The pothole scourge as a growing threat on South African roads significantly reflected in recent case law

The pothole scourge as a growing threat on South African roads significantly reflected in recent case law

Author: TJ Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor Extraordinarius in Private Law, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 1-43
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a1

Abstract

Die Suid-Afrikaanse padnetwerk verkeer tans in ’n haglike toestand as gevolg van langdurige pligsversuim van die South African National Roads Agency (SANRAL) en die padadministrasies van die provinsiale owerhede om die paaie onder hul beheer behoorlik in stand te hou. Na raming is daar deesdae nie minder nie as 25 miljoen slaggate in Suid-Afrikaanse paaie wat ’n groot bedreiging vir padverkeer inhou. Ofskoon die betrokke owerheidsliggame met verloop van tyd meganismes geskep het waarvolgens vergoeding betaalbaar is aan diegene wat nadeel gely het as gevolg van skade aan hul voertuie wat aan slaggate gewyt kan word, blyk daardie stelsel nie aan alle verwagtings te voldoen nie en kom dit toenemend voor dat veral diegene wat liggaamlike beserings weens slaggat-ongelukke opgedoen het, hulle na die howe wend.

In hierdie artikel word vyf resente uitsprake (van Februarie 2017 tot Maart 2024) onder die loep geneem – te wete die Markus-, Loots-, Van der Merwe-, Henson- en Jacobs-uitsprake – ten einde aan te toon hoe ons howe sake van hierdie aard benader. Die verweerders was in elk van die sake die lid van die uitvoerende komitee van die betrokke provinsiale regering (alle ongelukke het op provinsiale paaie voorgekom). Daar is deurentyd gepoog om ’n akkurate weergawe van die feite van elke betrokke saak te verskaf, onder meer deur die bewyse wat deur middel van getuies verskaf is bondig weer te gee, omdat dit in alle gevalle die hooffokus van die howe was.

Bepaaldelik wat betref nadeel (beserings sowel as vermoënsverlies) veroorsaak as gevolg van die feit dat ’n voertuig ’n slaggat getref het, bestaan daar ’n navolgenswaardige presedent van die hoogste hof van appèl in die uitspraak in McIntosh v Premier, KwaZulu-Natal (2008) waarin die hof nuttige riglyne verskaf het oor hoe ’n saak van hierdie aard benader moet word en veral klem daarop gelê is dat besondere aandag gewy moet word aan die bewys van onregmatigheid en skuld (nalatigheid) aan verweerderskant. Verder blyk dit dat dit deurlopend in sake van hierdie aard hoofsaaklik gaan om die vasstelling van nalatigheid aan die kant van ’n openbare liggaam wat versuim het om behoorlik beheer oor ’n gevaarlike toestand uit te oefen. Dit handel dus oor een van die geykte toestande waar ’n blote versuim (omissio) op onregmatige optrede kan neerkom, wat moontlik kan verklaar waarom die howe soms nagelaat het om in meer besonderhede na te gaan of daar aan die onregmatigheidsvereiste vir deliktuele aanspreeklikheid voldoen is. Waar hulle telkens ’n beslissing oor nalatigheid moes vel, het die howe soos klokslag gesteun op die presedent wat geskep is in Kruger v Coetzee (1966) waarin die drieledige toets vir nalatigheid noukeurig geformuleer is. Omdat die aanwesigheid van nadeel en (feitelike en juridiese) kousaliteit in al vyf gevalle voor die hand liggend was, is daar met ’n enkele uitsondering geen aandag daaraan geskenk nie.

In die ontleding van die uitsprake is daar veral gepoog om aan te toon hoe die howe te werk gegaan het om hul rationes decidendi te konstrueer en is daar tot die gevolgtrekking gekom dat hul metodiek meestal tekort geskiet het indien gemeet aan die riglyne voorgeskryf deur kundiges soos die destydse afgetrede hoofregter Corbett. Verder blyk dit ook duidelik hoe die toepaslike regsbeginsels nie deurentyd suiwer weergegee word wanneer dit op die feite toegepas is nie. Desnieteenstaande kan daar akkoord gegaan word met die feit dat die eisers in elk van die vyf uitsprake geslaag het.

