ARTIKEL
False paternity in South Africa: is it time to pay the piper?
Authors: Latiefa Manie and Carmel Jacobs
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, Department of Private Law, University of the Western Cape, South Africa; Senior Lecturer, Department of Private Law, University of the Western Cape, South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 276-290
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a4
Abstract
Verkeerd toegekende vaderskap en/of vaderskapsbedrog is geensins ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie. Ten minste vier gerapporteerde en ’n onbekende aantal ongerapporteerde sake van hierdie aard het reeds voor ons howe gedien. In EAP v SW ((A115/2025) 2025 ZAWCHC 540 (20 Nov 2025)) is pas na 25 jaar uitsluitsel oor die twyfelagtige vaderskap van die tersake kind gegee in die uitspraak van die volbank op appèl). In twee van die gerapporteerde gevalle is die eise om onderhoud van die hand gewys. Die aansoekers in die oorblywende twee sake, waar die waarheid ontdek is, was suksesvol om hul vermeende ouerlike verantwoordelikhede en pligte jeens die andermanskind te beëindig. Hierdie regspraak stuur teenstrydige boodskappe uit. Dit is nou onseker of ’n persoon wat as gevolg van bedrog deur ander (die biologiese vader en moeder) foutiewelik as die wettige vader aangemerk was, geregtig is op ’n remedie, en indien wel, wat die aard daarvan sou behels. Anders as in die verlede is daar danksy moderne DNS-toetse (DesoxyriboNucleïneSuur) die moontlikheid om bó redelike twyfel wél die vaderskapsverband met ’n bepaalde kind vas te stel. Daar is geen regverdiging vir enige hof om steeds slegs steunend op die vermoede pater est quem nuptiae demonstrant (D 2 4 5) in betwyfelde gevalle te beslis asof dié vermoede onweerlegbaar is nie. (DDC-vaderskapstoetse is byvoorbeeld in Duitsland, België, Nederland en Switserland selfs oor die pos beskikbaar teen €169 én is regtens as hoogs betroubaar erken met voldoening aan die ISO 17025 norme.)
Ons ondersoek die bestaande regsraamwerk rakende vals vaderskapseise in Suid Afrika en evalueer of die huidige wetgewing bevredigend is. Tot nou toe het mans wat suksesvol was om te bewys dat hulle op bedrieglike wyse gedwing is om pligte as vaders na te kom probeer om vergoeding te vorder deur middel van die condictio indebiti en eise vir wanvoorstelling. Ongelukkig was sodanige eise vir die verhaal van verkeerdelik betaalde onderhoud tot dusver meestal onsuksesvol. Dit is gedoen omdat dit alles vermeend “in die beste belange van die kind” is, maar dit is ten koste van die skynvader. In die bestaande regspraak is grootliks gefokus op die versuim van mans om hul vaderskap vroeër te ontken asof hulle aanspreeklik was en asof daar ’n verjaringsbeperking was om vaderskap te ontken terwyl die onjuistheid van die toegedigde vaderskap nog nie tot die skynvader se kennis gekom het en die verjaringstermyn nog nie ’n aanvang geneem het nie.
Die moeder aan die ander kant, het tot dusver grotendeels ongeskonde daarvan afgekom. Pogings is aangewend om haar gedrag te regverdig, terwyl die kollig op die skynvader wat ook die slagoffer is, geplaas word. Die howe was huiwerig om sulke eise te erken, aangesien dit “’n andersins liefdevolle en sorgsame ouerlike verhouding met ’n kind” kan vernietig, wat die kind se aanspraak op familie en ouerlike sorg kragtens artikel 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, sou skend.
Hierdie status quo word gekenmerk deur die kind se belange te prioriseer en die vrou se afkeurenswaardige gedrag te ignoreer, terwyl ’n man wat weier om ’n verhouding met die kind te handhaaf of die kind finansieel te ondersteun, verag word en sy belange oor die hoof gesien word. Ons kom tot die gevolgtrekking dat regsontwikkeling op hierdie terrein dringend noodsaaklik is, sodat die moeder uiteindelik aanspreeklik gehou kan word vir die gevolge van haar optrede. Dit behoort op so ’n wyse gedoen te word dat dit regverdigheid bevorder sonder om verdere nadeel vir die betrokke kind te berokken.