Boundary extension and section 5(1)(h) of the Sectional Titles Schemes Management Act: does a body corporate have unlimited discretion to refuse consent?

ARTIKEL

Boundary extension and section 5(1)(h) of the Sectional Titles Schemes Management Act: does a body corporate have unlimited discretion to refuse consent?

Authors: WT du Toit and JG Horn

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Attorney, notary public, conveyancer and former Community Schemes Ombud Service adjudicator; Senior lecturer in Property Law and Sectional Titles, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 40-53
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a3

Abstract

Daar bestaan heelwat misvattings oor die regspersoon se rol om tot uitbreidings van deelgrense toe te stem. Menige dooiepunt is al tussen regspersone en hulle individuele lede bereik as gevolg van die regspersoon se wanopvatting dat artikel 5(1)(h) van die Deeltitelskemabestuurswet aan dit onbeperkte bevoegdhede verleen om uitbreidings by deelgrense te weier. Dié situasie word vererger deur die algehele gebrek aan kruisverwysing tussen die wetgewing van die plaaslike regerings en deeltitelbedelings.
Wanneer ’n mens egter die rolle en prosedures van die plaaslike owerheid van dié van die regspersoon skei, word dit baie duidelik dat die twee wetsbedelings ontwerp is om ná mekaar toegepas te word, sonder enige wedywering tussen die bevoegdhede wat aan onderskeidelik die plaaslike owerheid en die regspersoon verleen word. Die plaaslike owerheid tree ingevolge plaaslike regeringswetgewing op om die gebruiksregte toe te ken en die bouplanne goed te keur wat nodig is om die fisiese uitbreiding van deelgrense te fasiliteer. Daarna tree die regspersoon kragtens deeltitelwetgewing op om die uitbreiding ingevolge artikel 5(1)(h) goed te keur en sodoende die deeltitelgedeelte van die proses aan die gang te sit, wat uitloop op die registrasie van die uitbreiding van die deelgrense in die deeltitelregister in die akteregistrasiekantoor.
Volgens so ’n beskouing is die bevoegdhede wat artikel 5(1)(h) aan die regspersoon verleen nie onbelemmerd of van ’n onbeperkte omvang nie, maar pas dit in by ’n groter wets- en prosedureraamwerk. Die regspersoon is nie by magte om bouplanne ter syde te stel of gebruiksregte tot niet te maak wat die plaaslike regering reeds goedgekeur en toegeken het nie. Ten einde ’n bydrae tot regsekerheid in hierdie omstandighede te maak, sal hierdie artikel eerstens die volledige statutêre vereistes, wat in die twee aparte statutêre regimes vervat word wat die uitbreiding van ’n individuele deel se grense of vloeroppervlakte tot gevolg het, beskryf. Vervolgens sal die individuele prosesse nie bloot geïdentifiseer word nie, maar die belang van die volgorde van die prosesse van die aanvang tot die voltooiing, sal ook uitgelig word.
’n Komplekse statutêre raamwerk wat uit ’n opeenvolging van prosesse bestaan, waartydens die een op die ander bou, en nie met mekaar meeding nie, sal uit die verduideliking blyk. Indien hierdie prosesse behoorlik deur regspersone verstaan word, sal mistastings uit die weg geruim kan word.

A critical assessment of the board neutrality principle in South African takeover regulation against the backdrop of a stakeholder-inclusive framework

ARTIKEL

A critical assessment of the board neutrality principle in South African takeover regulation against the backdrop of a stakeholder-inclusive framework

Authors: Justice Mudzamiri and Kathleen van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow in the Faculty of Law, University of Johannesburg; Professor of Corporate Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 54-69
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a4

