ARTIKEL

Sustainability in space law development

Author: Theunis Kotzé

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg Research Centre for Private International Law in Emerging Countries
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 662-674
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a2

Abstract

Die vorige artikel (2026 TSAR 471) sit die ontwikkeling uiteen van die konsep van volhoubare ontwikkeling deur die Verenigde Nasies en meer spesifiek die Komitee vir Vreedsame Gebruike van die Buitenste Ruimte (United Nations Committee for the Peaceful Uses of Outer Space of UNCOPUOS) wat in Wenen gesetel is en konsentreer op die regulering van siviele buitenste ruimte-aspekte en -aktiwiteite. Hierdie bydrae ontleed hoe die begrip volhoubare ontwikkeling toegepas word op die ruimtereg en -reëls. Alhoewel volhoubare ontwikkeling nou ’n prioriteit op die sakelys is, het dit eers in moderne tye tot ’n belangrike kwessie ontwikkel en die Verenigde Nasies se verdrae op ruimte-aktiwiteite bied min direkte bewys van die beskerming van die buitenste ruimte. Dit was geen prioriteit tydens die aanvanklike ontwikkelingsfase van ruimtereg en -beleid nie aangesien volhoubare ontwikkeling as ’n regskonsep nog nie ontwikkel het nie. Gelukkig is ruimtereg deur middel van internasionale reg self aan die konsep van langtermyn volhoubaarheid verbind sodat geargumenteer kan word dat selfs sonder direkte verwysing sommige ruimteverdrae hierdie konsep meer of minder insluit. Alhoewel ruimtereg deur sommige as van min nut beskou word in die omgewingsbestuur van buitenste ruimte-aktiwiteite, kan algemene internasionale reg via onder andere die beginsels van internasionale omgewingsreg onreëlmatige leemtes vul indien ruimtereg self nie oplossings kan bied nie. Hierdie artikel ontleed hoe die konsep van volhoubaarheid in die buitenste ruimte nie net in die vyf buitenste ruimteverdrae geïdentifiseer is nie, maar ook in die beginsels wat deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aangeneem is (direkte televisie-satelliet uitsendings, toepaslike regsbeginsels op ruimtereg, observasie vanaf die buitenste ruimte, gebruik van kernkragbronne in die buitenste ruimte, en voordele van buitenste ruimte aktiwiteite), die werk van die Internasionale Telekommunikasie Unie (omgewingsbeskerming van wentelbane, en voordele vir ontwikkelende lande), en in ander UNCOPUOS standaard-skeppende riglyne (vermindering van ruimterommel en die langtermyn volhoubaarheid van buitenste ruimte-aktiwiteite). Duidelik is die konsep van volhoubaarheid in die buitenste ruim nou hier om te bly. Die ruimtereg en regulasies wat in hierdie artikel bespreek word, sal toenemend relevant raak vir enige regsgeleerde wat belangstel in hierdie nis maar fassinerende spesialisveld.