REGSPRAAK
A change to the United Kingdom’s approach to computer-implemented inventions
Author: S Karjiker
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 858 – 869
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a13
Abstract
Die onlangse beslissing van die Britse hooggeregshof in Emotional Perception AI Limited v Comptroller General of Patents, Designs and Trade Marks (2026 UKSC 3) is om verskeie redes belangrik. Eerstens het die saak kwessies van fundamentele belang geopper rakende die Verenigde Koninkryk se benadering tot rekenaar-geïmplementeerde uitvindings, met spesifieke verwysing na kunsmatige intelligensie . Dit het ’n potensieel belangrike aspek van die Verenigde Koninkryk se vorige benadering tot die beoordeling van die patenteerbaarheid van rekenaar-geïmplementeerde uitvindings gewysig. In die proses is daardie benadering in ooreenstemming gebring met dié van die Europese Patentekantoor (die “European Patent Office”) met betrekking tot die interpretasie van artikel 52(2) en (3) van die Europese Patentkonvensie. Die hof het bevind dat in die geval van rekenaar-geïmplementeerde uitvindings, ’n bykomstige stap tussen die beoordeling van die eerste vereiste vir patenteerbaarheid (dat daar ’n geskikte uitvinding is) en die tweede vereiste (die beoordeling van die vindingryke stap (“inventive step”)) moet plaasvind. Daar is ’n implisiete vereiste dat ’n uitvinding tegnies van aard moet wees. Die doel van hierdie tussenstap is om die kenmerke te identifiseer wat in ag geneem moet word by die bepaling of die uitvinding ten aansien waarvan op patenteerbaarheid aanspraak gemaak word, werklik vindingryk is. Verder, in die konteks van gebiede wat “as sodanig” van patenteerbaarheid uitgesluit is, het die hof duidelikheid verskaf oor wat ’n “rekenaar” en ’n “rekenaarprogram” vir hierdie doeleindes behels. In ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Wet op Patente 57 van 1978, definieer die Britse Wet op Patente 1977 ook nie hierdie begrippe nie. Die hof het bevind dat ’n rekenaar ’n toestel is wat inligting ontvang, verwerk en berekeninge uitvoer om ’n uitkoms te lewer. Dit kan ’n konvensionele digitale rekenaar wees (dws een met ’n sentrale verwerkingseenheid ofte wel “CPU”) of enige ander toestel wat daardie funksies kan verrig. Daarbenewens is ’n rekenaarprogram enige stel instruksies wat deur ’n rekenaar (ongeag die aard daarvan) uitgevoer kan word om data op ’n verlangde en voorafbepaalde wyse te verwerk. Tweedens, gegewe die ooreenkomste tussen artikel 52 van die Europese Patentkonvensie en artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Wet op Patente, bied die uitspraak ruimte as ’n moontlike benadering tot die beoordeling van rekenaar-geïmplementeerde uitvindings wat kunsmatige intelligensie behels. Hierdie benadering is veral relevant omdat die owerheid aangedui het dat dit van voornemens is om Suid-Afrika ’n ondersoekende jurisdiksie vir patentaansoeke te maak en nog geen erkende benadering in hierdie verband het nie. Derdens word patente selde in slegs een jurisdiksie vir registrasie ingedien. Gevolglik word daar van Suid-Afrikaanse patentpraktisyns verwag om op die hoogte te bly van die patentvereistes in sleuteljurisdiksies waarin hul kliënte waarskynlik ook beskerming sal soek.