Blind SA v President of the Republic of South Africa (CCT 300/24) 2025 ZACC 9 : A necessary reform of copyright law, but did the constitutional court overreach?

REGSPRAAK

Blind SA v President of the Republic of South Africa (CCT 300/24) 2025 ZACC 9 : A necessary reform of copyright law, but did the constitutional court overreach?

Authors: O Dean and A Myburgh

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch; Attorney of the High Court of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 876-885
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a12

Abstract

Na ’n onbetwiste aansoek deur die nie-regeringsorganisasie Blind SA, het die konstitusionele hof beveel dat persone met gestremdhede toegang tot werke onderworpe aan kopiereg verleen word deurdat die kopiereguitsondering in artikel 19D in die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, B13F van 2017, in die Wet op Outeursreg 98 van 1978, ingelees moet word tot tyd en wyl die wet gewysig word om sy ongrondwetlikheid bevind in Blind SA v Minister of Trade, Industry and Competition ((CCT 320/21) 2022 ZACC 33 (21 Sept 2022)) aan te spreek. Intussen was verskeie ander bepalings van die wetsontwerp voor die hof na ’n verwysing deur die president ingevolge artikel 79(4) van die grondwet oor besorgdhede oor hul grondwetlikheid.
Die hof het sy bevel motiveer op grond daarvan dat die parlement reeds artikel 19D aangeneem het en dat dit Suid-Afrika in ’n voordelige posisie sou plaas indien die land sou toetree tot die Verdrag van Marrakesj tot bevordering van die toegang tot gepubliseerde werke vir persone wat blind of visueel gestremd is of andersins ’n leesgestremdheid het.
Alhoewel daar geen dispuut is oor die noodsaaklikheid van hierdie hervorming nie, is die bevinding van ongrondwetlikheid in die Blind SA-saak van krag, en in die onderhawige saak het die hof se inlees van ’n uitsondering teen ’n reël wat in effek nie meer bestaan nie, ’n anomalie tot gevolg. Verder oorskry die bepalings van artikel 19D die vereistes en toegewings vervat in die Verdrag van Marrakesj.
Indien die hof die ander bepalings in die wetsontwerp ongrondwetlik sou bevind, sal die wetsontwerp na die parlement teruggestuur word, wat hierdie anomaliese situasie sal laat voortduur. Die uitvoerende gesag moet die proses dat Suid-Afrika tot die Verdrag van Marrakesj toetree, aan die gang sit en, indien die wetsontwerp wel na die parlement terugverwys word, moet dit ’n nuwe wetsontwerp by die parlement indien om die uitsondering te skep wat aan die vereistes van die Verdrag van Marrakesj voldoen.

Private defence or necessity? The quaint case of the absconding taxi driver

REGSPRAAK

Private defence or necessity? The quaint case of the absconding taxi driver

Author: J Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 885-900
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a13

Abstract

Dit staan soos ’n paal bo water dat die norme ons deliktereg – ’n afdeling van die privaatreg wat besonder dikwels in regspraak weerspieël word – so stewig deur talle hofuitsprake gevestig is en deur akademici in handboeke deurtrap is dat die grondbeginsels daarvan, met geringe uitsonderinge, vasstaan. Daar sal gepoog word om aan te toon dat die hof in die saak onder bespreking gevestigde beginsels geïgnoreer het deur die verweer van ’n persoon wat teen ’n onregmatige aanvaller opgetree het en laasgenoemde daardeur benadeel het, as een van noodtoestand in plaas van noodweer te behandel.
Die feite het soos volg daar uitgesien: M, ’n veiligheidswag, het vermoed dat die eiser wat met sy taxi die terrein waaroor M toesig gehou het, wou verlaat, ’n gesteelde noodwiel in sy voertuig gehad het. M het die toegangshek toegestoot toe die taxi daardeur wou beweeg en die eiser (bestuurder) vervolgens gevra om dit te deursoek. Toe laasgenoemde hom ignoreer, het M die skuifdeur van die voertuig self oopgemaak en dit bestyg. Terwyl hy nog staande agter die bestuurdersitplek was, het die eiser skielik wild weggetrek, die kantspieël en skuifdeur teen ’n hekpaal afgery en teen hoë spoed voortgesnel terwyl hy sy voertuig heen en weer geswaai het in ’n poging om M by die deur te laat uitval. M se pleidooie dat hy moes stilhou, is in die wind geslaan en M het vir sy lewe gevrees. Daarop het M sy dienspistool aan die eiser getoon en uiteindelik ’n skoot deur die oop deur afgetrek, sonder enige effek. Ten einde raad het M die eiser toe in die been verwond, wat laasgenoemde gedwing het om sy voertuig tot stilstand te bring. Daarop het die eiser op grond van sy beserings in die streekhof vergoeding van M se werkgewer gevorder. Sy vordering is van die hand gewys omdat die landdros beslis het dat M in noodtoestand opgetree het, ofskoon laasgenoemde die regverdigingsgrond van noodweer gepleit het. Die eiser se appèl na die hooggeregshof het misluk, omdat die hof dit eens was met die streeklanddros se bevinding dat noodtoestand die toepaslike regverdigingsgrond was.
Daar word aan die hand gedoen dat die feitestel geen voorbeeld van die verweer van noodtoestand weerspieël nie, dog een van noodweer (soos inderdaad aanvanklik namens M gepleit). Die hoofkenmerk van ’n noodweershandeling, te wete ’n onregmatige aanval deur die eiser op M, was duidelik hier aanwesig, terwyl die hoofkenmerk van ’n noodtoestandshandeling, naamlik dat die benadeelde ’n onbetrokke (onskuldige) derde moet wees, afwesig was. Hierdie kenmerke word wyd in die regspraak en handboeke weergegee. ’n Aansienlike gedeelte van die uitspraak – waarin die hof aangedui het waarom die landdros nie fouteer het nie deur die uitspraak volgens die beginsels van noodtoestand te lewer, ofskoon die verweerder noodweer gepleit het – was dus streng gesproke onnodig.
Nieteenstaande die hof se verwarring betreffende die aanwending van die korrekte regverdigings-grond, is die bevinding te verwelkom dat M se handeling regmatig was en die eiser derhalwe in sy vordering moes misluk. Dit ly geen twyfel nie dat M se gedrag ingevolge die boni mores (ofte wel die regsoortuiging van die gemeenskap) – die erkende toets vir onregmatigheid – redelik en derhalwe regmatig was.

