ARTIKEL
Unlawful and illegal mining and the draft Mineral Resources Development Bill, 2025
Author: PJ Badenhorst
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Honorary Professor of Law, NMU
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 291-306
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a5
Abstract
Die probleme rondom onregmatige en onwettige mynbou binne die raamwerk van die Mineral and Petroleum Resources Development Act, 28 van 2002 (die hoofwet) is al vantevore bespreek. Die Mineral and Resources Development Bill, 2025 poog om sommige van hierdie probleme aan te spreek. Die vraag rondom eiendomsreg van minerale wat voorkom in die grond of afgeskeide minerale word steeds nie beantwoord nie en beginsels van die gemenereg moet steeds diens doen om die leemtes in die hoofwet aan te vul. Daar word in oorweging gegee dat die volgende beginsels in die hoofwet vervat behoort te word: (a) Eiendomsreg van minerale, wat voorkom in die grond, word gehou deur die eienaar van die grond (of die staat); (b) Die houer van ’n prospekteerreg, mynreg of mynpermit verkry eiendomsreg van minerale tydens die myn of skeiding van die minerale van die grond; (c) ’n Persoon wat minerale, wat voorkom in die grond, in stryd met artikel 5A van die hoofwet myn of skei, verkry nie eiendomsreg van sulke minerale nie; (d) Indien minerale in stryd met artikel 5A van die hoofwet van die grond gemyn of geskei word, verkry die staat eiendomsreg van afgeskeide minerale.
Die beoogde nuwe mynpermit (“artisanal mining permit”) word van naderby bekyk in die dampkring van pogings om onwettige myners te betrek in die raamwerk van die hoofwet. ’n Meer eenvoudige mynpermit, wat byvoorbeeld in Australië voorkom, word voorgehou as ’n beter oplossing om onwettige myners deel van die sisteem te maak. Daar word toegegee dat die omgewing, gesondheid en veiligheid van myners steeds beskerm moet word.
Die bepalings wat daarop gemik is om historiese mynhope (wat nie onderhewig is aan die bepalings van die hoofwet nie) onder beheer daarvan te bring, word krities beoordeel. Daar word daarop gewys dat die blote herhaling van die bepalings van ’n vorige wysigingswet, wat nooit inwerking gestel is nie, steeds problematies is. Daar word oorweging gegee dat, ingevolge die beslissing in Agri SA v Minister of Minerals and Energy (2013 4 SA 1 (KH)), die maatreëls wat daarop gemik is om historiese mynhope te betrek nie onteiening sonder vergoeding uitmaak nie. Dit is daaraan te wyte dat min of meer dieselfde werkswyse wat van toepassing was op ou orde regte in skedule II van die hoofwet, gevolg is. ’n Beter konstruksie sou egter gewees het indien eiendomsreg van historiese mynhope behou is en die eienaars die geleentheid gebied is om binne twee jaar die omvang van bestaande mynregte te vergroot of nuwe mynregte ten aansien van die historiese mynhope te verkry, indien die mynhope binne of buite ’n myngebied val. Slegs by versuim om aansoek te doen behoort die staat bewaarhouerskap (“custodianship”) oor sodanige historiese mynhope te vestig – maar steeds sonder beëindiging van eiendomsreg van sulke mynhope. Sodanige konstruksie vermy die moontlike juridiese verkryging van heerlose mynhope deur onwettige myners. Die korrekte omskrywing en uitbreiding van misdade in die hoofwet word verwelkom.