ARTIKEL
No limiting principle: the authoritarian statism underlying South Africa’s legal discourse of “transformative constitutionalism”
Author: Martin Van Staden
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Head of Policy, Free Market Foundation
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2026, p. 252-275
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i2a3
Abstract
Sogenaamde “transformatiewe konstitusionalisme” (eerder, transformatisme) is die ideologiese grondslag van Suid-Afrika se hedendaagse toonaangewende regsdiskoers. Dit streef na sogenaamde substantiewe gelykheid in alle wesenlike velde van die samelewing en meen dat hierdie oënskynlike ideaal nie organies tot stand gaan kom nie. Wetgewende- en juridiese sosiale manipulering word dus ontplooi, ook met ’n voorkeur vir gesentraliseerde magspolitiek bo gedesentraliseerde of strengbeperkende modelle. Die staat word met ander woorde beskou as die sentrale werktuig vir dié sosiale verandering. Transformatisme vereis ’n kragtige uitvoerende en wetgewende gesag, ondersteun deur ’n regbank wat óf terughoudend is wanneer die regering “transformasie” bevorder, óf aktivisties optree wanneer die regering versuim om transformasiedoelwitte na te streef. Die howe, wat die ideologiese uitgangspunte van die politieke elite weerspieël, word in ooreenstemming met ’n beginsel van sosialistiese regsdenke beskou as deel van die “verenigde mag” van die staat, eerder as ’n werklike kontrole oor staatsmag. Hierdie oordrewe staatsbenadering verwerp onder andere streng-beskermde private eiendomsregte en markvryheid, ten gunste van staatsgedrewe herverdeling van eiendom en hulpbronne. Transformatisme streef uiteindelik die totale herstrukturering en herkonfigurasie van die hele Suid-Afrikaanse samelewing na. Hierdie benadering bots met tradisionele opvattings van konstitusionalisme.
Konstitutionalisme is die beginsel van regsbeperkte staatsmag, daarop gemik om willekeurige magsuitoefening te voorkom en vryheid, pluralisme en geregtigheid te beskerm. Transformatisme verwerp hierdie uitgangspunt van beperking en karakteriseer dit as ’n fasade vir die voortsetting van historiese ongelykhede en wit bevoorregting. In die plek daarvan moet staatsgedrewe maatskaplike verandering en herverdeling bo die heerskappy van die reg geprioritiseer word – en die heerskappy van die reg moet selfs herdefinieer word om plek te maak (ingevolge regsbeginsel) vir die transformasiedoelwitte van die huidige regering. Hierdie benadering skryf ideologiese betekenisse aan die teks van die Suid-Afrikaanse grondwet toe, om die hoogste reg te instrumentaliseer vir outoritêre en selfs totalitêre doeleindes. Die vermoë om outoritêre doeleindes in die fasade van reg en konstitusionalisme te omhul, is lank reeds ’n aantreklike meganisme vir diegene met tiranniese agendas, en post-apartheid Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Deur die grondwet as ’n werktuig vir magspolitiek eerder as die beskerming van vryheid en die opbouing van die regstaat te gebruik, ondermyn transformatisme die idee van konstitusionalisme per se en kan dus onder geen omstandighede sélf as (“transformatief-”) konstitusioneel beskryf word nie.