Regspraak: Concern about the (seemingly) unlimited discretion to discharge an accused after close of the state’s case

Regspraak: Concern about the (seemingly) unlimited discretion to discharge an accused after close of the state’s case

Author: M Watney

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 611-626
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a11

Abstract

Die bepalings van artikel 174 van die Strafproseswet 51 van 1977 verleen aan die verhoorhof ’n diskresie om pas na afloop van die staatsaak ’n einde aan die verrigtinge te bring deur ontslag (en dus vryspraak) aan die beskuldigde te verleen. Dié bepaling kan sy ontstaan terugvoer na die bestaan van jurieverhore en die bevoegdheid destyds aan regters verleen om sake aan die jurie te onttrek ten einde te verhoed dat onhoudbare skuldigbevindings deur die jurie volg op geheel gebrekkige getuienis. Die artikel is in gewysigde vorm, maar prinsipieel identies op die Suid-Afrikaanse wetboek behou, selfs ná afskaffing van jurieverhore en die oogmerk is hedendaags om ’n vroeë einde te bring aan ’n strafvervolging wat ooglopend en onherroeplik die spoor byster geraak het.
Die toepaslike toets het mettertyd ontwikkel en aan die hand van grondwetlike beginsels behels dit tans dat die verhoorhof ondersoek instel of daar getuienis beskikbaar is waarop ’n redelike mens die beskuldigde sou kon skuldig bevind. Oor die rol wat die geloofwaardigheid van staatsgetuies op hierdie stadium behoort te vervul, het die beslissings in die hofverslae dit oor die jare van bakboord na stuurboord gestuur. Duidelik egter is dat die huidige benadering gesaghebbend (en so ook in vergelykbare regstelsels) vasgelê is dat geloofwaardigheid alleen ’n rol speel in dáárdie gevalle waar die getuienis só onbetroubaar en ongeloofwaardig swak is dat geen redelike hof daarop peil kan trek nie. Teen hierdie agtergrond was regter-president Hlophe as die senior hooggeregshofregter in die land geroepe om die ontslag van die beskuldigde parlementslid Bongo, wat op ’n hoofaanklag (met gepaste alternatiewe) van oortreding van artikel 4(1)(b) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede 12 van 2004 tereg gestaan het, te oorweeg. Bongo is daarvan aangekla dat hy ’n geldelike voordeel aangebied het aan ’n parlementêre beampte om as getuienisaanbieder ’n ondersoek na Eskom deur die portefeuljekomitee van openbare ondernemings in die wiele te ry. Verskeie staatsgetuies het getuig ter ondersteuning van die hoofgetuie wat as enkelgetuie die kern van die korrupsiebewerings te berde moes bring.
Ten spyte van geen noemenswaardige weersprekings in die hoofgetuie se getuienis of van die ander getuies onderling nie, bevind die hof die hoofgetuie se getuienis as enkelgetuie op die wesensaspekte van die saak so ongeloofwaardig en die weersprekings tussen getuies só kardinaal dat dit die staatsaak buite hoop stel en die beskuldigde derhalwe op ontslag geregtig is. In verdere opmerkings oor die vertolking van die korrupsiewet slaan die regter-president ’n koers in strydig met onlangse vertolkings van die hoogste hof van appèl oor die juiste bepalings.
Die outeur skenk aandag aan die aangewese weg tot bereddering van die blatante en skynbaar geknutselde mistastings aan die hand van artikel 319 van die Strafproseswet waarvolgens die staat alleen regsvrae aan die hoogste hof van appèl kan voorhou vir beslissing. Die onderskeid tussen regsen feitevrae lewer egter dikwels probleme op en boonop word die bepalings van artikel 319 streng uitgelê deur die howe ten einde appèlle van staatsweë te ontmoedig. By oorweging van die uitspraak identifiseer die outeur twee regsvrae vir sodanige voorbehoud. Vantevore het die regskommissie na behoorlike ondersoek aanbeveel dat die appèlbevoegdheid van die staat uitgebrei word om ook feitevrae in te sluit en in sommige hooggeregshofuitsprake is daardie aanbeveling pertinent ondersteun. Van dié aanbeveling het dadels gekom, maar daar word aanbeveel dat dringend heroorweging daaraan geskenk word ten einde gemeenskapskadelike uitsprake deur regsprekers wat vanweë onkunde óf moedswil hul aan die reg én getuienis nie veel steur nie, op appèl te korrigeer.