Daar word verder oorweeg hoe die verskeie padadministrasies hul kan beskerm teen toekomstige vorderinge weens slaggat-skade. Eerstens blyk dit duidelik dat gebrekkige opdragte aan hul regsverteenwoordigers ’n probleem was, meestal weens die lakse houding van die betrokke amptenary. Dit kan reggestel word deur noukeurig rekord te hou van alle aktiwiteite wat met padbou, -instandhouding en -herstel te doen het, welke inligting noodsaaklik is om as grondslag vir ’n behoorlike verweer te dien.

Tweedens moet die amptenary van die administrasie daarvoor sorg dat die geld wat vir paaie begroot is, daarvoor gebruik word en ook in staat wees om behoorlik verslag daaromtrent te doen. Sodoende sou die verweer gegrond kon word dat die betrokke openbare liggaam alles in sy vermoë gedoen het om die paaie onder sy beheer in ’n veilige toestand te hou en daardeur die verwyte van ’n onregmatige versuim en nalatigheid kon vryspring. Derdens moet padadministrasies deur gereelde inspeksies altyd bewus wees van die toestand van paaie onder hul beheer sodat hulle betyds, waar nodig, herstelwerk kan aanbring of, tot tyd en wyl dit moontlik is, toepaslike waarskuwingstekens kan aanbring.

Ten slotte word die vraag gestel of dit vir ’n padadministrasie moontlik sou wees om aanspreeklikheid vry te spring deur die blote aanbring van vrywaringskennisgewings. ’n Toepassing van die geykte beginsels rakende toestemming tot benadeling as regverdigingsgrond en pacta de non petendo in anticipando skakel egter sodanige moontlikheid uit.

An analysis of directors’ liability for data protection breaches: insights from South Africa, Germany and the United States of America

An analysis of directors’ liability for data protection breaches: insights from South Africa, Germany and the United States of America

Author: CJ Van der Walt

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Director: R&D Data Policy and Contract Services, AstraZeneca R&D BIOPharmaceuticals, Cambridge, UK and Research Associate, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 44-58
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a2

Abstract

Individue wêreldwyd het ’n reg op privaatheid, ongeag hul geografiese ligging. Die beskerming van hul persoonlike inligting help om hul fundamentele reg op privaatheid te handhaaf. In die afgelope tyd het die ongeoorloofde toegang tot en misbruik van individue se persoonlike inligting toegeneem. Daarom moet daar ’n balans gehandhaaf word in die huidige digitale era tussen die beskerming van persoonlike inligting en die manier waarop maatskappye persoonlike inligting insamel, stoor en gebruik. In die hoogs gereguleerde omgewing waarin besighede vandag besigheid bedryf, moet hulle die vertroue van individue wie se persoonlike inligting hulle hanteer, handhaaf. Hulle sal dit bereik deur die streng nakoming van relevante databeskermings- en kuberveiligheidsregulasies en wetgewing te verseker en sodoende die integriteit van hul besigheidsbedrywighede te handhaaf. Dit is noodsaaklik dat die beskerming van persoonlike inligting op direksievlak prioritiseer, aangesien ’n databreuk kan lei tot ’n verlies aan vertroue en ernstige skade aan ’n maatskappy se reputasie.

Die skrywer bespreek die huidige ingewikkelde landskap van die beskerming van persoonlike inligting in Suid-Afrika, Duitsland en die Verenigde State van Amerika en verduidelik wie verantwoordelik is vir die beskerming van persoonlike inligting. Die fokus van die artikel is om die vraag te beantwoord of direkteure, benewens maatskappye, persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die onregmatige toegang tot en gebruik van individue se persoonlike inligting. Die artikel gee ’n kort oorsig van ’n onlangse uitspraak in Duitsland waar ’n maatskappydirekteur persoonlik aanspreeklik bevind is vir die onregmatige toegang tot en gebruik van persoonlike inligting. Verder verskaf dit ’n oorsig van relevante uitsprake in die Verenigde State van Amerika waar die Federale Handelskommissie direkteure of senior bestuur van maatskappye aanspreeklik hou vir die onregmatige toegang tot persoonlike inligting as gevolg van ’n gebrek aan behoorlike kuberveiligheidsvereistes.

