Nature of rights, permission and permits to minerals under the Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 of 2002: a novel two-fold test?

Nature of rights, permission and permits to minerals under the Mineral and Petroleum Resources
Development Act 28 of 2002: a novel two-fold test?

Author: PJ Badenhorst

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Law, Deakin University, Australia; Honorary Professor of Law, Nelson Mandela University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 615 – 630
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a1

Abstract

In die Registrasie van Aktes Wet 47 van 1937 word ’n onderskeid getref tussen saaklike regte wat registreerbaar is in die aktesregister en persoonlike regte wat nie aldus registreerbaar is nie. Die wetgewer het nuwe kategorieë regte ten aansien van minerale in die Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 van 2002 geskep. Sodanige prospekteerregte en mynregte word as beperkte saaklike regte deur die wet aangemerk terwyl die aard van toestemmings en permitte ten aansien van minerale nie omskryf word nie. Die wet verg dat prospekteerregte en mynregte geregistreer moet word. Die Wet op die Registrasie van Myntitels 16 van 1967 maak voorsiening vir die registrasie van prospekteerregte en mynregte en die aantekening van toestemmings en permitte ten aansien van minerale. Die registrasie van regte in die akteskantoor is vergelykbaar met die registrasie van regte in die Minerale en Petroleum Titels Registrasiekantoor. Ten einde te bepaal of ’n reg ’n saaklike reg en dus registreerbaar is in die akteskantoor, maak die howe gebruik van ’n tweeledige toets, naamlik die subtraction from the dominium-toets en die bedoelingstoets.
Die subtraction from the dominium-toets word ook deur die howe en sommige akademici gebruik om te bevestig dat prospekteerregte en mynregte inderdaad saaklike regte is. Toestemmings en permitte ten aansien van minerale word by analogie, met ’n beroep op die subtraction from the dominium-toets, ook as saaklike regte beskou. Daar bestaan egter ook beskouings dat permitte en toestemmings eerder persoonlike regte of regte sui generis is, veral omdat die wet in verskeie opsigte self onderskei tussen regte ten aansien van minerale aan die een kant en permitte of toestemmings aan die ander kant.
In die artikel word betoog dat ’n vermindering van bevoegdhede ingevolge die subtraction from the dominium-toets nie regtig plaasvind indien regte, toestemmings en permitte toegeken of uitgereik word deur die staat nie. Voorts word betoog dat die toets nie gebruik kan word om die aard van regte, toestemmings of permitte te bepaal nie. Daar word voorgestel dat ’n alternatiewe toets, die sogenaamde subtraction from the imperium-toets gebruik word. Daar word verder aangetoon dat die staat uit hoofde van vermeende voogdyskap (of imperium) ingevolge die Mineral and Petroleum Resources Development Act oor ’n reeks bevoegdhede beskik. Wanneer regte, toestemmings of permitte ten aansien van minerale toegeken of uitgereik word, vind daar eerder ’n beperking van bevoegdhede van die staat se imperium as die eiendomsreg van die eienaar van die grond plaas. ’n Beperking van inhoudsbevoegdhede van die eienaar van die grond vind slegs plaas as byvoorbeeld ’n huurkontrak ten aansien van die grond met ’n mynboumaatskappy aangegaan word. Daar word ook aangetoon dat die bedoelingstoets nie suksesvol gebruik kan word om die aard van regte, permitte en toestemmings ten aansien van minerale te bepaal nie. Die tradisionele privaatregtelike eienskappe van saaklike regte en persoonlike regte word met redelike gemak toegepas op regte, toestemmings en permitte ten aansien van minerale.
Die toekenning van prospekteerregte en mynregte as ’n administratiewe handeling word ook kortliks bespreek om aan te toon dat sodanige toekenning slegs neerkom op ’n administratiewe vergunning om ’n notariële kontrak te sluit en te registreer (al is prospekteerders en myners statutêr daartoe verplig).
Met ander woorde, dit is bloot ’n vergunning om voort te kan gaan en om ’n saaklike reg te verkry. Daar word ook aangetoon dat tydens registrasie van prospekteerregte of mynregte sodanige administratiewe vergunning, wat nie ontginningsbevoegdhede tot inhoud het nie, nie omgetower word in ’n saaklike reg nie, net soos ’n persoonlike reg ingevolge ’n koopkontrak van grond kragtens geykte reg nie omgetower word in ’n saaklike reg tydens registrasie in die aktesregister nie.