M Stiglingh (editor), AD Koekemoer, L van Heerden, JS Wilcocks and P van der Zwan: Silke: South African Income Tax 2025

BOEKBESPREKINGS

M Stiglingh (editor), AD Koekemoer, L van Heerden, JS Wilcocks and P van der Zwan: Silke: South African Income Tax 2025

Author: C Keulder

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 908-910
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a15

Abstract

None

The structure of parking in sectional titles schemes

ARTIKEL

The structure of parking in sectional titles schemes

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Fellow, Department of Private Law, University of Stellenbosch, Emeritus Professor in Civil Law, University of Aberdeen and the Law Faculty, University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 439-453
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a1

Abstract

Parkering in deelskemas is dikwels ’n omstrede, netelige en verwarrende saak. Die aanhou van twee of meer motors en dikwels groter voertuie, veroorsaak dat huidige deeltitelskemas nie voldoende ruimte het om die aanvraag na parkeerplekke te bevredig nie. Dit veroorsaak chaos en dwing trustees om informele parkeerreëlings te tref sonder inagneming van toepaslike wetgewing en die ooreenstemmende regulasies.
Parkeerplekke en gemeenskaplike motorhuise kan slegs op nege maniere wettig gestruktureer word. Parkering vir motors op parkeerstaanplekke of in motorhuise kan as gedeeltes van dele, individuele dele of as geregistreerde uitsluitlike gebruiksgebiede gestruktureer word deur dieselfde nommer, individuele nommers of unieke nommers soos P1 en P2 op die deelplan aan te toon. Verder kan dit gestruktureer word as geverfde parkeerplekke op die gemeenskaplike eiendom waar die stelreël eerste kom, eerste maal geld, of as uitsluitlike gebruiksgebiede wat op gedragsreëls gebaseer is. Nog verder kan staanplekke vir voertuie ingevolge ’n spesiale besluit of ingevolge ’n eenparige besluit én toewysing deur die eienaars as huurkontrakte van tot tien jaar of langtermynhuurkontrakte van meer as tien jaar gestruktureer word. Nogeens kan parkering gestruktureer word as grondserwitute ten gunste van buureienaars as vergoeding vir die verslapping van soneringsvereistes. Ten slotte kan parkering deur skriftelike trusteegoedkeuring, gewoonlik in noodgevalle, ingevolge skemagedragsreëls gestruktureer word as tydelike parkering.
Voorbeelde van meer omvattende regulering van parkering in die skemagedragsreëls is die vasklamping en wegsleep van voertuie wat onwettiglik geparkeer is en die verbod op die drup van olie op ’n parkeerplek of die aftakeling van voertuie in ’n motorhuis. Verder reguleer verskeie gedragsreëls die spoedgrens, en die hinderlike gebruik van toeters en die speel van harde musiek in staande voertuie op die perseel wat ’n oorlas daarstel. Ten slotte bepaal die gedragsreëls dat geen persoon in enige voertuig, of in ’n motorhuis of parkeerplek mag woon of slaap nie of dat ’n motorhuis as ’n slaapplek vir huispersoneel gebruik mag word nie.
Behalwe Kaapstad se Munisipale Beplanningsverordening van 2015 wat die minimum aantal besoekerparkeerplekke in deeltitelskemas bepaal, bepaal slegs een skemagedragsreël dat ’n eienaar of okkupeerder behalwe in ’n noodgeval, geen besoeker mag toelaat om ’n ander parkeerplek as ’n besoekerparkeerplek vir ’n bepaalde tyd te gebruik nie, sonder om besoekerparkeerplekke verder te reguleer.
Daarom word besoekerparkeerplekke dikwels meer omvattend in die skemagedragreëls vervat. Voorbeelde is dat die aangewese besoekerparkeerplekke uitsluitlik vir die korttermyn gebruik van bona fide besoekers is en dat eienaars of inwoners nie daarop mag parkeer of onpadwaardige voertuie daar mag berg nie; dat besoekerparkeerplekke nie vir langer as vier uur sonder vooraf bespreking beset mag word nie en dat identiteitskyfplakkers op alle besoekervoertuie aangebring moet word.
Laastens, moet parkeerplekke slegs vir parkeerdoeleindes gebruik word en nie vir enige ander doeleindes nie. Indien dit gebeur, mag die regspersoon die CSOS (ombud ingevolge Wet 9 van 2011) nader vir die verwydering van enigiets wat onregmatig op die parkeerplek geplaas is. Hierdie beginsel word verder uitgebrei in bykomstige skemagedragsreëls wat onder andere kan bepaal dat motorhuise primêr vir parkering gebruik moet word en nie vir residensiële doeleindes of as stoorruimte nie en dat geen sleepwaens, karavane of bote op die toegewese besoekerparkeerplekke of enige ander deel van die gemeenskaplike eiendom geparkeer of gestoor mag word nie.
My slotsom is dat kopers van eenhede in ’n deeltitelskema eerstens moet verseker dat die parkeerrregte wat hulle verkry fisies identifiseerbaar is en duidelik aangedui word in die koopooreenkoms. Daarvoor moet die deelplan, die geregistreerde skemareëls of die betrokke notariële sessie van die parkeerregte in die eienaar se naam noukeurig geraadpleeg word. Tweedens is die inhoud van addisionele gedragsreëls nou verbonde aan die karakter en fisiese eienskappe van die spesifieke skema.
In die praktyk word motorafdakke en veral motorhuise in die vorm van ’n tussenvloer aan die agterkant van die motorhuis dikwels gebruik om tuingereedskap en oortollige besittings te stoor. Ek stel voor dat hierdie populêre gebruik gelegitimeer word in die vorm van geregistreerde motorhuis cum bergings-uitsluitlike gebruikareas.