Dit bied ’n vergelyking van die korporatiewe wette van beide Suid-Afrika en Duitsland wat die pligte van direkteure en die plig van goeie trou gedeeltelik kodifiseer het. Benewens hierdie wette steun beide jurisdiksies ook op die gemenereg om die statutêre bepalings met betrekking tot direkteure se pligte aan te vul. Die Verenigde State van Amerika aan die ander kant het nie federale korporatiewe wetgewing nie, maar maak voorsiening vir die persoonlike aanspreeklikheid van direkteure vir die verbreking van hulle vertrouensverpligtinge in die korporatiewe wette van die verskeie deelstate.

Combating financial crime: the potential and regulation of artificial intelligence

Combating financial crime: the potential and regulation of artificial intelligence

Authors: C Lupton and S Reddy

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, University of Johannesburg; Lecturer, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 59-78
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a3

Abstract

Tegnologiese vernuwing is ’n kenmerk van die een-en-twintigste eeu. Elke aspek van die gemeenskap sal op die een of ander wyse geraak word deur nuwe tegnologiese skeppings en veral kunsmatige intelligensie. Die kern daarvan is dat dit ontwerp is om mense te help om take te verrig deur menslike intelligensie na te maak, te repliseer of te outomatiseer. Dit veronderstel ’n beperkte betrokkenheid van mense in die take en bedrywighede van kunsmatige intelligensie. Boonop is kunsmatige intelligensie beskikbaar vir enige denkbare gebruik in enige denkbare konteks, insluitende die bevegting van geldwassery en die finansiering van terrorisme. In hierdie verband word kunsmatige intelligensie toenemend ondersoek deur reguleerders – veral ten aansien van banke as gereguleerde entiteite – met die oog daarop om prosesse en prosedures vinniger, goedkoper en meer effektief te maak. In hierdie verband het die bestuur van die risiko van finansiële misdaad, en die nakoming van regulerende maatreëls in verband daarmee, ontwikkel tot ’n veeleisende taak vir reguleerders weens die styging van die volume en kompleksiteit van internasionale transaksies, die gesofistikeerdheid van die tegnieke van geldwassery en die gepaardgaande verpligtinge en verwagtinge wat dit meebring. Teen hierdie agtergrond is dit geensins verrassend dat outomatiese besluitnemingsisteme en digitalisering toenemend gebruik word in die stryd teen geldwassery en terrorismefinansiering nie, veral in verband met die sorgsame omsigtigheid ten aansien van kliënte – customer due diligence.

Hierdie bydrae verken die potensiaal en regulering van kunsmatige intelligensie in die konteks van die stryd teen geldwassery en die finansiering van terrorisme vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief. Dit verskaf ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse terrein van hierdie geveg en oorweeg ook die potensiaal van kunsmatige intelligensie in hierdie verband. Teen hierdie agtergrond beskou die bydrae die sleutel reguleringsmaatreëls vir die gebruik van kunsmatige intelligensie in hierdie stryd, waarna gevolgtrekkings en voorstelle geformuleer word wat in hierdie verband reguleerders (en veral ten aansien van banke as gereguleerde entiteite) kan help, in Suid-Afrika en ook wyer. Daar word bevind dat kunsmatige intelligensie enorme potensiaal het in die stryd teen finansiële misdaad en dat die Suid-Afrikaanse banksektor in die vroeë stadium is om die gebruik daarvan te ondersoek. Hierdie sektor is duidelik verbind tot die gebruik van kunsmatige intelligensie. Hierdie verbintenis sou kon inspeel op die benadering van self-regulering van kunsmatige intelligensie – met inagneming daarvan dat die Suid-Afrikaanse regering, soos vele ander, nog nie progressiewe stappe gedoen het om ’n regsraamwerk daar te stel vir kunsmatige intelligensie nie.