Lessons to be learned from Only Fools: the protection of fictional characters, parody and pastiche

Lessons to be learned from Only Fools: the protection of fictional characters, parody and pastiche

Author: S Karjiker

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Anton Mostert Chair of Intellectual Property Law, Professor in Mercantile Law, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 631 – 646
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a2

Abstract

Die uitspraak in die Engelse saak Shazam Productions v Only Fools The Dining Experience (“Shazam-saak”) was in twee opsigte ’n grensverskuiwende kopiereg-uitspraak. Dit was die eerste keer dat kopieregbeskerming aan ’n fiksiekarakter onder Engelse reg erken is, en dat sodanige beskerming buite die werk waarin daardie karakter oorspronklik verskyn het, kon bestaan. Tweedens was dit moontlik die eerste keer dat die billike handeling-verwere van parodie en nabootsing teen ’n eis van kopieregskending deur ’n Engelse verhoorhof oorweeg is.
Die uitspraak is noemenswaardig aangesien ’n Suid-Afrikaanse hof tot op hede nog geen erkenning gegee het dat ’n fiksiekarakter ook kopieregbeskerming kan geniet nie. Daardie moontlikheid is nie oorweeg in Rapid Phase Entertainment CC v SABC nie. Die Shazam-saak bied verdere ondersteuning vir die geskiktheid van ’n fiksiekarakter vir kopieregbeskerming, onafhanklik van die werk waarin die karakter voorheen verskyn het. Daar word vertrou dat dit in die Suid-Afrikaanse reg erken sal word.
Die saak is ook om ’n ander rede leersaam, naamlik die voorgestelde invoering van die billike handeling-verwere van parodie en nabootsing, en ’n Amerikaanse-styl stelsel vir billike gebruik, in Suid-Afrikaanse kopieregwetgewing in die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Die Shazam-saak verskaf ’n paar nuttige kriteria vir die oorweging van daardie spesifieke verwere, en die toepaslikheid van die stelsel van billike gebruik.
Die Shazam-saak is egter nie bo kritiek verhewe nie. Dit lyk of die hof ’n arbitrêre onderskeid getref het deur bepaalde kopieregwerke as literêre werke of dramatiese werke te klassifiseer. Dit is te wyte aan die vreemdheid van Britse kopiereg, waarvolgens literêre werke en dramatiese werke onderling in verskillende kategorieë in die Britse outeursreg val. Hierdie uitgangspunt van die Britse kopieregwetgewing is beslis effe vreemd. Die Suid-Afrikaanse kopiereg is anders in hierdie verband.
Die hof het ook beslis dat, vir die toepassing van die billike handeling-verwere van parodie en nabootsing, dit nie ’n tweeledige toets behels nie. Eerstens, of die inbreukmakende gebruik vir die uitgesonderde doel is, en tweedens, of hierdie tot billike handeling van die werk aanleiding gee. Die hof het bevind dat die ondersoek een saamgestelde beoordeling is, naamlik of die dade waaroor gekla word (dit wil sê parodie of nabootsing) neerkom op billike handeling vir die spesifieke doel.
Daar word aangevoer dat dit nie korrek is nie. Verder word aangevoer dat dit nie nodig is vir ’n hof om direk, as ’n afsonderlike ondersoek, die drie stap-toets te oorweeg benewens ’n spesifieke billike handeling-uitsondering nie.

Governance failures in South African public higher education institutions – lessons to be learnt from company law

Governance failures in South African public higher education institutions – lessons to be learnt from company law

Authors: CJ Van der Walt and MK Havenga

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg; Emeritus Professor, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 647 – 659
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a3

