ARTIKEL

The origins of the sustainability concept in space law

Author: Theunis Kotzé

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg Research Centre for Private International Law in
Emerging Countries
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 484-498
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a3

Abstract

Enigeen wat gebeure in die Verenigde Nasies volg, sou opgemerk het dat die onderwerp van volhoubaarheid in die buitenste ruimte deesdae groot nuus is. Maar hoekom het volhoubaarheid dan so ’n drywer in ruimte-ontwikkeling geword? Tydens die Koue Oorlog was breë internasionale ooreenkoms oor globale ruimtebestuur makliker om te bereik en die Verenigde Nasies se Committee for the Peaceful Uses of Outer Space se vyf verdrae oor die buitenste ruim in ’n tydperk van net meer as ’n dekade het ruimtereg as ’n heeltemal nuwe vertakking van internasionale reg geskep. Alhoewel die Verenigde Nasies die konsep van volhoubare ontwikkeling op aarde al vir meer as vier dekades tydens ’n aantal wêreldwye topberade en fora aangespreek het, is die uitbreiding van die konsep van volhoubaarheid na die buitenste ruimte ’n meer onlangse ontwikkeling. Dit is genoodsaak deur die besef dat die aarde se wentelbaan-omgewing ’n beperkte hulpbron is wat deur ’n toenemende aantal akteurs gebruik word, insluitend state, internasionale organisasies, nie-regeringsorganisasies en privaat maatskappye. Navorsing dui aan dat die internasionale ruimtegemeenskap wel vroeg reeds bekommerd was oor probleme met die ruimte-omgewing tydens verkenning en van die behoefte om die ruimte-omgewing te beskerm. Alhoewel verskeie aspekte van die werk van hierdie Verenigde Nasies se komitee relevant was, soos die beskikking oor ruimtetuigrommel en monitering van ruimteweer, is hierdie onderwerpe in isolasie en in afsonderlike agendapunte aangespreek. Twee ernstige voorvalle in die ruimte na 2006, naamlik twee stelle toetse van anti-satelliet wapens en ’n botsing tussen die Iridium 33 en Cosmos 2251 satelliete, het toenemend bewustheid onder die multilaterale delegasies geskep. Tesame daarmee het beter navorsing oor die kwessies wat verband hou met langtermyn volhoubaarheid die bespreking oor hierdie konsep binne die komitee na 2007 bevorder. Dit het egter geblyk moeilik te wees om weer die roete van ’n internasionale verdrag te volg wat ’n fokus op sagte(r) regsriglyne en -standaarde genoodsaak het. Dit lei tot die 2007 Space Debris Mitigation Guidelines. Langtermyn volhoubaarheid van ruimte aktiwiteite is uiteindelik bevestig as ’n agendapunt onder ruimtevarende lande in multilaterale fora vanaf 2010. Dit is gedryf deur ’n besef dat indien almal net korttermyn belange oorweeg, die toekoms van ruimteverkenning en -gebruik ernstig benadeel sal word. In onlangse jare sou die werkgroep ooreenkom oor langtermyn volhoubaarheid van die ruimte ten aansien van 21 tendens-vernuwende riglyne en ’n polities betekenisvolle en konteksbepalende teks in die Long-term Sustainability of Outer Space Guidelines. Regsgeleerdes wat aktief in die vakgebied werksaam is, moet derhalwe in ag neem dat die onderwerp van volhoubare ontwikkeling in die buitenste ruimte toenemend die belangrikste gesprekspunt raak.