfde ertsliggaam voorkom, tesame ontgin word, of wanneer sekere minerale tesame met ander minerale ontgin moet word, terwyl die mynregte ten aansien van die betrokke minerale egter deur verskillende houers van mynregte gehou word. Beginsels van die gemenereg is van toepassing op die mynbou van gemengde minerale. Die beginsels van die gemenereg, soos geïdentifiseer deur Franklin en Kaplan (The Mining and Mineral Laws of South Africa) is deeglik deur die appèlhof oorweeg en uiteengesit in Trojan Exploration Co (Pty) Ltd v Rustenburg Platinum Mines Ltd (1996 4 SA 499 (A)). Die regsbeginsels van redelike uitoefening van mededingende mynregte en die verkryging van mede-eiendomsreg van gemengde minerale wat deur verskillende mynreghouers gehou word, is volledig deur die appèlhof uiteengesit. Anders as in die destydse selfregerende gebied van Lebowa, waar die plaas in die Trojan-saak geleë is, is die kwessie van gemengde mynontginning in die Republiek van Suid-Afrika sedert 1 Januarie 1992 deur artikel 5(3) van die Mineralewet 50 van 1991 aangespreek. Artikel 5(3) het bepaal dat ’n mynreghouer wat gemengde minerale ontgin en dit van die grond skei, eiendomsreg daarvan verkry indien dit onvermydelik was dat ’n ander mynreghouer se minerale terselfdertyd ontgin word. Artikel 5(3) het egter voorsiening gemaak vir ’n vergoedingseis weens die verlies van sodanige ander minerale. Die wetgewer het egter nie artikel 5(3) van die Mineralewet oorgedra of herhaal in die Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 van 2002 nie. Hierdie versuim of keuse van die wetgewer het die herlewing van die beginsels van die gemenereg, soos uiteengesit in die Trojan-saak, meegebring. In Platmin South Africa v Samancor Chrome (Pty) Ltd (2026 1 All SA 174 (GJ)) het die hof versuim om die regsbeginsels soos vervat in die Trojan-saak raak te sien of toe te pas. Die minister van minerale hulpbronne het in die Platmin-saak die probleem vererger deur gebruik te maak van artikel 102(1) van Wet 28 van 2002 om ’n mynreg te wysig ten einde verwante minerale in te sluit ten koste van ’n ander mynreghouer. In hierdie vonnisbespreking word aan die hand gedoen dat die beginsels in die Trojan-saak steeds in die onderhawige gevalle van toepassing bly ongeag of ’n mynreg deur die minister gewysig is om bykomende minerale in te sluit, al dan nie. Die wetgewer se voorgestelde wysigings aan artikel 102, insluitend die invoering van ’n omskrywing van “geassosieerde minerale” in die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne, 2025 (GK 6210 SK 52704 (20-05-2025)), word krities oorweeg. Die voor- en nadele van drie moontlike benaderings rondom die kwessie van mynbou van gemengde minerale, word oorweeg. Voorgestelde wetsbepalings wat noodsaaklik is om sowel die uitoefening van bevoegdhede deur houers van mynregte as die eiendomsreg van onafgeskeide en afgeskeide minerale te reguleer, word vir oorweging deur die wetgewer, aangetoon.