Abstract

Sedert 1996 is die hoëronderwyslandskap talle kere deur die wetgewer ondersoek met die oog op verbetering. Die vernaamste wetgewing wat universiteite beheer, is die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997. Dié wetgewing is in vele opsigte merkwaardig. Die rede daarvoor is dat die rolspelers betrokke by hoër onderwys hard baklei het om hul eie belange voorop te stel toe die wetgewing ter tafel was. Op die einde is ’n spreekwoordelike pakt gevorm wat beoog het om drie ongedefinieerde en dikwels teenstrydige konsepte met mekaar te versoen, naamlik akademiese vryheid, institusionele outonomie en openbare verantwoordbaarheid. Waar die spilpunt tussen hierdie drie moet wees, was altyd in dispuut, maar op die einde is dit in ’n groot mate oorgelaat aan openbare universiteite om hulself te reguleer en te administreer. Daarenteen moet private hoëronderwysinstellings volgens die Maatskappywet geïnkorporeer word en moet voldoen aan die statutêre raamwerk geskep vir korporatiewe bestuur deur daardie wet.
Die geskiedenis het bewys dat die vertroue wat deur die wetgewer in die integriteit, eerlikheid en bekwaamheid van raads- en bestuurslede van openbare universiteite geplaas is, heeltemal misplaas was. Die ineenstorting van korporatiewe bestuur by talle van die 26 openbare universiteite speel in die openbare domein af, maar nog grootliks in die afwesigheid van regspraak om leiding te gee.
Die skrywers gee ’n oorsig van sommige van die ineenstortings van korporatiewe bestuur by openbare universiteite. Die oogmerk is om daaruit te identifiseer wat die knelpunte is wat aangespreek behoort te word. Die wetgewer het probeer om die situasie te beredder deur bestaande maatreëls te verskerp wat ineenstorting van korporatiewe bestuur by openbare universiteite aanspreek, en verdere maatreëls in te stel. Dit wat steeds in die openbare domein afspeel, bewys dat nie veel aan die saak verander het nie. Duidelik is ’n veel beter statutêre raamwerk nodig om die kernprobleem aan te spreek, naamlik die gebrek aan voldoende formele regsreëls om aanvaarbare praktyke van korporatiewe bestuur by openbare universiteite af te dwing.
Die skrywers doen aan die hand dat dit nie nodig is om die spreekwoordelike wiel te herontwerp nie. Die Maatskappywet bevat reeds ’n bloudruk wat as voorbeeld gebruik kan word vir ’n behoorlike regsraamwerk vir korporatiewe bestuur by openbare universiteite. Die skrywers verwys na bepaalde gevalle waarvoor daar aan die hand van bepalings van die Maatskappywet voorsiening gemaak kan word vir die regsposisie van raads- en bestuurslede van openbare universiteite. Hierdie maatreëls hou verband met die standaard wat verwag word van sodanige trustees van nasionale belange se gedrag ten einde klaarheid en verantwoordbaarheid te bewerkstellig, hul verpligting en aanspreeklikhede, hul vertrouens-, sorg- en vaardigheidsverpligtinge, hul aanspreeklikheid om as misdadigers verklaar te word, en hul gevolglike dwangmatige verwydering uit poste sou hul skuldig bevind word aan optrede wat nie met die beginsel van uberrima fides ooreenstem nie. Sodanige maatreëls sal verantwoordbaarheid, deursigtigheid en goeie korporatiewe bestuur van openbare universiteite bevorder.

Review of the new alternative dispute resolution process for tax disputes

Review of the new alternative dispute resolution process for tax disputes

Author: F Moosa

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in Mercantile and Labour Law, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 660 – 680
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a4

Abstract

Geskille tussen belastingbetalers en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ’n alledaagse gebeurtenis. Alternatiewe geskilbeslegting is in hierdie opsig ’n belangrike hulpmiddel. Dit is omdat belastinglitigasie, soos alle ander, tydrowend en duur is. Terwyl die Suid-Afrikaanse Inkomstediens egter op belastingbetalerskoste litigeer omdat sy koste gefinansier word uit belasting wat ingevorder word, litigeer belastingbetalers op eie koste met beperkte hulpbronne. In die praktyk skep dit onbillikheid: enersyds kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, vanweë sy toegang tot die openbare beurs, die koste van litigasie op enige vlak van die geregtelike hiërargie bekostig; aan die ander kant, as gevolg van finansiële beperkings, word toegang tot geregtigheid vir die meeste belastingbetalers deur appèltribunale en geregshowe ernstig beperk. Om hierdie rede is alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures van kritieke belang om toegang tot geregtigheid te verseker vir die meerderheid belastingbetalers wat in belastingdispute gewikkel is.
Hierdie artikel toon dat die nuwe reëls nie onafhlanklik nie maar in tandem met die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 werk: terwyl laasgenoemde alternatiewe geskilbeslegting as ’n moontlike meganisme vir die oplossing van betwiste kwessies in ’n hangende appèl erken, skryf die nuwe reëls die prosedures voor wat gevolg moet word wanneer hierdie proses ook al gekies word. Hierdie proses wat gevolg moet word, is nou verbind met die behoorlike funksionering van Suid-Afrika se belastingadministrasiestelsel en die bereiking van die doelwitte soos uiteengesit in artikel 2 van Wet 28 van 2011. Sodoende vestig hierdie artikel ’n rasionele verband tussen, aan die een kant, die doel waarvoor die magte aan die minister verleen is in artikel 103(2) gelees met artikel 257(1), en die uitoefening daarvan by wyse van die inwerkingtreding van die nuwe reëls wat verband hou met alternatiewe geskilbeslegting, aan die ander kant.
Die ontleding van die nuwe reëls in hierdie artikel toon egter dat, hoewel belastingbetalers ’n reg het om alternatiewe geskilbeslegting te versoek, hulle nie ’n reg het om deelname aan sodanige proses deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af te dwing nie. Dit ondermyn die doeltreffendheid van die alternatiewe geskilbeslegtingsmeganisme wat in wetgewing verorden is. Gevolglik word aanbeveel dat reël 13 gewysig word deur ’n bepaling by te voeg wat ’n reg verleen van die soort wat hier beoog word. Boonop toon hierdie artikel dat belastingbetalers ingevolge die nuwe reëls nie die reg het om redes te versoek vir ’n besluit deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ’n versoek om alternatiewe geskilbeslegting af te wys nie. As ’n remedie word aanbeveel dat ’n bepaling in die nuwe reëls ingevoeg word wat aan belastingbetalers ’n reg verleen om redes vir ’n besluit van hierdie aard te ontvang. Sodoende sal toegang tot onderhandeling en versoening onder die nuwe reëls meer sinvol en doeltreffend gemaak word. ’n Verdere voordeel van so ’n wysigingsbepaling sou wees dat dit die alternatiewe geskilbeslegtingsmeganisme in die nuwe reëls aansienlik meer belastingbetalergesentreerd in sy vooruitsigte sal maak as wat tans die geval is.