Obtaining control of insolvent estates by way of warrants in terms of section 69(3) of the Insolvency Act 24 of 1936

Obtaining control of insolvent estates by way of warrants in terms of section 69(3) of the Insolvency Act 24 of 1936

Author: W De Wet

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Attorney, Van Greunen Inc.
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 79-93
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a4

Abstract

Artikel 69 van die Insolvensiewet 24 van 1936 voorsien ’n effektiewe remedie tot trustees se beskikking, welke remedie ten doel het om trustees in staat te stel om effektiewe beheer te neem van ’n insolvente boedel. Hierdie remedie word geïmplementeer deur trustees wat vermoed dat bates van ’n insolvente boedel versteek of onregmatig van die trustees weerhou word. Die remedie is nie beperk tot insolvente boedels van natuurlike persone, vennootskappe of trusts nie, maar vind ook toepassing in insolvente boedels van maatskappye en beslote korporasies. Die remedie vind derhalwe toepassing in die geval van beide trustees en likwidateurs wat poog om beheer te neem oor bates wat van hulle versteek of weerhou word.

Volgens die Insolvensiewet se bewoording is hierdie remedie beskikbaar sodra die balju van die hof beslag gelê het op al die bates van die insolvent en die nodige inventaris opgestel het ingevolge artikel 19(1) van die wet. Dit is op hierdie stadium dat die trustee somtyds ’n vermoede ontwikkel dat bates versteek of weerhou word van die insolvente boedel, welke vermoede die implementering van artikel 69(3) noodsaak. Met oorweging van die nodige elemente waaraan voldoen moet word alvorens ’n landdros ’n lasbrief sal uitreik ingevolge artikel 69(3), is die trustee se blote vermoede van verberging of weerhouding van bates oënskynlik voldoende regverdiging vir die uitreik van genoemde lasbrief. Gevolglik kan die remedie beskou word as drasties, maar gepaardgaande met ’n opmerklik lae maatstaf om dit tog te bekom. Dit blyk dat praktisyns in hierdie gebied eers onlangs begin het om hierdie remedie te implementeer op die wyse soos dit deur die wetgewer beoog is en deur onlangse gesag ondersteun word. Deur hierdie remedie korrek te implementeer sal die doeltreffendheid daarvan bevorder word, veral aangesien die wetgewer se bedoeling klaarblyklik is dat hierdie remedie spoedig en sonder die nakoming van onnodige formaliteite toegestaan behoort te word. Dit is te verwagte dat, indien trustees bewus is van die aard van die remedie, asook die resultate wat genoemde remedie kan teweeg bring in gevalle van ’n vermoede van verdagte gebeure in ’n insolvente boedel, hierdie remedie meer gereeld geïmplementeer sal word.

Unpacking the 1993 Lesotho constitution’s radical social transformation ideals and its normative implications for the judiciary

Unpacking the 1993 Lesotho constitution’s radical social transformation ideals and its normative implications for the judiciary

Author: ST Maqakachane and R Laubscher

ISSN: 1996-2207
Affiliations: LLD student (UJ); Lecturer, Department of Public Law, NUL; Associate Professor in Public Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 94-113
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a5

Abstract

Die 1993-Lesotho grondwet is aanvaar na meer as ’n honderd jaar van koloniale beheer en byna drie dekades van outoritêre en militêre regering. Hierdie periode is gekenmerk deur die oorplanting van vreemde regsbeginsels in Lesotho se regstelsel; die vervanging van tradisionele Afrika-regeringstelsels, beginsels en waardes; politieke geweld; menseregteskendings; sosio-ekonomiese ongelykheid; armoede en ’n beperkende regskultuur. Teen hierdie voor-demokratiese en historiese agtergrond, het die Lesotho grondwet ’n drieledige radikale sosiale hervormingsproses in die lewe geroep. Hierdie hervormingsproses behels, eerstens, die radikale hervorming van bestaande wetgewing, tweedens, hervorming ten aansien van sosiale gelykheid en -geregtigheid en derdens, die daarstel van ’n regverdige en stabiele regsorde.

Die Lesotho grondwet het hierdie hervormingspligte onder andere op die regsprekende gesag geplaas. Die regsprekende gesag moes dus hierdie grondwetlike ideale in realiteit omskep deur “transformative adjudication”, oftewel “transformerende” of “hervormende beregtiging”. Vir 30 jaar (1993-2023) het die regbank nie net misluk om die verkose regeringsfere verantwoordelik te hou vir hul versuim om die radikale sosiale hervormingsoogmerke van die grondwet te implementeer nie, maar het die regbank self ook daarin gefaal om die nodige metodologiese kopskuif te maak om hierdie radikale sosiale hervormings teweeg te bring in regspraak.

