REGSPRAAK

The mountain must go to Mohammed: private entities doing the state’s work due to the state’s laxity – are the courts facilitating this?

Author: YM Joubert

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2026, p. 629-637
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i3a11

Abstract

In die normale loop van sake kan privaat entiteite nie ongevraagd werk namens staatsorgane onderneem, en daarna hul uitgawes van die staat terugeis nie. Dit is egter wat in hierdie geval gebeur het. Goldfields het ’n vervalle publieke pad namens die munisipaliteit herstel en het daarna hulle uitgawes van die munisipaliteit probeer verhaal. Dit is algemeen aanvaar dat Goldfields nie kennisgewing ingevolge artikel 3(1) van die Wet op die Instel van Regsgedinge teen sekere Staatsorgane 40 van 2002 gegee het nie. Die LUR het ’n spesiale pleit geopper waarin beswaar aangeteken is teen die gebrek aan die statutêr vereiste kennisgewing aan die staat. Die hof van eerste instansie het saamgestem en die spesiale pleit gehandhaaf teen Goldfields. Op appèl het die volbank egter Goldfields van die statutêr vereiste kennisgewing vrygestel. Daar is bevind dat die skuldoorsaak nie ’n onregmatige daad was wat ’n vordering om skadevergoeding ten grondslag kan lê nie en die geskil gevolglik nie binne die bestek van die wet se definisie van ’n “skuld” val waarop die kennisgewingvereiste van toepassing is nie. Die hoogste hof van appèl het daardie bevinding van die volbank bevestig. Die appèlhof het beaam dat die skuldoorsaak saakwaarneming was waarop die actio negotiorum gestorum toepassing vind. As sodanig kan dit nie as ’n vordering vir skadevergoeding geklassifiseer word nie. In hierdie bespreking van die uitspraak word met die appèlhof saamgestem. Kennisgewing soos vereis ingevolge Wet 40 van 2002 was onnodig aangesien die skuldoorsaak nie ’n verwytbare onregmatige daad is soos bedoel in die wet nie. Dit word egter bevraagteken of die hof geregtig was om sonder meer te verklaar dat die skuldoorsaak saakwaarneming was. Die hof kon moontlik rede gehad het om te twyfel oor Goldfields se oogmerk toe hulle die pad herstel het. Is die herstel regtig ten gunste van die LUR gedoen, of was dit tot Goldfields se eie ekonomiese voordeel? In die lig van die feit dat Suid-Afrika tans swig onder swak dienslewering deur die staat, word uitgewys dat hierdie tipe eise, waar privaat individue herstelwerk aan staatseiendom (paaie, ens) verrig juis weens die staat se laksheid maar sonder ’n mandaat daarvoor deur die staat, meer gereeld voorkom. Dit blyk uit sake soos MEC v Goldfields, asook Agri Eastern Cape v MEC, asof die howe hiermee genoeë neem en die proses selfs probeer fasiliteer deur prosedurele maatstawwe daar te stel wat nagekom moet word, ten einde suksesvolle eise te verseker vir die onkostes aangegaan ten behoewe van die staat.