An ethical framework for the use of artificial intelligence in the legal profession

ARTIKEL

An ethical framework for the use of artificial intelligence in the legal profession

Author: M Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, School of Law, University of Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 454-471
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a2

Abstract

In 2024 het Van Eck “Error 404 or an error in judgment? An ethical framework for the use of ChatGPT in the legal profession” 2024 TSAR 469-490 ’n basiese etiese raamwerk vir die gebruik van ChatGPT vir regspraktisyns voorgestel. Sedertdien het meer etiese gebreke in die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologieë binne die regsberoep na vore gekom, insluitend foutiewe saakaanhalings, valse gefabriseerde saakverwysings, sowel as vals inligting in deskundige getuienis in die hof. In al die gevalle is die foutiewe en vals inligting verkry met die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie. In die lig hiervan het verskeie internasionale regsregulerende liggame in die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Nigerië etiese riglyne ontwikkel vir regspraktisyns se gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie. Die regspraktykraad in Suid-Afrika of die prokureursorde van Suid-Afrika het nog geen sodanige riglyne verskaf nie. Sonder duidelike riglyne bly daar onsekerheid oor presies die verwagte optrede van regspraktisyns en ’n etiese raamwerk in die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie.
Teen die bogenoemde agtergrond brei die outeur met hierdie artikel die aanvanklike etiese en professionele raamwerk vir die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie uit wat in bogemelde publikasie voorkom, deur die onlangse ontwikkelings in die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Nigerië te ondersoek. Fokus word geplaas op die mees algemene etiese temas wat uit hierdie jurisdiksies na vore gekom het, naamlik die (i) bevoegdheid en vaardighede van ’n regspraktisyn, (ii) vertroulikheid en datasekuriteit van ’n kliënt se informasie, (iii) toesig verantwoordelikheid van ’n regspraktisyn, (iv) eerlikheid en integriteit van ’n regspraktisyn in die verskaf van regsdienste, asook (v) die hef van redelike fooie in die gebruik van die tegnologie van kunsmatige intelligensie. Binne hierdie etiese temas en internasionale verwikkelinge word die Suid-Afrikaanse Gedragskode vir regspraktisyns ondersoek en wysigings voorgestel. Die argument word dus gemaak dat ’n versuim om die Suid-Afrikaanse Gedragskode op te dateer en die nodige wysigings by te werk nie net regspraktisyns in die algemeen negatief sal beïnvloed nie, maar ook indirek die publiek se vertroue in die regsberoep sal verminder.