The taxation of dividend stripping transactions: a comparison between South Africa, Australia and Canada

The taxation of dividend stripping transactions: a comparison between South Africa, Australia and Canada

Authors: L Tredoux & K Van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, University of South Africa; Professor, Department of Mercantile Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 1 – 28
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a1

Abstract

Dividend- of surplusstropery is een van die vele maniere waarop belastingbetalers hul belastingaanspreeklikheid kan uitskakel of aansienlik kan verlaag vergeleke met wat normaalweg verwag sou wees. ’n Belastingstelsel onderskei gewoonlik tussen die belasting op dividende en die op ander betalings wat verband hou met aandele. Alhoewel hierdie onderskeiding daarop gemik is om die negatiewe effek van ekonomiese dubbelbelasting te oorkom of te verminder, bied dit ook moontlikhede vir belasting-arbitrage, waar belastingbelastingbetalers en hul adviseurs uitkerings ten opsigte van aandele struktureer ten einde voordeel uit belastingkoersverskille te trek. Dividendstromingstrukture (dividend streaming) “stroop” ʼn maatskappy spreekwoordelik van sy wins deur middel van dividende op ʼn manier wat geen of baie min belastingaanspreeklikheid meebring. Daarteenoor onttrek kapitaalvoordeelstroming (capital benefit streaming) winste op ʼn belastingvriendelike manier uit wat onder normale omstandighede as dividende uitbetaal sou word. Die verlies aan belastinginkomste wat deur sulke skemas meegebring word is vanuit ʼn fiskale perspektief ongewens, en spesiale teenvermydingsmaatreëls word dikwels ingestel om die belastingbasis te herstel. Alhoewel vermydingskemas sekere kenmerke mag deel, hang die transaksies of reëlings wat gebruik word vir die onttrekking van dividende af van die tegniese kenmerke van elke belastingstelsel. Ons vergelyk die Suid-Afrikaanse, Australiese en Kanadese spesiale teenvermydingsreëls wat teen dividendstropery gemik is. Die oorkoepelende korporatiewe belastingstrukture in hierdie jurisdiksies verskil, maar tog is daar aansienlike ooreenstemming ten opsigte van die soorte skemas wat deur die reëls teen dividendstropery geteiken word, sowel as die regstellende belastingeffek sodra die reëls toegepas word. Die transaksie-eienskappe wat gebruik word om dividendstropingskemas te identifiseer waarop die spesiale teenvermydingsmaatreëls dan toegepas kan word, verskil egter in belangrike opsigte. Australië maak gebruik van die algemene teenvermydingsreël as ʼn primêre oplossing deur te bepaal dat sekere spesifieke dividendstropingskemas kwalifiseer as skemas vir die toepassing van die algemene reël. Daar moet steeds aan die oorblywende vereistes van die algemene teenvermydingsreël voldoen word, insluitend die vermydingsbedoeling. In Kanada is die spesifieke teenvermydingsbepalings dikwels gerig op transaksies met verwante partye, terwyl die algemene teenvermydingsreël as laaste uitweg gebruik word om transaksies aan te val wat nie aan die vereistes van spesifieke bepalings voldoen nie. Daarteenoor is die Suid- Afrikaanse spesifieke teenvermydingsbepalings geneig om op objektiewe, ietwat arbitrêre faktore staat te maak, in die meeste gevalle sonder om op die belastingpligtige se bedoeling ag te slaan. Soos die Kanadese benadering, kan die algemene teenvermydingsreël in Suid-Afrika ook toegepas word om belastingvermydingskemas te tref waar die spesifieke bepalings nie toegepas kan word nie. Ons stel verskeie verbeterings aan die Suid-Afrikaanse bepalings voor om die reikwydte van die dividendstropingsreëls uit te brei en hopelik ʼn einde te bring aan die kringloop van reaktiewe wetswysigings gevolg deur nog ʼn nuwe sarsie skemas.

