Section 2(3) of the Wills Act: more uncertainty surrounding the controversial condonation provision – multiple potential documents to be condoned and the application of section 4A disqualifications in the context of condonation

AANTEKENINGE

Section 2(3) of the Wills Act: more uncertainty surrounding the controversial condonation provision – multiple potential documents to be condoned and the application of section 4A disqualifications in the context of condonation

Author: JT Faber

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 564-578
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a9

Abstract

Sedert die inwerkingtreding van artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 in 1992, dien dit as ’n kritiese kondonasie-meganisme wat howe in staat stel om formeel gebrekkige dokumente as testamente te aanvaar ten einde uitvoering aan die testateur se bedoeling te verseker. Ten spyte van geregtelike en akademiese pogings om die interpretasie en toepassing van hierdie “reddingsbepaling” te verduidelik, toon onlangse uitsprake dat daar steeds onsekerheid heers oor hoe om hierdie belangrike bepaling behoorlik te interpreteer en toe te pas. Hierdie aantekening ondersoek hierdie onopgeloste kwessies krities, met ’n fokus op die regstatus van die dokument(e) onderhewig aan kondonasie en hoe dit in die boedelberedderingproses hanteer moet word, met inagneming van die normale erfreg en boedelberedderingsreëls en -beginsels.
Die aantekening sal aan die hand van Wren v Master of the Eastern Cape High Court en Solomon v Solomon ondersoek hoe die howe, waar daar meerdere teenstrydige testamentêre dokumente was, die toepassing van die reëls rakende herroeping van testamente en potensiële begunstigde-diskwalifikasie ingevolge artikel 4A in die konteks van kondonasie benader het. Hierdie sake onderstreep die verwarring oor die status van die tersake kondonasie-dokument(e), voor en na die kondonasie daarvan – veral die vraag na die regsrelevansie daarvan voor kondonasie, sowel as die regstatus daarvan na kondonasie (of sodanige dokumente, sodra dit gekondoneer is, as testamente, kodisille of wysigings tot bestaande testamente funksioneer). Die aantekening beklemtoon dat alle artikel 2(3)-dokumente regtens relevant is en as sodanig in die boedelberedderingproses hanteer moet word, maar ook dat dit eers deur die hof gekondoneer moet word – sodat die formele gebrek indien gepas verskoon word – alvorens dit as ’n testament hanteer kan word.
Die uiteindelike doel met die aantekening is om te pleit vir ’n meer konsekwente en beginselvaste benadering tot die interpretasie en toepassing van artikel 2(3), wat die noodsaaklikheid beklemtoon om uitsluitlik te fokus op die vraag of daar aan die statutêre vereistes vir kondonasie voldoen word. Dit waarsku howe daarteen om kwessies soos testeerbevoegdheid, herroeping of diskwalifikasie voortydig aan te spreek voordat kondonasie toegestaan word. ’n Behoorlike begrip van artikel 2(3) is noodsaaklik om te verseker dat die testateur se bedoeling gerespekteer word, terwyl die integriteit van die breër erfreg gehandhaaf word. Slegs dan kan die reddingsbepaling sy doel behoorlik dien om die laaste wense van die oorledene binne die grense van ’n duidelike en betroubare regsraamwerk te beskerm.

A reassuring judgment for “slip and fall” victims with a caveat to restaurateurs to reassess the effectiveness of their disclaimer notices

REGSPRAAK

A reassuring judgment for “slip and fall” victims with a caveat to restaurateurs to reassess the effectiveness of their disclaimer notices

Author: J Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 579-597
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a10

