REGSPRAAK
Admissibility of unconstitutionally obtained evidence in South African criminal trials
Author: Murdoch Watney
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 869 – 880
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a14
Abstract
Die toelaatbaarheid van getuienis wat verkry was deur middel van ’n gebrekkige visenteringslasbrief wat ingevolge artikel 21 van die Strafproseswet 51 van 1977 uitgereik was aan alle polisiebeamptes instede van aan die spesifiek by naam vermelde polisiebeamptes daarby betrokke én waarin die verkeerde deursoekingsadres vermeld was, het in Director of Public Prosecutions, Gauteng Division v Molefe (2026 1 SASV 557 (HHA)) te berde gekom. Hierdie bydrae bespreek die betrokke uitspraak en skenk kortliks aandag aan die historiese daarstelling van die Engelse bewysreg as bewysregsisteem hier te lande. ’n Regsvergelykende ondersoek word gedoen na die regsposisie in jurisdiksies verbonde aan die Anglo-Amerikaanse bewysregtelike familie, te wete die Verenigde State van Amerika, Engeland en Wallis, Australiё en Kanada. Die Amerikaanse uitsluitingsreёl word aangeraak en die insluitingsbenadering met variasies daarop soos aangetref in Engeland, Australiё en Kanada word bespreek. Klem word geplaas op die Kanadese benadering in die lig daarvan dat artikel 24(2) van die Kanadese handves van regte en vryhede as grondslag gebruik is vir artikel 35(5) van die Suid-Afrikaanse grondwet. Van belang in hierdie verband is twee uitsprake van die Kanadese hooggeregshof waarin gesaghebbend gestalte gegee is aan die toelaatbaarheidsvereistes vir ongrondwetlik verkreё getuienis ingevolge die Kanadese grondwet. In die Molefe-saak het die ondersoekbeampte ’n landdros genader vir die uitreiking van ’n visenteringslasbrief na aanleiding van inligting wat ontvang was dat dwelmmiddels vervaardig en versprei word vanaf ’n spesifieke perseel. Die besonderhede van die straatadres was deur die polisiebeampte deur middel van sy globale posisioneringstelsel (GPS) bepaal nadat hy die perseel persoonlik besoek het. Die verhoorhof beslis dat die dwelmvervaardigingsmateriaal sowel as die dwelms waarop beslag gelȇ is ingevolge daardie visenteringslasbrief, ontoelaatbaar was vanweё die gebrekkige lasbrief. Die hooggeregshof wys die staat se opvolgende appѐl van die hand. Die hoogste hof van appѐl beslis egter met verwysing na artikel 35(5) van die grondwet, dat die korrekte benadering behels dat bepaal moet word of die beskuldigdes gedwing was om die getuienis te verskaf. Getuienis verkry deur dwang of aanranding sal altyd ontoelaatbaar wees. Die hof wys verder daarop dat gekyk moet word na die erns van die inbreukmaking op die regte vervat in die handves van regte. ’n Flagrante en opsetlike minagting van daardie regte sal in ’n meer ernstige lig beskou word as ’n mindere of tegniese inbreukmaking. Die hoogste hof van appѐl bevind dat aangesien sowel die ondersoekbeampte as die landdros bona fide onbewus was van die vereiste gestel deur die konstitusionele hof dat ’n bepaalde lasbrief aan spesifieke polisiebeamptes uitgereik moet word en aangesien die korrekte adres steeds deursoek is ten spyte van die verkeerde GPS-gegewens, toelating van die getuienis nie die verhoor onbillik sou maak nie en ook nie nadelig sou wees vir die regspleging nie. Daar word kortliks verwys na die regspraak waarna in die Molefe-saak verwys is en die grondslag waarop die onderskeie howe beslissings oor die toelaatbaarheid al dan nie van ongrondwetlik verkreё getuienis bereik het. Kommer word laastens uitgespreek oor die herhaalde nalatige wyse waarop die polisiediens veral met die aansoek vir visenteringslasbriewe in ernstige kriminele sake omgaan.