ARTIKEL

The relationship between principal and candidate attorney: an ethical and legal framework for the duty of supervision

Authors: M Van Eck and M Van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, School of Law, University of the Witwatersrand; Associate Professor, School of Law, University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 760-781
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a6

Abstract

Kandidaatprokureurs bevind hulself in ’n moeilike posisie. Aan die een kant is kandidaatprokureurs afhanklik van hul beroepsopleidingskontrak en voortgesette diens om toegang tot die regsberoep te verkry, terwyl hulle aan die ander kant dikwels die skuld kry vir sake wat verkeerd loop. Dit is dikwels die gevolg van professionele verwaarlosing in die vorm van die gebrek aan behoorlike toesig. In sekere opsigte het kandidaatprokureurs die sondebokke geword vir tekortkominge van hul prinsipale en regsfirmas. Dit is teen hierdie agtergrond dat hierdie artikel die plig van toesighouding tussen ’n prinsipaal en ’n kandidaatprokureur ondersoek.
Die presiese omvang van die plig tot toesig is nie altyd duidelik omskryf nie en min is al gesê oor welke regte of remedies ’n kandidaatprokureur sou hê (indien enige) in die geval van ’n prinsipaal se versuim om behoorlike toesig te verskaf. Die plig van toesighouding word beoordeel in die konteks van etiese-, professionele-, kontraktuele- en arbeidsregtelike pligte. In die konteks van etiese en professionele pligte is die plig van toesighouding nie duidelik omskryf in die Suid-Afrikaanse konteks wat geen tasbare vereistes van ’n prinsipaal in die konteks van hul toesighoudende pligte voorsien nie (dit is wel anders in jurisdiksies soos Australië, Engeland en Ierland). In die konteks van kontraktuele pligte word ’n prinsipaal se pligte vaagweg beskryf binne die standaard beroepsopleidingskontrak.
Vae terminologie soos “beste pogings” word gebruik wat effektief kontraktuele remedies verwyder. Ander jurisdiksies, soos Engeland en Ierland, verskaf omvattende pligte en duidelike riglyne in verband met die verwagte opleiding en toesig van ’n prinsipaal. In die konteks van arbeidsreg bevat die onderliggende diensverhouding tussen die prinsipaal en kandidaatprokureur die normale arbeidsremedies. Die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 en die Wet op Beskermde Bekendmakings 26 van 2000, beskerm die kandidaatprokureur teen openbaarmakings rakende ’n onvoldoende vlak van opleiding en toesig wat gelei het tot die ontslag van die kandidaatprokureur. Nietemin kan ’n kandidaatprokureur nie as ’n passiewe deelnemer in hul beroepsopleidingskontrak funksioneer nie. Indien ’n kandidaatprokureur nie ’n taak kan verrig nie, is daar beslis ’n plig om dit onder hul prinsipaal se aandag te bring. Die verhouding tussen ’n prinsipaal en die kandidaatprokureur is nie eensydig nie. Vir ’n beroepsopleidingskontrak om suksesvol te wees, moet beide die prinsipaal en die kandidaatprokureur hul onderskeie rolle speel.