Abstract

Sogenaamde “gly en val”-litigasie dien met eentonige reëlmaat voor ons howe. Ongelukkig strook die uitkomste van vele van die hofsake nie met mekaar nie en noodgedwonge soek ’n mens dan leiding in die nuutste uitsprake van ons hoër howe. Hierdie gevalle behels die probleemgebied in die deliktereg wat te make het met aanspreeklikheid weens ’n onregmatige, nalatige versuim (nalate) en, meer in besonderhede, waar die eienaar en/of beheerder van ’n perseel nagelaat het om voldoende maatreëls te tref om diegene wat die perseel betree teen ’n gevaartoestand inherent aan die perseel te beskerm met gevolglike nadeel aan sodanige aanwesiges. Die delikselemente wat meeste onder die loep geneem word, is dié van onregmatigheid en nalatigheid (met inbegrip van bydraende nalatigheid), terwyl daar ook in talle gevalle uitsluitsel oor die doeltreffendheid van eienaars se vrywaringskennisgewings gegee word.
In die saak onder bespreking het ’n klant in die verweerder se restaurant op nat vloerteëls gegly, geval en ernstige beserings opgedoen. Die hof het bevind dat haar val te wyte was aan ’n skoonmaker se versuim om die nodige waarskuwingsbordjies behoorlik sigbaar op die vloer te plaas. Die hof bevind dat die eiseres die vereiste delikselemente van handeling (late), onregmatigheid, nalatigheid, nadeel en kousaliteit bewys het en self nie van bydraende nalatigheid verwyt kon word nie. Verder is daar beslis dat die verweerder nie op die gebruiklike vrywaringskennisgewing wat behoorlik uitgestal was aanspraak kon maak nie, omdat dit onbillik teenoor die eiser sou wees in die betrokke omstandighede.
Daar word aangedui dat die uitspraak in vele opsigte vir kritiek vatbaar is, byvoorbeeld met betrekking tot die wyse waarop die waarnemende regter haar stof gerangskik het, asook hoe sy die elemente van nalatigheid en onregmatigheid nie altyd duidelik onderskei het nie deur gebruik te maak van uitgediende terminologie soos “duty of care”. Besondere aandag word bestee aan die hof se hantering van die vrywaringskennisgewing, veral met verwysing na die onlangse uitspraak rakende dieselfde McDonald’s-kennisgewing in Lombard v McDonald’s Wingtip waar die beroep daarop wél suksesvol was.

Subpoena duces tecum issued against an associate professor in the Faculty of Medicine and Health Sciences at the University of Stellenbosch – confidentiality of information obtained from patients raised but not decided – what is the true position?

REGSPRAAK

Subpoena duces tecum issued against an associate professor in the Faculty of Medicine and Health Sciences at the University of Stellenbosch – confidentiality of information obtained from patients raised but not decided – what is the true position?

Author: W De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 598-613
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a11

