To hold or postpone? African states’ obligations in the context of elections during a pandemic

Author: L Chenwi

ISSN: 1996-2207
Affiliations:Professor of Law, University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2022, p. 265-282

Abstract

Verkiesings is ’n noodsaaklike deel van die Afrika-politiek en noodsaaklik vir die bevordering van demokrasie op die vasteland. Gevolglik beskerm streeksverdragreg (sowel as toepaslike internasionale standaarde) die reg om deur verkiesings aan die regering deel te neem, en daar is ook gepaardgaande verpligtinge wat state opgelê word. Verkiesings in Afrika kom egter voor verskeie uitdagings te staan en die Covid-19-pandemie het die situasie vererger. Wêreldwyd is state blootgestel aan en/of is gekonfronteer met die druk om óf die geskeduleerde verkiesings uit te stel óf om die verkiesings te hou, elk met sy eie uitdagings. Hoewel die besluit by die laas verkose regering van iedere staat berus om verkiesings tydens ’n pandemie te hou of uit te stel, word die besluit ook deur die Afrikastreeksverdragreg gereguleer. Dit is onlangs deur die Afrika hof vir menseregte (African court on human and peoples’ rights) bevestig. In hierdie bydrae oorweeg die outeur die verpligtinge van Afrika-state, soos vervat in die verdragsreg en bevestig deur die Afrika hof vir menseregte, in die konteks van verkiesings tydens ’n pandemie. Eerstens word die regserkenning en inhoud van die reg om vrylik aan die regering deel te neem deur verkiesings daargestel, met verwysing na ’n paar toepaslike standaarde van die Verenigde Nasies en ook Afrika-streekstandaarde. Tweedens word – en hier word swaar gesteun op die adviese (“advisory opinions”) van die Afrika hof vir menseregte oor die onderwerp – Afrika-state se verpligtinge oorweeg in die konteks van wanneer ’n besluit geneem word om verkiesings tydens ’n pandemie uit te stel of te hou, wanneer verkiesings tydens ’n pandemie gehou word, en in die konteks van die uitstel van verkiesings op grond van ’n pandemie. ’n Behoorlike begrip van state se verpligtinge is belangrik ten einde te verseker dat die hou van verkiesings tydens Covid-19 en die besluitneming oor die uitstel daarvan aan toepaslike regstandaarde voldoen. Die besluite wat in die verband geneem word mag nie inbreuk maak op toepaslike menseregte nie en ook nie die oppergesag van die reg in gevaar stel nie. Sodoende moet verseker word dat die onderliggende beginsels van die demokrasie en ook die verkiesingsintegriteit nie ondermyn word nie. Ook Afrika-state wat hul beroep op ’n demokratiese staatsbestel het ’n verpligting om gereeld verkiesings te hou. Tydens ’n pandemie moet toepaslike maatreëls getref word om die toepaslike menseregte te beskerm sonder om die integriteit van die verkiesing te ondermyn. Aangesien die uitstel van verkiesings neerkom op ’n opskorting van die reg van burgers om deur verkiesings aan die regering deel te neem, moet daar aan die vereistes van die internasionale reg insake menseregte voldoen word alvorens sodanige regte beperk mag word. Die besluit kan ook nie ter elfder ure deur die laas verkose regering van wie die mandaat om te regeer juis uitloop, geneem word sonder die toestemming van die meerderheid ander politieke akteurs nie.