
ARTIKEL
The sequestration and possible rehabilitation of a trust in South African law – a critical analysis of Conradie v Master of the High Court: Kimberley (1260/2006) 2008 ZANCHC 50 (13 June 2008)
Author: P Bothma
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Advocate of the high court of South Africa, member of the Cape Bar and the Johannesburg Society of Advocates
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 696-710
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a3
Abstract
Dit is geyk dat insolvente trusts, beide testamentêr en inter vivos, gesekwestreer word ingevolge die Insolvensiewet 24 van 1936 en nie gelikwideer word ingevolge die bepalings van die Maatskappywet 61 van 1973 nie. Daar is egter nie eenstemmigheid oor of ’n gesekwestreerde trust wel gerehabiliteer kan word nie. In weerwil van akademiese kommentaar tot die teendeel, het die Noord-Kaapse hooggeregshof in Conradie v Master of the High Court: Kimberley beslis dat ’n trust wat gesekwestreer is, wél vatbaar is vir rehabilitasie.
Hierdie bydrae ondersoek dié teenstrydige sieninge rakende die rehabilitasie van ’n trust en die gevolgtrekking word bereik dat, weens die besondere aard van die trust in Suid-Afrika, ’n trust nie vatbaar is vir rehabilitasie is nie.
Na aanleiding van ’n kritiese analise van die kommentaar deur die Franse akademikus, Lepaulle, word daarop ag geslaan dat die trust in Suid-Afrika gekonsepsualiseer word as ’n boedel. Oorweging van regspraak insake die insolvensiereg wys daarop dat daar ’n onderskeid getref word tussen ’n “insolvent” en die “insolvente boedel”. Die insolvent verwys na die persoon wie se boedel gesekwestreer word en dit is nie die insolvent wat gesekwestreer word nie, maar wel die insolvent se boedel. ’n Gevolg van sekwestrasie is dat die insolvente boedel voortaan vestig in ’n trustee, gemagtig deur die meester, en dat die regstatus van die persoon wie se boedel gesekwestreer is verander na dié van ’n “insolvent”. Alhoewel ’n insolvent onmiddellik ’n nuwe boedel bekom, is sy vermoë om daarmee te handel beperk gegewe sy status as insolvent. ’n Insolvent se status word gerehabiliteer óf deur die verloop van tyd ingevolge die bepalings van die Insolvensiewet, óf by wyse van ’n hofbevel. So ’n rehabilitasie het egter nie tot gevolg dat die gesekwestreerde boedel voortaan in die voormalige insolvent vestig nie, maar eerder dat die voormalige insolvent onbelemmerd met die nuwe boedel kan handel. Dit is juis hierdie onderskeid tussen “insolvent” en “insolvente boedel” wat verklaar waarom ’n trust nie vatbaar is vir rehabilitasie nie. Aangesien ’n trust gekonsepsualiseer word as ’n boedel, en aangesien ’n gesekwestreerde boedel nie gerehabiliteer word nie, volg dit dat trusts ook nie gerehabiliteer kan word nie.
Hierdie bydrae ondersoek ’n verdere vraag: indien ’n trustboedel nie vatbaar is vir rehabilitasie nie, kan die amp van trusteeskap gerehabiliteer word?
Om hierdie vraag te beantwoord word die wisselwerking tussen die amp van trusteeskap en die trustboedel ondersoek en daar word aan die hand gedoen dat die amp van trusteeskap nie onafhanklik van die trustboedel kan bestaan nie. Trustees word aangestel ten opsigte van ’n spesifieke trustboedel en regverdig nie ’n onafhanklike bestaansreg nie. Gevolglik, sal die amp van trusteeskap ook beëindig word sodra die trustboedel afgehandel is, en kan daar nie sprake wees van die rehabilitasie van die amp van trusteeskap nie.