Hierdie bydrae ondersoek die normatiewe inhoud van die radikale sosiale hervormingsoogmerke wat deur die 1993 grondwet voorgeskryf word en die ooreenstemmende normatiewe implikasies daarvan vir die regbank. Die bydrae argumenteer dat, totdat die regbank die nodige metodologiese benadering tot beregtiging, naamlik ’n “publiekreg beregtingsmodel” (“distributive justice model” of “herverdelende beregtingsmodel”) met ooreenstemmende metodes en tegnieke aanvaar, in plaas van die tradisionele “regstellende beregtigingsmodel” (“corrective justice model”), daar geen werklike regshervorming in Lesotho kan plaasvind nie. Daar word egter aangevoer dat die beslissing van die hooggeregshof in Lesotho Medical Association v Minister of Health 2020 LSHC 14 ’n welkome verwikkeling ten aansien van die gebruik van ’n publiekreg beregtingsmodel in Lesotho verteenwoordig en beslis ’n stap in die regte rigting is vir die afdwinging van staats- en publieke instellings se sosiale verpligtinge ingevolge die “directive principles of state policy”, ingevolge hoofstuk 3 van die Lesotho grondwet.

Section 2B of the Wills Act 7 of 1953: is it unfairly discriminatory?

Section 2B of the Wills Act 7 of 1953: is it unfairly discriminatory?

Author: F Moosa

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor in Mercantile and Labour Law, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 114-132
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a6

Abstract

Artikel 2B van die Wet op Testamente 7 van 1953 is ’n oorblyfsel uit die apartheidsera. Dit bepaal dat, tensy ’n teenstrydige bedoeling uit ’n oorledene se testament blyk, testamentêre voordele wat deur ’n gewese gade aan ’n ander voormalige gade verleen word, ex lege, herroep word indien hul huwelik binne drie maande voor die erflater se dood ontbind is. In artikel 2B bedoel “huwelik” die gemeenregtelike idee van ’n monogame verbintenis tussen ’n man en ’n vrou. Gevolglik toon hierdie artikel aan dat die beskerming wat daardeur verleen word, nie die volgende persone bevoordeel nie: (i) voormalige lewensmaats wie se lewensverhouding binne drie maande voor die dood van een eks-lewensmaat geëindig het; (ii) voormalige eggenote wie se huwelik uitsluitlik deur godsdienstige reg ontbind is deur ’n godsdienstige proses (soos ’n Talãq of Faskh onder Shari’ah-wet); en (iii) voormalige eggenote wie se huwelik uitsluitlik ooreenkomstig die kultuur en/of tradisies van ’n etniese groep bevestig is en later ook ontbind is op ’n wyse wat deur sy gebruike en/of tradisies voorgeskryf word. Hierdie artikel toon aan dat artikel 2B slegs voormalige gades omvat in huwelike wat deur die Suid-Afrikaanse familiereg erken word, wat in opdrag van ’n bevoegde hooggeregshof ontbind is (nie deur enige godsdienstige of kulturele instelling of liggaam nie).

Hierdie artikel kom tot die gevolgtrekking dat, vir doeleindes van artikel 2B, die gemeenregtelike opvatting van “huwelik” onbillik diskriminerend is teen persone wat verkies om nie ooreenkomstig die burgerlike reg van Suid-Afrika te trou en te skei nie, maar slegs in ooreenstemming met die voorskrifte van hul godsdiens en/of kultuur. Daar word verder tot die gevolgtrekking gekom dat sodanige diskriminasie onredelik en onregverdigbaar is ingevolge artikel 36 van die grondwet, 1996, sodat, artikel 2B ongrondwetlik verklaar mag word, nieteenstaande die hoogste hof van appèl se beslissing in Wallage v Williams-Ashman NO.

As gevolg van die omvang van die weglatings uit artikel 2B soos in hierdie artikel aangetoon, sal ’n inlees van woorde wat sy reikwydte uitbrei na die kategorieë gewese gades wat daaruit uitgesluit is, nie ’n gepaste remedie wees om artikel 2B uit ’n verklaring van ongeldigheid te red nie. Dit is omdat die omvang van die inlees wesenlik sou wees en altyd van ’n hof vereis om die spreekwoordelike Rubicon oor te steek van bloot die wettige interpretasie tot die oorgaan na ’n wetgewende funksie deur ’n geregtelike besluit. Dit sal aanstoot gee aan die beginsel van skeiding van magte wat in die grondwet vervat is en moet ten sterkste ontmoedig word.

