REGSPRAAK

Artificial intelligence: a tool or an inhibitor for access to justice?

Author: MM Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 881 – 890
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a15

Abstract

Daar bestaan ’n oortuiging dat tegnologie en spesifiek kunsmatige intelligensie die sleutel kan wees tot sinvolle toegang tot geregtigheid vir onverteenwoordigde litigante. Toegang tot regsverteenwoordiging is duur en kan selfs ’n belemmering vir geregtigheid wees. Dit is met hierdie besorgdheid voor oë dat die Keniaanse saak Commission on Administrative Justice v Savla 2026 KEHC 4891 (KLR) kritiese aandag verdien. Regter Chigiti het ’n litigant wat homself verteenwoordig, verbied om kunsmatige intelligensie te gebruik in die opstel van hofstukke. Dit ondanks die feit dat die hof geen fout in die stukke gevind het nie en ook geen beslissing gevel het oor gehallusineerde gesag of valse verwysings nie. Alhoewel die hof die diensleweringsmeriete ondersoek het, is dit lighartig gedoen. Die litigant is gestraf nie vir wat sy stukke bevat het nie, maar vir hoe dit opgestel was. In hierdie bespreking word daardie uitspraak ondersoek teen ander regterlike reaksies in Suid-Afrika oor gehallusineerde gesag. In Makunga v Barlequins Beleggings (Pty) Ltd h/a Indigo Spur ((19733/2017) 2023 ZAWCHC 332 (1 Des 2023)), het die hof die kwaliteit van ’n litigant wat homself verteenwoordig se tegnologies-gesteunde hoofde van argument geloof en opgemerk dat dit beter was as wat sommige lede van die balie produseer en aan die hof voorlê. In Roux v Van Greunen ((2025/081170) 2026 ZAGPJHC 55 (29 Jan 2026)), is die hof gekonfronteer met die resultaat van gehallusineerde kunsmatige intelligensie en gefabriseerde uitsprake wat as vermeende gesag aangebied is. Desnieteenstaande het die hof geweier om die gebruik van kunsmatige intelligensie sonder meer te verbied of as ’n misbruik van die regsproses te klassifiseer. Die outeur betoog dat die redenasie in die Salva-saak problematies is. Dit het die grondwetlike gelykheidsargument omgekeer deur ’n instrument wat ’n individu sonder regsverteenwoordiging nader aan ’n institusioneel-gesteunde teenstander kon bring, as ’n prosedurele fout te beskou. Dit skep ’n profilaktiese reël op grond van geen bewese skade nie. ’n Vergelyking van die Roux- en Savla-sake dui op die afwesigheid van samehang van die verbodsbenadering wat in die Savla-saak gevolg is. Waar werklike skade teenwoordig was, het die Suid-Afrikaanse hof geen verbod opgelê nie. Waar geen skade bewys is nie, het die Keniaanse hof die swaarste beskikbare remedie opgelê. In die bespreking word geargumenteer dat kunsmatige intelligensie toegang kan verleen tot geregtigheid wat voordelig is vir ’n litigant sonder regsverteenwoordiging. Die beslissing in die Savla-saak het die toegang tot geregtigheid onderdruk.