Abstract

Die saak van MEC for Health, Gauteng v Solomons het sy weg gebaan deur drie hoë howe, te wete die Gauteng plaaslike afdeling van die hooggeregshof, Johannesburg, gevolg deur die volle bank van daardie afdeling en daarna die hoogste hof van appèl, sonder dat dit enige voordeel vir enige van die rolspelers, behalwe die regsverteenwoordigers, gebring het. Die rede vir die onnodige litigasie, met meegaande hoë koste, was die hardkoppige en arrogante optrede van die lid van die uitvoerende raad (LUR) van die Gautengse departement van gesondheid. Die feitelike gebeure in die drie howe, wat vol kinkels en draaie is, kan kortliks soos volg opgesom word.
Die eiseres in die hoofgeding het, namens haar minderjarige kind, ’n aksie vir skadevergoeding teen die LUR ingestel weens breinskade wat haar kind by geboorte opgedoen het as gevolg van nalatigheid van die mediese personeel betreffende die voor-geboorte prosedures. Terwyl die geding hangende was, het die LUR ’n subpoena duces tecum op Dr Regan Solomons, ’n medeprofessor aan die departement van geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, laat beteken (hierna “prof Solomons”). Prof Solomons was ’n mede-outeur van ’n artikel wat met breinskade van babas by geboorte gehandel het en die LUR het by wyse van die subpoena duces tecum gepoog om ’n baie wye reeks inligting betreffende vorige mediese sake, deskundige verslae, mediese rekords en ander mediese data van prof Solomons te bekom. Prof Solomons het geweier om aan die subpoena te voldoen, as gevolg waarvan die LUR onmiddellik ’n dringende aansoek tot die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg gerig het waarin sy gevra het dat die hof prof Solomons moet verplig om die materiaal te oorhandig. Prof Solomons het die aansoek geopponeer op die grondslag, eerstens, dat hy nie die materiaal in sy besit het nie en, alternatiewelik, dat die inligting vertroulik is en dat hy volgens wetgewing dit slegs kan onthul as die betrokke pasiënte toestemming daartoe gee of as die hof hom gelas om dit te doen. Die LUR het steeds daarop aangedring dat prof Solomons aan die subpoena duces tecum moet voldoen, alhoewel sy dit nie betwis het dat prof Solomons nie die materiaal in sy besit gehad het nie. As gevolg van die LUR se stilswye betreffende dié feit, was daar nie ’n werklike dispuut om te beslis nie. Nietemin het beide die hof a quo en die volle hof die meriete van prof Solomons se alternatiewe verweer in oorweging geneem, vir doeleindes van ’n gepaste kostebevel. Beide howe het beslis dat die LUR jammerlik gefaal het in haar poging om die uitreiking van die subpoena duces tecum te regverdig. Die LUR was nog nie bereid om die handdoek in te gooi nie, klaarblyklik omdat die regskoste nie uit haar eie sak betaal hoef te word nie maar die belastingbetalers daarvoor moet opdok. Sy het gevolglik na die hoogste hof van appèl geappelleer. Daardie hof se uitspraak gaan met respek mank aan etlike gebreke. Die kern van die kritiek is dat dit oor die algemeen oppervlakkig is. Die feitelike agtergrond word nie duidelik uiteengesit nie en die volle hof se uitspraak word nie behoorlik ontleed nie hoewel dit gekritiseer word. Die hoogste hof van appèl het beslis dat die twee ander howe nie die meriete moes oorweeg het nie aangesien daar geen geskil voor dié twee howe was nie. Die hof het sonder om die meriete te behandel, die appèl van die hand gewys en beslis dat die verhoorhof die aansoek van die rol moes geskrap het.
Die volle hof het ’n deeglike uitspraak gelewer waarin rigtinggewende beginsels rakende die toepassing van die wetgewing wat die vertroulikheid van kommunikasie tussen dokter en pasiënt reguleer, neergelê is. Die uitspraak verdien lof en behoort leiding te bied aan ander howe, ten spyte van die hoogste hof van appèl se negatiewe kommentaar daarop. Die posisie in Suid-Afrika met betrekking tot die vertroulikheid van mededelings tussen dokter en pasiënt word hierna behandel, deur eerstens die gemeenregtelike bedeling aan die hand van regspraak te bespreek en daarna die wetgewende bedeling met verwysing na regspraak te behandel. Volgens laasgenoemde is die uitgangspunt dat sodanige kommunikasie streng vertroulik is. Daar is egter uitsonderings, naamlik onder andere, as die pasiënt toestemming gee vir die onthulling of as die hof dit gelas, of as dit in die openbare belang is.
Die posisie in Australië ten aansien van die onderwerp word daarna behandel. Op federale vlak en op staatlike vlak is daar verskillende wetgewende maatreëls wat beskerming bied aan die vertroulikheid van kommunikasie tussen dokter en pasiënt. Die wetgewende bepalings skep nie ’n eenvormige bedeling nie en is ook beperk, in die sin dat dit nét op hofverrigtinge betrekking het.
Die bespreking sluit af deur aan die hand te doen dat die Suid-Afrikaanse wetgewende bedeling die vertroulikheid van mededelings tussen dokter en pasiënt in ’n voldoende mate beskerm en dat dit dus nie nodig is nie om erkenning te gee aan ’n privilegie eo nomine, soos in die geval van ’n regspraktisyn en kliënt-verhouding waar kommunikasie deur regsprofessionele privilegie beskerm word. Daarbenewens, is daar ook geen baat te vind by die Australiese wetgewende bedeling nie. Die hoogste hof van appèl se uitspraak in die Solomons-saak gaan met respek mank aan substansie, maar dit het minstens die geleentheid gebied om ’n aktuele onderwerp te bespreek. Gelukkig het die volbank se uitspraak in die saak vergoed vir die leemtes in die hoogste hof van appèl se uitspraak.

The foreign business establishment exemption to the controlled foreign company rules as interpreted by the South African courts in the Coronation trilogy

REGSPRAAK

The foreign business establishment exemption to the controlled foreign company rules as interpreted by the South African courts in the Coronation trilogy

Author: L Tredoux

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 613-631
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a12

