ARTIKEL

Unlawful and illegal mining in South Africa: primum est leges imponere deinde remedia

Author: PJ Badenhorst

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Law, Deakin University, Australia; Honorary Professor of Law, NNMU
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 472-485

Abstract

Sedert die ontdekking van minerale in Suidelike Afrika het prospektering en mynbou meestal kragtens wetgewing en die gemenereg plaasgevind. Onregmatige en onwettige mynbou het natuurlik ook voorgekom, maar dit is veral gedurende die laaste twee dekades dat die verskynsel aansienlik toegeneem het. Die oorsake van onregmatige en onwettige mynbou kan toegeskryf word aan ’n verskeidenheid van faktore, onder andere die sluiting en afstanddoening van myne deur mynmaatskappye, gebrek aan nuwe beleggings, armoede, ekonomiese en sosiale probleme, wanadministrasie van die wet en georganiseerde misdaad. Die ekonomie, sosiale strukture en veral die omgewing word uiters nadelig geraak deur onwettige mynbou. Die redes vir onwettige mynbou en die nadelige oorsake daarvan val buite die omvang van hierdie artikel.
Die artikel poog eerder om die juridiese betekenis van die begrippe onregmatige en onwettige prospektering en mynbou te bepaal. Die Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 van 2002 (die wet) reguleer prospektering en mynbou. Die beskouing bestaan dat wetstoepassing ingevolge ’n sogenaamde publieke of openbare eiendomsreguleringsregime (“public property regulatory regime”) plaasvind. In die algemeen is prospektering en mynbou wat buite die parameters van die wet plaasvind, onregmatig. Byvoorbeeld, om te prospekteer of te myn sonder ’n (a) prospekteerreg, mynpermit of mynreg; (b) omgewingsmagtiging; of (c) voorgeskrewe kennisgewing binne die voorgeskrewe tyd aan die eienaar of okkupeerder van die grond, word as onregmatig aangemerk (a 5A van die wet). Die tekortkominge van die wet rondom eiendomsreg van geskeide en ongeskeide minerale word uitgelig. Die artikel toon aan in welke mate die gemenereg die tekortkominge van die publieke eiendomsreguleringsregime aanvul. Voorbeelde van bepalings in die Mineral Resources (Sustainable Development) Act 1990 (V) van die Australiese staat, Victoria, word voorgehou as moontlike oplossings vir sommige gebrekkige bepalings van die wet. Die teorie van subjektiewe regte ten aansien van minerale word ook ingespan ten einde gemeenregtelike bevindinge omtrent eiendomsreg van onafgeskeide en geskeide minerale te staaf. Die persoon wat onregmatig prospekteer of myn tree egter nie op namens die persoon wat die houer is van die bevoegdheid om te prospekteer en te myn nie want die persoon is nie gemagtig om sodanig op te tree nie. Die remedies vir onregmatige prospektering en mynbou word ook kortliks bespreek. Optrede in stryd met die bepalings van artikel 5A van die wet is ’n misdaad. Die artikel toon dat, anders as tevore, prospektering en mynbou in stryd met artikel 5A nie behoorlik verbind is met die misdaad as sulks en strafbepalings van die wet nie. Die ooglopende teenstrydigheid is te wyte aan die ondeurdagte wetswysigings deur die wetgewer gedurende 2013.
Die slotsom is dat oplossing van die probleme rondom onregmatige en onwettige prospektering en mynbou nie te vinde is in die publieke eiendomsreguleringsregime van die wet nie maar eerder aangetref word in die gemeenregtelike beginsels en remedies wat die wet aanvul. Daar word aanbeveel dat regsekerheid omtrent eiendomsreg van minerale voor en na skeiding van die grond deur prospekteerders en mynbouers wat onregmatig optree, eers in die wet bereik moet word, alvorens die probleme van onregmatige en onwettige prospektering en mynbou behoorlik aangespreek kan word. Die regering behoort regstelling van die gewraakte bepalings in die wet en die alledaagse probleme rondom onregmatige prospektering en mynbou ernstig op te neem.