AANTEKENINGE
Subrogated litigation: the composite cause of action of the invisible litigant
Author: Albert Reinecke
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Attorney
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 810-821
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a9
Abstract
Hierdie bydrae ondersoek die ontwikkeling van gesubrogeerde litigasie in die Suid-Afrikaanse reg en voer aan dat die tradisionele voorstelling van subrogasie nie langer die hedendaagse prosedurele werklikheid volledig verklaar nie. Vir meer as ’n eeu is aanvaar dat ’n versekeraar wat sy versekerde skadeloos gestel het, slegs in die naam van die versekerde teen die dader kon optree. Hierdie benadering het sy oorsprong in die historiese Engelse praktyk en het hoofsaaklik ’n prosedurele funksie vervul deur ekonomiese pleitwerk te bevorder en die versekeringsverhouding buite die geding te hou. Die beslissings in Rand Mutual Assurance Co Ltd v Road Accident Fund en Le Bonheur Wine Estate (Pty) Ltd v Stellenbosch Vineyards (Pty) Ltd toon egter dat hierdie historiese prosedurele model in die lig van die grondwet ontwikkel het. Hoewel die substantiewe leerstuk van subrogasie onveranderd gebly het, het die prosedurele raamwerk waarbinne gesubrogeerde regte afgedwing word, verander. Die artikel voer aan dat die Le Bonheur-saak nie ’n nuwe skuldoorsaak of selfstandige reg ten gunste van die versekeraar geskep het nie. Die verweerder se aanspreeklikheid bly steeds uitsluitlik gegrond op die onderliggende bron van aanspreeklikheid, terwyl die versekeraar se reg op verhaal voortspruit uit die samehang tussen daardie aanspreeklikheid, die versekeringsooreenkoms en die regsgevolge van skadeloosstelling. Die bydrae beskryf hierdie samevoeging van juridiese feite as ’n saamgestelde skuldoorsaak. Daarmee word nie ’n nuwe substantiewe reg geskep nie, maar verduidelik waarom ’n versekeraar wat in eie naam litigeer, benewens die verweerder se aanspreeklikheid ook die juridiese feite moet bewys wat sy locus standi en reg op verhaal vestig. Voorts word aangevoer dat die historiese veronderstelling dat versekeraar en versekerde altyd ’n gemeenskaplike belang nastreef, nie meer in alle gevalle geld nie. Waar ’n versekerde ná skadeloosstelling ’n prosedurele standpunt inneem wat die versekeraar se verhaalreg verydel, bied estoppel ’n beginselmatige grondslag om sodanige inkonsekwente optrede te verhinder. Estoppel skep nie nuwe regte of brei subrogasie uit nie, maar verleen praktiese werking aan die leerstuk deur die versekeraar se prosedurele posisie te beskerm. Die bydrae sluit af met ’n kritiese bespreking van Scott se ontleding van die Le Bonheur-saak en voer aan dat die beslissing die historiese prosedurele fiksies van subrogasie blootlê eerder as om die substantiewe aard daarvan te verander.