Aantekeninge: A review muddle on an inappropriate application of general anti-avoidance rule

Aantekeninge: A review muddle on an inappropriate application of general anti-avoidance rules

Authors: C Keulder and T Legwaila

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 133-144
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a7

Abstract

In Commissioner for the South African Revenue Service v Absa Bank Limited (2024 1 SA 361 (HHA)) het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die belastingbetalers in kennis gestel van die voorneme om die algemene reëls teen belastingvermyding op ’n reeks onderling verbonde transaksies toe te pas. In hierdie verband het die belastingbetalers die Suid-Afrikaanse Inkomstediens versoek om hierdie kennisgewing kragtens artikel 9 van die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 terug te trek. Hierdie versoek is geweier. Verder het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n bykomstige aanslag uitgereik om gehoor te gee aan die algemene reëls teen belastingvermyding.

Die belastingbetalers het beide besluite, naamlik die weiering om die kennisgewing terug te trek en die uitreiking van die bykomstige aanslag, op hersiening na die hooggeregshof geneem. Dié hof het bevind dat die algemene reëls teen belastingvermyding nie toegepas kon word nie omdat Absa nie direk by die reëling betrokke was nie en géén belastingvoordeel uit die transaksies verkry is nie. Alhoewel die kennisgewing van voorneme om die reël toe te pas nie finaal was nie, was dit steeds hersienbaar. Die hof het ook beslis dat die hooggeregshof jurisdiksie het om ’n belastingaangeleentheid direk aan te hoor as ’n hersieningsaansoek waar daar ’n dispuut ten opsigte van ’n regspunt is.

Hierdie vonnisbespreking fokus op die daaropvolgende appèlbeslissing van die hoogste hof van appèl. Ten opsigte van die weiering om die kennisgewing van voorneme om die algemene reël teen belastingvermyding toe te pas, toon hierdie vonnisbespreking die hoogste hof van appèl se verwarring aangaande ’n hersieningsaansoek kragtens die “Promotion of Administrative Justice Act” 3 van 2000 en een op grond van legaliteit. In hierdie verband wys die outeurs verskeie redes uit waarom die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se besluit irrasioneel was, aangesien die onderling verbonde transaksies wat oorweeg is nie binne die omskrywing van die algemene reëls teen belastingvermyding val nie. Verder beklemtoon die vonnisbespreking die verwarring oor wanneer die hooggeregshof se inherente hersieningsbevoegdheid van toepassing is.

Regspraak: Email hackers, conveyancers and pure economic loss

Regspraak: Email hackers, conveyancers and pure economic loss

Author: E Zitzke

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 145-161
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a8

Abstract

Hierdie vonnisbespreking is ’n kritiek op Edward Nathan Sonnenberg v Hawarden (2024 5 SA 9 (HHA)). Die saak handel oor epos-kuberkraking in die konteks van aktebesorging wat lei tot suiwer ekonomiese verlies. Die koper van onroerende eiendom moes die koopprys aan die aktebesorger oorbetaal. Die aktebesorger het sy bankbesonderhede per epos aan die koper gekommunikeer. ’n Kuberkraker het die epos onderskep voordat die koper dit ontvang het en het sy eie bankbesonderhede aan die koper verskaf. Die misleide koper het toe R5,5 miljoen aan die boosdoener oorbetaal. Die kuberkraker het verdwyn teen die tyd wat die waarheid na vore gekom het.

Die koper eis haar verlore miljoene van die aktebesorger in ’n deliksaksie in die hooggeregshof. In Hawarden v Edward Nathan Sonnenbergs Inc (2023 4 SA 152 (GJ)) bevind die hof van eerste instansie dat die aktebesorger onder ’n regsplig was om “nie nalatig” teenoor die eiser te handel nie. Die hof bevind ook dat die regsplig nie nagekom is nie en dat die verweerder die eiser se skade op ’n nalatige wyse veroorsaak het. Dus slaag die eiser. Terwyl die uitspraak swak gestruktureer is en konseptuele foute daarin gemaak word, bevat dit ’n paar akkurate stellings oor die beleidsoorwegings wat in ag geneem moet word by die bepaling van die onregmatigheid van die verweerder se handeling.