Promoting fair individual labour dispute resolution for South African educators accused of sexual misconduct (part 1)

Promoting fair individual labour dispute resolution for South African educators accused of sexual misconduct (part 1)

Author: SA Coetzee

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor, Department of Educational Leadership and Management, College of Education, UNISA
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 29 – 42
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a2

Abstract

Die afsku van seksuele wandade met kinders verander nie die noodwendigheid dat die oppergesag van die reg erken en, uit ’n arbeidsregperspektief, billikheid in ondersoeke na bewerings nagestreef word nie. Dit is algemeen bekend dat ’n klagte van seksuele wangedrag die einde van ’n opvoeder se loopbaan kan beteken, sy of haar persoonlike lewe omverwerp, en sy of haar familie en vriende leed berokken. Die media vererger die gevolge van ’n klagte van seksuele wangedrag deurdat hulle vervolging deur die openbare mening aanvuur, en opvoeders, wat belangrike rolspelers in kinderbeskerming is, tot waarskynlike verdagtes maak. Reken hierby die verskynsel dat ’n beskuldigde op grond van bewerings skuldig bevind word, en dat klagtes teen opvoeders soms vals is. Dit is nodig dat opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word, billik behandel word. Die inwerkingtreding van Kollektiewe Ooreenkoms 3 van 2018, wat ’n ondersoek deur ’n arbiter verpligtend maak indien ’n Suid-Afrikaanse opvoeder van seksuele wandade met ’n leerder beskuldig word, maak hierdie behoefte nog dwingender. Met hierdie artikel poog die skrywer om by te dra tot die bevordering van billike geskilbeslegting vir Suid-Afrikaanse opvoeders wat van seksuele wangedrag met ’n leerder beskuldig word. Die skrywer verduidelik eerstens waarom sy van mening is dat daar ’n dwingende behoefte is aan billikheid jeens opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word. Daarna plaas sy die artikel in die toepaslike konteks deur te kyk na alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures vir individuele arbeidsgeskille. Vervolgens ondersoek sy die prosedure vir individuele geskilbeslegting wat Suid- Afrikaanse opvoeders tot hulle beskikking het as hulle hul teen ’n klagte van seksuele wangedrag met ’n leerder moet verdedig. Laastens ontleed die skrywer algemene misverstande oor arbitrasie wat billike uitkomste kan belemmer as opvoeders hulle teen klagtes van seksuele wangedrag moet verdedig. Algemene misverstande wat billikheid tydens arbitrasie kan beïnvloed, sluit in dié oor die de novoaard van arbitrasie; die bewyslas; die bewyse wat vereis word; die belang van getuienis; die reëls oor hoorsêgetuienis; probleme met getuies; die misbruik van uitstel; verteenwoordiging; en wat ’n oorsig behels. Hierdie misverstande word merendeels geïllustreer met voorbeelde uit arbitrasieverslae oor seksuele wangedrag van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys. Ander arbitrasiebepalings en hofbeslissings word eweneens genoem.

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (justification)

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (justification)

Author: P Obiri-Korang

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 43 – 58
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a3

Abstract

Die beginsel van partyoutonomie is ’n belangrike beginsel van die kontraktereg en word vandag ook beskou as die belangrikste verbindingsfaktor in die internasionale kontraktereg. In gevorderde ekonomieë word partye toegelaat om die reg te kies wat van toepassing moet wees op die regte en verpligtinge van hul internasionale kontrakte ter bevordering van grensoorskrydende handel en beleggings. Die outeur ondersoek in hierdie artikel die teoretiese basis vir die handhawing van die beginsel van partyoutonomie met betrekking tot regskeuse in internasionale kontrakte. Afgesien van die tradisionele regverdiging vir die bevordering van die beginsel, word in die artikel ook grondwetlike verankering oorweeg. In hierdie verband stel dit voor dat grondwetlike bepalings wat die vrye ontwikkeling van persoonlikheid of menswaardigheid wil beskerm, ook die reg van private partye omvat om die reg van toepassing op hulle internasionale kontrakte te kies. Dieselfde geld met betrekking tot die bepaling wat in sekere grondwette gevind word ter bevordering van aktiwiteite wat kan lei tot die vestiging van ’n gesonde ekonomie. Die artikel is daarop gemik om regsekerheid en voorspelbaarheid te bevorder deur middel van partyoutonomie in die regskeuse vir kontrakte. Sodanige erkenning sal na verwagting die nodige vertroue in private sakepersone en beleggers inboesem en gevolglik internasionale handel en beleggingsaktiwiteite binne ’n bepaalde jurisdiksie bevorder. In die lig van die bogenoemde, stel hierdie artikel voor dat, tensy daar dwingende redes bestaan om partye die reg te ontsê om die stel regsreëls te kies wat hulle verkies om hul internasionale kommersiële kontrakte te reguleer, die howe