Aantekeninge: Review of the Sectional Titles Amendment Act 13 of 2022

Aantekeninge: Review of the Sectional Titles Amendment Act 13 of 2022

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 681 – 696
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a5

Abstract

Die Wysigingswet 13 van 2022 het op 5 Januarie 2023 in werking getree. Die belangrikste verandering het betrekking op die vergunning wat aan ontwikkelaars verleen word om hul bemarkingstrategie te verander indien die verkoop van deeltiteleenhede op grond van goedgekeurde bouplanne of selfs konsepbouplanne nie na wense verloop nie. Ontwikkelaars word ingevolge die wysigingswet toegelaat om die landmeter-generaal te nader vir die goedkeuring van deelplanne van onderverdeling van dele, die konsolidasie van dele, die uitbreiding van die vloeroppervlaktes van dele, die byvoeging van grond by die gemeenskaplike eiendom en die kansellasie van geregistreerde areas van uitsluitlike gebruik voordat die regspersoon tot stand kom met die oordrag van die eerste eenheid deur die ontwikkelaar aan die eerste koper. Dit kan bevraagteken word waarom die ontwikkelaar hierdie vergunning verleen word tot die totstandkoming van die regspersoon en nie slegs tot die registrasie van die deelplan en die opening van die deeltitelregister nie. Die bepalings wat die regsposisie reël indien dele reeds verkoop is voordat die aansoek gedoen word, is ook onbevredigend.
’n Unieke kenmerk van die wysigingswet is dat die meeste wysigings beoog om erkenning te verleen aan die twee statutêre beperkte saaklike regte wat ingevolge die Wet op Deeltitels geskep is, naamlik die reg op uitsluitlike gebruiksgebiede en die reg wat die ontwikkelaar kan voorbehou om die skema in fases te ontwikkel. Daarom word die landmeter-generaal byvoorbeeld verplig om nie slegs foutiewe deelplanne nie, maar ook deelplanne met foutiewe beskrywings van uitsluitlike gebruiksgebiede te verbeter; die registrateur word verplig om die verstryking van ’n voorbehoud ingevolge artikel 25 op die tersaaklike titelbewys te noteer; voorsiening word gemaak vir verhuring van ’n gedeelte van die gemeenskaplike eiendom met die instemming van die houers van die geregistreerde saaklike regte ingevolge artikels 25 en 27; en voorsiening word gemaak vir die kansellasie van ’n met-verband-beswaarde uitsluitlike gebruiksgebied of ’n ontwikkelingsreg wat ingevolge artikel 25 voorbehou is.
Minder belangrike wysigings is die onvanpaste verdere omskrywing van ’n uitsluitlike gebruiksgebied om voorsiening te maak vir regmatige okkupeerders om uitsluitlike gebruiksgebiede te gebruik; die wysiging wat die ontwikkelaar dwing om vrae van die agent van ’n afwesige huurder te beantwoord op die verpligte vergadering by die omskepping van huurgeboue in deeltitelskemas; en die wysiging van die lidmaatskap van die deeltitelregulasieraad.
’n Verblydende kenmerk van die wysigingswet is dat die Engelse weergawe van die wet vergesel is van ’n uitstekende Afrikaanse vertaling, iets wat tans selde gebeur.

Aantekeninge: An update of recent labour law developments from South African courts 2023

Aantekeninge: An update of recent labour law developments from South African courts 2023

Author: MJ Van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 696 – 734
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a6

Abstract

This contribution considers recent South African labour law cases from June 2022 to May 2023. It focuses on several decisions handed down by South African courts on various labour and employment law matters. The cases considered have the potential to provide labour law scholars with insights into the interpretation and application of legal principles relevant to labour and employment law. These cases involve novel legal issues or challenge existing legal principles. They may also include disputes with social or political implications. They may challenge existing social norms or legal structures and require legal scholars to rethink their understanding of these structures. It is foreseen that these cases can provide labour law scholars with a framework for understanding legal principles and the reasoning behind the court’s decision. Labour law cases are numerous, and it is virtually impossible for labour lawyers to be aware of all labour law developments.