The Legal Practice Act regulations on community service for candidates and legal practitioners in South Africa: are they adequate in promoting access to justice for the indigent?

Author: DR Holness

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Director, Law Clinic, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 272-291
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a5

Abstract

Die Wet op Regspraktyk 28 van 2014 reguleer alle aspekte van regspraktisyns en kandidaatregspraktisyns se optrede, insluitend die toelatingsvereistes vir kandidate en die vereistes om voort te gaan om te praktiseer vir toegelate praktisyns. Artikel 29 van die Wet op Regspraktyk maak voorsiening vir gemeenskapsdiens deur (a) kandidaatregspraktisyns en (b) praktiserende regspraktisyns. Op 11 Augustus 2023 is gemeenskapsdiens geïmplementeer met die publikasie van die regulasies met betrekking tot die uitvoering van gemeenskapsdiens. Gemeenskapsdiens deur regspraktisyns en kandidate word as deurslaggewend beskou as deel van die proses om die tekort aan regshulp vir behoeftiges in Suid-Afrika aan te spreek.
Hierdie regulasies bestaan uit twee afsonderlike dele. Die eerste hou verband met gemeenskapsdiens as ’n klein deel van die praktiese beroepsopleiding van kandidaatregspraktisyns. Beroepsopleiding is die vereiste praktiese opleiding tussen voltooiing van ’n regsgraad en toelating as regspraktisyn. Die tweede deel dek voortgesette gemeenskapsdiens deur praktiserende regspraktisyns.
Ingevolge die regulasies word van kandidate – wat reeds in diens is – vereis om agt uur gemeenskapsdiens onder toesig per jaar van hul een of twee jaar se beroepsopleiding te doen. Dit word as ’n jammerlik onvoldoende aantal gemeenskapsdiensure beskou vir kandidate, beide omdat baie beperkte toegang tot regswerk in so ’n tydperk gebied kan word, en omdat kandidate minimale blootstelling sal kry aan die sake van behoeftiges. Dit sal ook nie toegang tot die reg bevorder nie. Verder word geen nuwe indiensneming geskep om gemeenskapsdiens te verrig vir gegradueerdes wat steeds op soek is na praktiese beroepsopleidingskontrakte om te kan kwalifiseer nie, wat problematies is in die konteks van die hoë werkloosheidsyfer van regsgegradueerdes in Suid-Afrika.
Wat toegelate regspraktisyns betref, word daar ingevolge die regulasies van hulle verwag om 40 uur gemeenskapsdiens per jaar op ’n deurlopende basis te verrig. Hierdie 40 uur is ’n verhoging van die grootliks onafdwingbare 20 en 24 uur per jaar vir verskillende vertakkings van die regsberoep wat voorheen voor die inwerkingtreding van hierdie bepalings van dié wet in plek was. Die outeur voer aan dat gemeenskapsdiens vir kandidate (soos uiteengesit in die regulasies) onvoldoende is, hoewel die voorsiening vir toegelate praktisyns belowend is.
Bogenoemde gevolgtrekkings is gemaak teen die agtergrond van ’n ontleding van die regsposisie in Nederland en België, eersgenoemde wat ’n gebrek aan gemeenskapsdiensvereistes vir toegelate praktisyns het en laasgenoemde wat slegs beperkte diensvereistes vir kandidate toon. Daarteenoor word aangedui dat in ander jurisdiksies in Afrika soos in Malawi en Uganda, wat weliswaar nie deel van die Suid-Afrikaanse gemenereg vorm nie, wel vir verpligte gemeenskapsdiens voorsiening gemaak word.