Abstract

Hierdie bydrae ondersoek die regverdigbaarheid van die direksieneutraliteitsbeginsel, ook bekend as die reël teen verydelende optrede, uit die perspektief van die beste belang van ’n maatskappy wat die teiken van ’n oorname is. Ingevolge Suid-Afrikaanse oornameregulering geld ’n verbod op optrede wat ’n oorname-aanbod kan verydel of aandeelhouers die geleentheid kan ontsê om oor die meriete van ’n aanbod te besluit. Daar is ’n lys van spesifieke aksies wat die direksie van die doelwitmaatskappy nie sonder die toestemming van die aandeelhouers mag onderneem sodra ’n aanbod ontvang is of die direkteure glo dat ’n aanbod op hande is nie. Deur hul effektiewe vetoreg op verydelende optrede geniet die betrokke aandeelhouers dus die eksklusiewe reg om oor die aanbod te besluit.
Ons beoordeel die Suid-Afrikaanse beginsel van direksieneutraliteit in samehang met die vergelykbare posisie in die Verenigde Koninkryk en vergelyk dit dan met die kontrasterende benadering in die Verenigde State van Amerika. In laasgenoemde regsbestel staan dit die direksie vry om stappe te neem wat ’n aanbod kan verydel indien die direkteure op redelike gronde glo dat die oorname ’n negatiewe invloed op korporatiewe beleid en effektiwiteit sal hê. In hierdie verband geld benewens hul gebruiklike vertrouens- en sorgsaamheidspligte ’n aangepaste, strenger, sake-oordeeltoets. Hierdie benadering maak sterk staat op die betrokkenheid van die howe om die optrede te toets.
Aangesien die huidige Suid-Afrikaanse benadering die belange van aandeelhouers vooropstel, oorweeg ons of die direksie nie ook hier toegelaat moet word om die uitkoms van ’n oorname-aanbod te beïnvloed in die beste belang van die maatskappy met inagneming van die belange van ander belanghebbendes nie.

A judicial review of “any other arbitrary ground” as a ground of unfair discrimination under section 6(1) of the Employment Equity Act 55 of 1998

ARTIKEL

A judicial review of “any other arbitrary ground” as a ground of unfair discrimination under section 6(1) of the Employment Equity Act 55 of 1998

Author: Elsabé Huysamen

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer in Mercantile and Labour Law, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 70-93
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a5

Abstract

Binne die oorkoepelende reg op gelykheid soos gewaarborg deur artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, word differensiële behandeling op ontoelaatbare gronde, of om ontoelaatbare redes, spesifiek verbied ingevolge die grondwet se bepalings oor onbillike diskriminasie (a 9(3) en (4)). In die arbeidskonteks word hierdie grondwetlike beskerming teen onbillike diskriminasie grotendeels gereguleer deur die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998. Dit was eers ingevolge die Gelyke Indiensneming Wysigingswet 47 van 2013 dat die frase “enige ander arbitrêre grond” in 2014 geïnkorporeer is in artikel 6(1) van die Wet op Gelyke Indiensneming. Alhoewel hierdie frase, en die betekenis daarvan, met eerste oogopslag eenvoudig gelyk het, het die ontleding en toepassing daarvan aanvanklik tot wydverspreide debat gelei.
Teen die voorafgaande agtergrond bied hierdie artikel ’n oorsig van hoe die kommissie vir versoening bemiddeling en arbitrasie (KVBA) en arbeidshowe die frase “enige ander arbitrêre grond” binne die bestek van eise gebaseer op onbillike diskriminasie ingevolge die gewysigde artikel 6(1) geïnterpreteer het. Die bespreking begin met ’n oorsig van ’n tydperk van relatiewe onsekerheid wat onmiddellik gevolg het na die 2014 wysigings tot die Wet op Gelyke Indiensneming. Gedurende hierdie tydperk het die KVBA en arbeidshowe uiteenlopende benaderings gevolg rakende die vraag of “enige ander arbitrêre grond” eng of breed geïnterpreteer behoort te word. Ingevolge ’n eng benadering word die frase vertolk as ’n ongespesifiseerde, maar analoë grond tot die lys van gronde wat reeds in artikel 6(1) vervat is. Gevolglik, en soortgelyk aan die posisie voor die 2014 wysiging van artikel 6(1), bestaan daar steeds net twee kategorieë van verbode gronde: gelyste en ongelyste (of arbitrêre) gronde. Daarteenoor, ingevolge ’n breë benadering, moet “arbitrêr” geïnterpreteer word as irrasionele of wispelturige optrede. Ingevolge ’n breë benadering het die uitdruklike toevoeging van die frase “enige ander arbitrêre grond” dus die bestaan van drie duidelike kategorieë van verbode gronde aangedui: gelyste, ongelyste én arbitrêre gronde.
Vervolgens val die klem op die arbeidshof se uitspraak in Ndudula v Metrorail, gevolg deur die arbeidsappèlhof se beslissings in Naidoo v Parliament of the Republic of South Africa en Minister of Justice and Correctional Services v Ramaila, wat gesamentlik ’n waardigheid-gefokusde (eng) benadering tot die interpretasie van die frase bevestig het.
Ten slotte bespreek die artikel belangrike lesse wat geneem kan word uit regspraak tot op datum en belig dit die beginsels en oorwegings wat die KVBA en arbeidshowe se huidige benadering tot eise van onbillike diskriminasie op ’n arbitrêre grond gevorm het.

