ARTIKEL

The structure of parking in sectional titles schemes

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Fellow, Department of Private Law, University of Stellenbosch, Emeritus Professor in Civil Law, University of Aberdeen and the Law Faculty, University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 439-453

Abstract

Parkering in deelskemas is dikwels ’n omstrede, netelige en verwarrende saak. Die aanhou van twee of meer motors en dikwels groter voertuie, veroorsaak dat huidige deeltitelskemas nie voldoende ruimte het om die aanvraag na parkeerplekke te bevredig nie. Dit veroorsaak chaos en dwing trustees om informele parkeerreëlings te tref sonder inagneming van toepaslike wetgewing en die ooreenstemmende regulasies.
Parkeerplekke en gemeenskaplike motorhuise kan slegs op nege maniere wettig gestruktureer word. Parkering vir motors op parkeerstaanplekke of in motorhuise kan as gedeeltes van dele, individuele dele of as geregistreerde uitsluitlike gebruiksgebiede gestruktureer word deur dieselfde nommer, individuele nommers of unieke nommers soos P1 en P2 op die deelplan aan te toon. Verder kan dit gestruktureer word as geverfde parkeerplekke op die gemeenskaplike eiendom waar die stelreël eerste kom, eerste maal geld, of as uitsluitlike gebruiksgebiede wat op gedragsreëls gebaseer is. Nog verder kan staanplekke vir voertuie ingevolge ’n spesiale besluit of ingevolge ’n eenparige besluit én toewysing deur die eienaars as huurkontrakte van tot tien jaar of langtermynhuurkontrakte van meer as tien jaar gestruktureer word. Nogeens kan parkering gestruktureer word as grondserwitute ten gunste van buureienaars as vergoeding vir die verslapping van soneringsvereistes. Ten slotte kan parkering deur skriftelike trusteegoedkeuring, gewoonlik in noodgevalle, ingevolge skemagedragsreëls gestruktureer word as tydelike parkering.
Voorbeelde van meer omvattende regulering van parkering in die skemagedragsreëls is die vasklamping en wegsleep van voertuie wat onwettiglik geparkeer is en die verbod op die drup van olie op ’n parkeerplek of die aftakeling van voertuie in ’n motorhuis. Verder reguleer verskeie gedragsreëls die spoedgrens, en die hinderlike gebruik van toeters en die speel van harde musiek in staande voertuie op die perseel wat ’n oorlas daarstel. Ten slotte bepaal die gedragsreëls dat geen persoon in enige voertuig, of in ’n motorhuis of parkeerplek mag woon of slaap nie of dat ’n motorhuis as ’n slaapplek vir huispersoneel gebruik mag word nie.
Behalwe Kaapstad se Munisipale Beplanningsverordening van 2015 wat die minimum aantal besoekerparkeerplekke in deeltitelskemas bepaal, bepaal slegs een skemagedragsreël dat ’n eienaar of okkupeerder behalwe in ’n noodgeval, geen besoeker mag toelaat om ’n ander parkeerplek as ’n besoekerparkeerplek vir ’n bepaalde tyd te gebruik nie, sonder om besoekerparkeerplekke verder te reguleer.
Daarom word besoekerparkeerplekke dikwels meer omvattend in die skemagedragreëls vervat. Voorbeelde is dat die aangewese besoekerparkeerplekke uitsluitlik vir die korttermyn gebruik van bona fide besoekers is en dat eienaars of inwoners nie daarop mag parkeer of onpadwaardige voertuie daar mag berg nie; dat besoekerparkeerplekke nie vir langer as vier uur sonder vooraf bespreking beset mag word nie en dat identiteitskyfplakkers op alle besoekervoertuie aangebring moet word.
Laastens, moet parkeerplekke slegs vir parkeerdoeleindes gebruik word en nie vir enige ander doeleindes nie. Indien dit gebeur, mag die regspersoon die CSOS (ombud ingevolge Wet 9 van 2011) nader vir die verwydering van enigiets wat onregmatig op die parkeerplek geplaas is. Hierdie beginsel word verder uitgebrei in bykomstige skemagedragsreëls wat onder andere kan bepaal dat motorhuise primêr vir parkering gebruik moet word en nie vir residensiële doeleindes of as stoorruimte nie en dat geen sleepwaens, karavane of bote op die toegewese besoekerparkeerplekke of enige ander deel van die gemeenskaplike eiendom geparkeer of gestoor mag word nie.
My slotsom is dat kopers van eenhede in ’n deeltitelskema eerstens moet verseker dat die parkeerrregte wat hulle verkry fisies identifiseerbaar is en duidelik aangedui word in die koopooreenkoms. Daarvoor moet die deelplan, die geregistreerde skemareëls of die betrokke notariële sessie van die parkeerregte in die eienaar se naam noukeurig geraadpleeg word. Tweedens is die inhoud van addisionele gedragsreëls nou verbonde aan die karakter en fisiese eienskappe van die spesifieke skema.
In die praktyk word motorafdakke en veral motorhuise in die vorm van ’n tussenvloer aan die agterkant van die motorhuis dikwels gebruik om tuingereedskap en oortollige besittings te stoor. Ek stel voor dat hierdie populêre gebruik gelegitimeer word in die vorm van geregistreerde motorhuis cum bergings-uitsluitlike gebruikareas.