Op appèl beslis die hoogste hof van appèl dat die eiser om twee redes nie onregmatigheid kon bewys nie: Eerstens sou ’n bevinding van onregmatigheid lei tot onbepaalde aanspreeklikheid en tweedens was die eiser nie kwesbaar vir die risiko nie omdat sy haarself kon beskerm het teen die skade wat sy gely het.

In hierdie vonnisbespreking word daar geargumenteer dat die hoogste hof van appèl se bevinding oor onregmatigheid foutief is. Teenstrydig met die hoogste hof van appèl se bevinding, word geargumenteer dat verskeie faktore daarop dui dat onregmatigheid wél aanwesig is: (i) die feit dat die erkenning van ’n regsplig in hierdie konteks ’n inkrementele verwikkeling van die reg sou behels wat alreeds ’n regsplig erken tussen ’n prokureur en derde partye wat betalings maak; (ii) die professionele aansien van prokureurs en statutêre verpligtinge wat op regspraktisyns geplaas word; (iii) die nabye en direkte verhouding tussen die eiser en verweerder in hierdie geval; (iv) die vertroue wat die publiek in regsfirmas behoort te hê; (v) die feit dat daar geen aantoonbare risiko van onbepaalde aanspreeklikheid is nie; (vi) die feit dat die eiser se bydraende nalatigheid nie as ’n absolute verweer teen haar gebruik mag word nie; en (vii) die feit dat die tegnologiese risiko van epos-kuberkraking objektief akuut voorsienbaar is asook die verweerder se subjektiewe kennis hieroor.

Regspraak: Return to the infamous English case of Hollington v F Hewthorn & Co Ltd 1943 KB 587 (CA): still authoritative in South Africa, albeit restricted to its original ratio

Regspraak: Return to the infamous English case of Hollington v F Hewthorn & Co Ltd 1943 KB 587 (CA): still authoritative in South Africa, albeit restricted to its original ratio

Author: W De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 161-171
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a9

Abstract

In Technology Corporate Management (Pty) Ltd v De Sousa het die vraag onder andere ter sprake gekom of die reël in die dikwels gekritiseerde Engelse saak Hollington v F Hewthorn & Co Ltd, bo en behalwe ’n skuldigbevinding in ’n strafsaak, ook van toepassing is op die bevindinge van ander tribunale. Die verhoorhof het, met ’n beroep op die Hollington-saak, beslis dat die bevinding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (meestal op Engels afgekort as die CCMA), dat die eerste respondent (De Sousa) se ontslag uit die diens van die eerste appellant (Technology Corporate Management (Pty) Ltd) (TCM) billik was, ontoelaatbaar was in die daaropvolgende siviele geding tussen De Sousa en TCM. Die verhoorhof het die eiser (De Sousa) se eis op die meriete gehandhaaf. Daarteen het TCM na die hoogste hof van appèl geappelleer.

Die hoogste hof van appèl, bestaande uit vyf waarnemende appèlregters, het by monde van waarnemende appèlregter Wallis bevind dat die verhoorregter gefouteer het wat die toepassing van die reël uit die Hollington-saak betref. Volgens die appèlhof moet die Hollington-reël streng beperk word tot skuldigbevindings in strafsake. Die verrigtinge in die KVBA was nie ’n strafverhoor nie en die bevinding van die tribunaal het dus buite bestek van die Hollington-reël geval. Derhalwe was die verwysing na die bevinding van die KVBA wél toelaatbaar in die daaropvolgende siviele saak tussen die genoemde partye.

Aangesien die hoogste hof van appèl bevind het dat die Hollington-reël nie van toepassing was op die onderhawige siviele saak nie, was die hof nie geroepe om oorweging te gee aan die afskaffing van die reël deur die uitoefening van die hof se inherente bevoegdheid om die gemenereg te ontwikkel nie. Enige uitlatings in die verband sou obiter dicta gewees het, wat nie bindend op laer howe sou wees nie. Alhoewel dit nie die geleentheid was om die Hollington-saak ter ruste te lê nie, is die hof se beslissing dat die reël in die saak streng tot skuldigbevindings in strafsake beperk moet word te verwelkom. Daar was in die verlede wel enkele sake waarin die uitbreiding van die Hollington-reël na ander tribunale se bevindinge goedgekeur is. Gelukkig het die hoogste hof van appèl se beslissing hierdie ontwikkeling gekelder.

