ARTIKEL

From decentralisation to central control? School language policy, the Basic Education Laws Amendment Act 32 of 2024 and the meaning of “reasonably practicable”

Authors: Warren Johannes and Roxan Laubscher

ISSN: 1996-2207
Affiliations: CPostgraduate student UJ; Associate Professor of Public Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 712-727
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a5

Abstract

In hierdie artikel ondersoek die outeurs die debat oor taalregte in Suid-Afrika deur die interpretasie en toepassing van die maatstaf van “redelikerwys doenlik” in artikel 29(2) van die grondwet krities te ontleed. Artikel 29(2) waarborg die reg op onderwys in ’n amptelike taal van keuse by openbare onderwysinstellings waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Die inhoud en omvang van hierdie maatstaf het deur regspraak en wetgewende ontwikkeling ’n transformerende en soms omstrede betekenis aangeneem. Die artikel fokus in die besonder op die beheer van taalbeleid in openbare skole, met verwysing na Afrikaansmediumskole, wat dikwels die fokus is van regterlike inmenging en beleidsdebat. Teen hierdie agtergrond bevraagteken die outeurs die grondwetlike implikasies van uitgebreide staatsbeheer ingevolge die Wysigingswet op Basiese Onderwys van 2024, wat die outoriteit van provinsiale onderwysowerhede versterk ten opsigte van taal en toelatingsbeleid. Deur onlangse regspraak en wetgewende ontwikkelinge binne die normatiewe raamwerke van multikulturalisme en transformerende konstitusionalisme te plaas, ondersoek die outeurs die verskuiwende balans tussen gedesentraliseerde skoolbeheer en verhoogde sentrale staatsbeheer. Die outeurs bevraagteken of hierdie verskuiwing inderdaad ’n noodsaaklike meganisme van historiese regstelling en die bevordering van gelyke toegang verteenwoordig, en of dit nie eerder neerkom op ’n beperking van die outonomie van taalgemeenskappe en hul reg op kulturele selfbeskikking nie. Die outeurs voer aan dat die ontwikkelende konsep van “redelikerwys doenlik” nie net ’n tegnies administratiewe toets is nie, maar ’n normatief gelaaide standaard. Die toepassing van hierdie standaard weerspieël ’n voortdurende grondwetlike poging om die beskerming van taal en kultuurgemeenskappe te versoen met die noodsaaklikheid van rasse integrasie en die staat se positiewe verpligting om billike toegang tot basiese onderwys te verseker. Die outeurs stel voor dat die interpretasie van “redelikerwys doenlik” sentraal staan tot die toekomstige formaat van taalbeleid in Suid-Afrikaanse openbare skole en tot die breër projek van transformerende konstitusionalisme. Die grondwetlike vraag is nie of abstrakte desentralisasie of sentralisasie normatief verkieslik is nie. Die kernvraag is eerder of sentrale staatsbeheer wat deur hierdie wet teweeggebring is, die grondwetlike balans bevorder wat artikel 29(2) van die grondwet vereis, naamlik die versoening van taalkundige diversiteit, multikulturele erkenning en billike toegang tot kwaliteit basiese onderwys. Toekomstige regspraak sal waarskynlik verdere duidelikheid bring oor die inhoud van “redelikerwyse doenlikheid” binne die gewysigde wetgewende raamwerk. Spesifieke aandag behoort geskenk te word aan die wisselwerking tussen artikel 29(2) en ander grondwetlike taal- en kultuurregte; die omvang van provinsiale diskresie en die toepaslike standaard van geregtelike hersiening; die voortgesette marginalisering van inheemse Afrikatale; en die toepassing van hierdie standaard op Suid-Afrikaanse gebaretaal ná die grondwetlike erkenning daarvan as nóg ’n amptelike taal.