ARTIKEL
The Consolidated Practice Directives of 2025 on the lodgement of rules substituted, added to, amended or repealed for approval by the community scheme ombud service in sectional title and other community schemes
Author: CG Van der Merwe
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Fellow, Department of Private Law, University of Stellenbosch, Emeritus Professor in Civil Law, University of Aberdeen, and the Department of Private Law, Law Faculty, University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2026, p. 643-661
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i4a1
Abstract
Hierdie bydrae handel oor die wysiging van reëls vir goedkeuring deur die gemeenskapskema ombuddiens (community scheme ombud service) ingevolge die Consolidated Practice Directives 1 van 2025 wat al die vorige practice directives hersien en saamgevoeg het. Dit handel oor die indiening van reëls wat vervang, bygevoeg, gewysig of herroep is vir goedkeuring deur die community scheme ombud service en ongewensde bestuurs- en gedragsreëls in deeltitel- en ander gemeenskapskemas. Wat deeltitelskemas betref, word die goedkeuring aansoekprosedure en -vereistes, kwaliteitversekering van die reëls en die finale goedkeuring van die reëls, behandel. Daarna word ’n wye spektrum van ongewensde bestuurs- en gedragsreëls bespreek. Voorbeelde van ongewensde bestuursreëls handel onder andere oor reëlgebaseerde uitsluitlike gebruiksareas, geysers, taalbeleid, besigheidsaktiwiteite, rente en heffings. Voorbeelde van ongewensde gedragsreëls gaan oor die verbruik van voedsel op die gemeenskaplike eiendom, die behandeling van huishoudelike werknemers, huurderuitsettings, die parkering van voertuie in die skema, die slag van diere vir godsdienstige doeleindes, die aanhou van troeteldiere, eiendomspraktisyns, korttermyn-verhuringsplatforms en die gebruik van dagga ofte wel cannabis in deeltitelskemas. Hierop volg ’n bespreking van die vrywillige indiening van skemareëls en bestuursdokumente vir alle gemeenskapskemas, behalwe deeltitelskemas. Die gemeenskapskema moet vorm B1, die aansoek vir wysiging van reëls voltooi, vergesel van sekere dokumente, onder andere ’n ondertekende besluit wat die wysiging van bestuursdokumentasie bevestig. Die skema-bestuursbeampte (scheme governance officer) moet kwaliteitversekering uitvoer op die skema-bestuursdokumentasie wat ontvang is en moet uiteindelik ’n kwaliteitversekeringsertifikaat gestempel deur die hoof-ombud aan die gemeenskapskema stuur. Soos in die geval van deeltitelskemas, kan die Consolidated Practice Directives sekere reëls as aanvaarbaar erken. Voorbeelde daarvan is ’n reël wat nie toelaat dat ’n huishoudelike werker rondloop op die gemeenskaplike eiendom sonder ’n naamplaatjie nie, ’n reël wat ’n lid dwing om sy/haar huurder uit te sit, ’n reël wat die slag van diere vir godsdiensdoeleindes binne die skema verbied, en gemeenskapskemas wat geklassifiseer is as natuur- en/of wildbewaringsgrondstukke wat fauna en flora bewaar. ’n Reël mag aangeneem word wat die slag van fauna en beskadiging van flora binne die gemeenskaplike landgoed verbied. Die Consolidated Practice Directives is ’n groot verbetering op die onsamehangende wyse waarop vorige praktykriglyne die wysiging ens van bestuurs- en gedragsreëls reguleer het. Die byvoeging van verduidelikende wetgewende bepalings het die gehalte van die Consolidated Practice Directives aansienlik verbeter. Belangrik, die insluiting van duidelike en praktiese voorbeelde van wat die community scheme ombud service as onwenslike bestuurs- of gedragsreëls beskou, sal rigtinggewend wees wanneer skemas die wysiging van hul reëls oorweeg. Ons wag gretig op die uitsprake van die hoërhowe wat oor die geldigheid van reëls wat aan hulle voorgelê word, moet besluit.