Big data and the paradigmatic shift from passive insurer towards risk personalisation

Author: S Huneberg and K Berry

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, Department of Mercantile Law, University of Johannesburg; Attorney, Regulatory Manager. This study has also been submitted in partial fulfilment of the degree LLM in Commercial Law at the University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2022, p. 283-309

Abstract

“Groot data” gaan ’n merkbare impak op die versekeringsindustrie hê. Tradisionele versekering gaan merkbare veranderinge ondergaan as gevolg van die hoeveelheid inligting wat versekeraars nou tot hul beskikking het. Voorheen kon versekeraars grotendeels ’n passiewe rol in die voor-kontraktuele stadium van versekeringskontrakte speel. Polishouers het privaatheid geniet totdat al die nodige inligting om hul risiko te bepaal aan die versekeraar bekend gemaak is. Versekeraars se verhoogde toegang tot data gaan egter hierdie posisie drasties verander. “Groot data” mag lei tot die verpersoonliking van versekeringsdekking en meer billike risikobepaling vir voornemende polishouers. Die effek van “groot data” word in hierdie bydrae gedurende die verskeie stadiums van die versekeringsproduk se lewensiklus beoordeel. Vanaf bemarking en advertering, tot produkadvies, verkope en die bestuur van versekeringseise en klagtes – die effek wat “groot data” op elkeen van hierdie stadiums het, sal geanaliseer word. Die outeurs oorweeg met hierdie bydrae die effek wat “groot data” moontlik op die berekening van premies, die bepaling van die risiko van voornemende polishouers, sowel as openbaringsplig van die partye kan hê. Hierdie versekeringsaangeleenthede behoort beslis veranderinge te ondergaan as gevolg van die digitalisering van die industrie. As gevolg van die ontwikkelinge wat in hierdie verband in die Verenigde Koninkryk plaasvind, word die posisie in hierdie jurisdiksie ook oorweeg. Die voordele van “groot data” en data analise sluit in die verpersoonliking van versekeringsdekking, groter toeganklikheid en bekostigbaarheid (veral ten aansien van voorheen gemarginaliseerde individue en entiteite), verlaging van risiko en meer effektiewe hantering van versekeringseise. Hoewel “groot data” die manier waarop versekeraars besigheid doen verander, bestaan daar steeds ’n leemte in die reg. Die reg moet dus aanpas by veranderende omstandighede, veral om te verseker dat polishouers regverdig behandel word en dat toegang tot “groot data” nie deur versekeraars misbruik word nie. Daarom sal groot data ’n aansienlike rol speel in die versekeringsbedryf en kan nie geïgnoreer word nie. Hierdie artikel sal begin met die konseptualisering van groot data en die rol van groot data oorweeg deur die verskillende produk lewensiklus fases, en sal finaal geëvalueer word om vas te stel of regshervorming wel noodsaaklik sal wees in die lig van hierdie monumentale ontwikkelings.