Die appellant het ook geargumenteer dat die verhoorregter se optrede gedurende die verhoor die billikheid van die verhoor geskaad het. Die hoogste hof van appèl het dit nie nodig gevind om dié punt te beslis nie aangesien die hof eenparig op die meriete beslis het dat die appèl gehandhaaf moes word. Desnietemin het die hof sekere riglyne neergelê oor hoe ’n verhoorregter behoort op te tree om te verseker dat die verhoor in alle opsigte billik verloop. Die uitlatings is uiteraard alles obiter dicta, maar nietemin gesaghebbend aangesien dit deur die hoogste hof van appèl gemaak is.

Regspraak: Teleological interpretation of section 189A of the Labour Relations Act and procedural fairness in large-scale retrenchments

Regspraak: Teleological interpretation of section 189A of the Labour Relations Act and procedural fairness in large-scale retrenchments

Author: M Van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 172-187
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a10

Abstract

In die uitspraak het die konstitusionele hof geworstel met die interpretasie van artikels 189A(13) en 189A(18) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 in die konteks van grootskaalse afleggings vir operasionele vereistes. Die saak het deurslaggewende vrae aangespreek oor die jurisdiksie van die arbeidshof om die prosedurele billikheid van sodanige afleggings te beoordeel en die aard en omvang van die remedies wat ingevolge artikel 189A(13) van Wet 66 van 1995 aan werknemers beskikbaar is.

Hierdie bespreking ontleed die uiteenlopende uitlegbenaderings wat deur die meerderheids- en minderheidsuitspraak in die uitspraak aanvaar is sowel as die uitlegbenadering wat geheers het voor uitspraak in die saak gelewer is. Die meerderheid het ’n breë, doelgerigte interpretasie nagevolg – ’n teleologiese uitleg – wat uiting gee aan, onder meer, die grondwetlike reg op billike arbeidspraktyke en die reg op toegang tot die howe. Die meerderheid het aanvaar dat artikel 189A(18) van Wet 66 van 1995 slegs arbeidshof-jurisdiksie kragtens artikel 191 uitsluit en nie jurisdiksie kragtens artikel 189A(13) uitskakel nie. Die meerderheid het bevind dat artikel 189A(13) beide primêre oogmerke dien om prosedurele voldoening voor ontslag af te dwing en sekondêre doeleindes nastreef om remedies vir prosedurele onbillikheid te verskaf, met vergoeding beskikbaar selfs wanneer primêre remedies nie meer lewensvatbaar is nie. Die minderheid het, hoewel hulle met die beslissing van die meerderheid saamgestem het, ’n enger, meer terughoudende benadering tot die uitleg van voorafgaande uitsprake en die genoemde wetsbepalings verkies.

Die bespreking evalueer hierdie uitlegbenaderings teen sleutelvermoedens van statutêre interpretasie, insluitend dat regstellende wetgewing mildelik uitgelê moet word, dat wetgewing nie geredelik hofjurisdiksie uitskakel nie en dat wetgewing uitgelê moet word om die openbare belang te bevorder. Daar word aangevoer dat die meerderheid se benadering verkieslik is, aangesien dit volle uitvoering gee aan die beskermende en remediërende doeleindes van Wet 66 van 1995 in ooreenstemming met grondwetlike waardes. Die gevolgtrekking is dat die meerderheidsuitspraak ’n belangrike bydrae lewer tot die ontwikkeling van ’n transformerende arbeidsregspraak. Die meerderheid se breë, doelgerigte interpretasie van artikels 189A(13) en 189A(18), onderlê deur grondwetlike beginsels en waardes, bied ’n waardevolle model vir howe wanneer arbeidswetgewing vertolk moet word. Die uitspraak bevorder die fundamentele doelwitte van Wet 66 van 1995 en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 deur doeltreffende remedies en toegang tot howe te behou vir werknemers wat prosedureel onbillike afleggings in die gesig staar.