Abstract

Multinasionale maatskappye bedryf dikwels besigheid in meer as een staat op ’n wyse wat wins vergroot en koste, insluitend belastingkoste, verminder. Vir ’n maatskappy om in ’n spesifieke staat belasbaar te wees word ’n nexus of band met die spesifieke land vereis. Suid-Afrika belas tradisioneel inwoners op hul wêreldwye inkomste terwyl nie-inwoners op ’n bron-basis belas word. Suid-Afrikaanse inwoners kan hierdie belastingbasis vermy deur buitelandse maatskappye op te rig wat nie aan een van die tradisionele nexus-vereistes voldoen nie.
Om belastingvermyding deur multinasionale maatskappye te voorkom het verskeie state “beheerde buitelandse maatskappy”-reëls gepromulgeer. Hierdie reëls skryf gewoonlik die buitelandse inkomste van die buitelandse maatskappy toe aan sy eienaars of beheerders in die staat waar laasgenoemde vir belastingdoeleindes as ’n inwoner geklassifiseer is. ’n Uitsondering op hierdie reëls vind toepassing indien die buitelandse maatskappy aktiewe inkomste verdien deur die bedryf van ’n buitelandse sake-instelling wat aan spesifieke vereistes voldoen.
Suid Afrikaanse howe het onlangs die toepassing van hierdie uitsondering in ’n trilogie uitsprake geïnterpreteer. Die klem van die howe se analise was op die korrekte betekenis en toepassing van die feitevraag oor wat die primêre besigheid van die buitelandse maatskappy behels. Alhoewel die uitkoms ooreenstem met die benadering in sommige ander state, is dit op ’n ander grondslag bereik. Na analise van die reëls wat ter sprake was in die Coronation-trilogie, uiteensetting van opinies deur kundiges in die veld en ’n kort vergelyking van die howe se benadering tot soortgelyke vrae in Europa, beveel die outeur aan dat die toepassing van die beheerde maatskappyreëls moontlik beperk kan word tot kunsmatige skemas of besighede wat belastingvermyding beoog. Hierdie voorgestelde wysiging is egter ’n beleidsvraag en die opsies vir hervorming van die reëls in hierdie konteks word kortliks uiteengesit.

An artificial distinction? The interpretation of “debt” in the Prescription Act 68 of 1969

REGSPRAAK

An artificial distinction? The interpretation of “debt” in the Prescription Act 68 of 1969

Author: Y Joubert

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 632-641
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i3a13

Abstract

Die litigasie in Rademeyer v Ferreira hou verband met ’n kontrak vir die verkoop van onroerende eiendom tussen Ferreira en Rademeyer. Om te bepaal of Ferreira se eis vir skadevergoeding verjaar het, moes die konstitusionele hof oorweeg of kontrakbreuk en spesifieke nakoming gebaseer is op dieselfde skuldoorsaak. Volgens die meerderheidsbeslissing is dit nie die geval nie, met die gevolg dat Ferreira se skadevergoedingseis suksesvol verdedig is deur Rademeyer se spesiale pleit van verjaring. Alhoewel Ferreira se aansoek vir spesifieke nakoming regterlike stuiting van verjaring ingevolge artikel 15(1) van die Verjaringswet 68 van 1969 bewerkstellig het, kon hierdie aansoek geen effek uitoefen op die eise vir kansellasie en skadevergoeding nie. Die rede hiervoor is dat ’n eis vir skadevergoeding nie gebaseer is op dieselfde skuldoorsaak as ’n vordering vir spesifieke nakoming nie. Die hof bevind dat Ferreira se vordering vir skadevergoeding ten tyde van die aansoek uiteraard nog nie bestaan het nie, aangesien die ooreenkoms op daardie stadium nog nie gekanselleer was nie. Dit sou ’n absurditeit wees om te bevind dat verjaring ten aansien van die eis vir skadevergoeding deur die aansoek om spesifieke nakoming bewerkstellig was. Hierdie gevolgtrekking is teenstrydig met die beslissings van die verhoorhof, die hof van appèl en die minderheid van die konstitusionele hof. Laasgenoemde het die beslissing van die appèlhof bevestig, naamlik dat die grondslag vir die skadevergoedingsaksie dieselfde is as vir spesifieke nakoming, aangesien beide gebaseer is op gemene feite. Derhalwe het die betekening van Ferreira se oorspronklike aansoek in 2012 vir ’n verklarende bevel om spesifieke nakoming te gelas, of in die alternatief skadevergoeding te vorder, die verloop van verjaring ten aansien van die vordering vir skadevergoedings óók gestuit.
In hierdie bespreking word tot die slotsom geraak dat die redenasie van die meerderheid in die konstitusionele hof regtens korrek is, maar vir doeleindes van praktiese doeltreffendheid sou dit beter gewees het om Ferreira die kans te gun om te appelleer. Die redenasie is gebaseer op akademiese opinie dat ’n “skuld” ingevolge die Verjaringswet algemeen interpreteer moet word, en dat ’n oordeel gevel moet word, wat prakties is. Verder, word geredeneer dat daar in die Suid-Afrikaanse reg nog nie uitsluitsel bereik is of kansellasie van ’n ooreenkoms die grondslag vorm van ’n nuwe skuldoorsaak nie.