Paraphilia and criminal responsibility – a South African criminal justice perspective

ARTIKEL

Paraphilia and criminal responsibility – a South African criminal justice perspective

Authors: Pieter Carstens, Llewelyn Curlewis and Philip Stevens

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Emeritus Professor, Department of Public Law, University of Pretoria; Senior Lecturer, Department of Procedural Law, University of Pretoria; Professor, Department of Public Law, University of Pretoria
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 94-116
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a6

Abstract

Die komplekse verhouding tussen parafilieë en die reg is al lank ’n bron van kommer, met historiese wortels in die waarneembare verband tussen seksuele afwyking en kriminaliteit. Hierdie verwantskap is al breedvoerig gedokumenteer en geopper in die sfeer van die psigiatrie, wat opsigself wetgewing beïnvloed wat seksuele gedrag reguleer. Terme soos “seksuele afwyking” en “seksuele perversie” is in wetgewing gebruik, terwyl argaïese morele terme, soos “onnatuurlike dade” en “onuitspreeklike misdade teen die natuur”, die ontwikkelende aard van maatskaplike houdings teenoor parafilieë beklemtoon en dit veral as taboe en onwaardig vir wetlike oorweging klassifiseer.
Parafilie verwys na intense, volgehoue seksuele belangstellings wat afwyk van die tipiese opwekkingspatrone, met die potensiaal om skadelik te wees vir die persoon self óf om skade en/of nadeel vir iemand anders te veroorsaak. Voorbeelde sluit onder andere in: ekshibisionisme, voyeurisme, pedofilie en seksuele sadisme. Die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesversteurings, (vyfde uitgawe – DSM-V) onderskei tussen parafilieë en parafiliese afwykings en beklemtoon dat nie alle parafilieë psigiatriese behandeling benodig nie.
Om parafilie te verstaan, is noodsaaklik vir die ontwikkeling van effektiewe wetgewende en terapeutiese benaderings en intervensies. In die Suid-Afrikaanse strafreg het parafilie ’n belangrike rol gespeel in verskeie sake. Howe moet gereeld die rol van parafilie oorweeg in die bepaling van strafregtelike aanspreeklikheid en vonnisoplegging. Die kompleksiteit van parafilie bied uitdagings vir die regstelsel, wat ’n genuanseerde begrip van die wisselwerking tussen geestesgesondheid en kriminele gedrag vereis. Deur die kruispunt van parafilieë en die reg te verken, kan ons die kompleksiteit van die bestuur van hierdie afwykings en die bevordering van openbare veiligheid beter verstaan. ’n Omvattende benadering, wat insig vereis vanuit die oogpunt van die psigiatrie, asook van die reg en etiek is noodsaaklik om die uitdagings aan te spreek wat parafilieë bied.
Hierdie bydrae ondersoek die verskynsel van parafilie met spesifieke verwysing na die definisie, diagnostiese klassifikasie en eienskappe daarvan, sowel as ’n paar gevalle van parafilie in Suid-Afrikaanse strafreg. ’n Kort assessering word gemaak van hoe Suid-Afrikaanse strafhowe parafilie hanteer het in die verlede. In hierdie verband word ’n analise gemaak van die strafregtelike aanspreeklikheid van die parafilienaar. Die moontlike rol van neurowetenskap in die verklaring van parafiliese neigings en gedrag sal beoordeel word teen die agtergrond van vooruitgang in neurowetenskap in terme van die verklaring van kriminele gedrag. Die koppelvlak tussen die strafreg en mediese etiek binne die konteks van hierdie tema word ondersoek. Ten slotte word aanbevelings vir moontlike hervorming bespreek.

Collective bargaining in the gig economy: a comparative analysis

ARTIKEL

Collective bargaining in the gig economy: a comparative analysis

Authors: Betina Fleming and Marthinus van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Director: Employee Relations; University of the Witwatersrand; Associate Professor; Wits School of Law
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 117-142
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a7

Abstract

In hierdie artikel ondersoek die outeurs die evolusie en toepassing van kollektiewe bedingingsregte binne die gig-ekonomie deur middel van ’n vergelykende analise van vyf jurisdiksies: Brasilië, China, Indië, Kenia en Suid-Afrika. Die studie ondersoek hoe tradisionele arbeidsregsraamwerke, histories ontwerp rondom standaard diensverhoudinge, nie pas hou met die realiteite van platformgebaseerde werk en die uitdagings wat dit vir werkers wat kollektiewe verteenwoordiging soek, inhou.
Die studie begin deur die Internasionale Arbeidsorganisasie se normatiewe raamwerk te ondersoek, wat kollektiewe bedinging as fundamenteel vir die bereiking van ordentlike werk vestig. Ten spyte van die organisasie se inklusiewe visie wat hierdie regte uitbrei na alle werkers ongeag hul indiensnemingstatus, toon die analise beduidende implementeringsgapings in die ondersoekte jurisdiksies. Die sentrale struikelblok wat geïdentifiseer is, is die sistematiese wanklassifikasie van platformwerkers as onafhanklike kontrakteurs eerder as werknemers, wat hulle effektief uitsluit van tradisionele kollektiewe bedingingsmeganismes. Die artikel identifiseer verskeie algemene hindernisse vir kollektiewe organisering in die gig-ekonomie. Dit sluit in regsuitsluitings wat voortspruit uit verouderde indiensnemingsdefinisies, strukturele fragmentasie van die werksmag wat solidariteit belemmer, algoritmiese beheerstelsels wat toesig en werksonsekerheid skep en platformweerstand teen werkersorganisasie. Die gedesentraliseerde aard van platformwerk, gekombineer met werkers se vrese vir vergelding deur rekeningdeaktivering of verminderde werktoewysing, skep afskrikwekkende effekte op kollektiewe optrede. In al vyf lande, het platformwerkers merkwaardige innovasie getoon in die organisering van pogings, die gebruik van sosiale medianetwerke, die vorming van werkerskoöperasies en die deelname aan spontane kollektiewe aksies. Hierdie grondvlak-inisiatiewe bly egter regsonerkenbaar en struktureel kwesbaar. Dit funksioneer buite formele raamwerke vir arbeidsverhoudinge.
Die vergelykende analise toon dat, ten spyte van verskillende regs- en politieke kontekste, alle jurisdiksies nie daarin slaag om kollektiewe bedingingsregte voldoende uit te brei na platformwerkers nie. Dit skep ’n groeiende groep ekonomies afhanklike werkers wat regsonsigbaar bly en uitgesluit word van fundamentele arbeidsbeskerming. Daar word bevind dat die bereiking van betekenisvolle kollektiewe bedinging in die digitale ekonomie fundamentele regshervorming vereis. Arbeidsreg moet verder as tradisionele indiensnemingsbinariteite ontwikkel om funksionele benaderings te omhels wat diverse arbeidsreëlings erken. Sonder sodanige transformasie sal die fundamentele beginsels van vryheid van assosiasie en ordentlike werk vir platformwerkers onverwesenlik bly, wat demokratiese arbeidsverhoudinge in die digitale era ondermyn.