The challenges in relation to undocumented abandoned children in South Africa

Authors Amanda Boniface, Whitney Rosenberg

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Affiliated with the University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2019, p. 41 – 62

Abstract

DIE UITDAGINGS IN VERBAND MET ONGEDOKUMENTEERDE KINDERS IN SUID-AFRIKA ‘n Groot aantal kinders in Suid-Afrika val binne die kategorie van ongedokumenteerde kinders. Dit is hoofsaaklik as gevolg van Suid-Afrika se verouderde wetgewing in verband met burgerskap en die toepassing van hierdie wetgewing. Die impak van hierdie probleem strek verder as buitelanders en sluit ook Suid-Afrikaanse kinders in. In hierdie artikel ondersoek die outeurs die probleem deur die bepalings van die Kinderwet (Children’s Act) 38 van 2005, die geboorteregistrasieproses in Suid-Afrika en die implikasies van "veilige-hawe"-wette te analiseer. In die bydrae word verwys na Naki v Director-General: Department of Home Affairs waar die hof moes besluit of artikel 9 en 10 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes 51 van 1992 (en sub-regulasies (3) en (5) van regulasies 3, 4 en 5 en sub-regulasie (1) van regulasie 12) ge\xc3\xafnterpreteer moet word op ‘n manier wat effek gee aan die regte van kinders soos vervat in artikels 28(1) en (2) van die grondwet. Derhalwe het waarnemende regter Bodlani beveel dat die betrokke regulasies en sub-regulasies (te wete sub-regulasie (3)(f) en (i) en (5) tot regulasies 3, 4 en 5 sowel as sub-regulasie (i) van regulasie 12) ongrondwetlik is. Vergelykbare regsbepalings van die Verenigde State van Amerika, sowel as Duitsland, word ondersoek. Daarbenewens word die bepalings van verskeie internasionale konvensies wat verband hou met hierdie aangeleenthede aangeraak. Aanbevelings wat gemaak word, sluit in dat die Duitse reg, sowel as die wette van die Verenigde State van Amerika, goeie voorbeelde is van state wat beskerming verleen aan ongedokumenteerde kinders teen moontlike diskriminasie. Daar word aangevoer dat soortgelyke bepalings met vrug ook in Suid-Afrika gebruik kan word. Daar word ook voorgestel dat vermoede in die Duitse reg dat elke kind wel ‘n Duitse burger is, deur die Suid-Afrikaanse reg nagevolg behoort te word. Hierdie vermoede sou dus behels dat alle kinders wat in Suid-Afrika gebore word, veronderstel moet word om Suid-Afrikaanse burgers te wees, tensy die teenoorgestelde bewys word. Alternatiewelik word aangevoer dat ongedokumenteerde kinders, soos in die Verenigde State van Amerika, "Special Immigrant Juvenile Status" behoort te geniet en aldus op die regte van burgers aanspraak moet kan maak. Geen kind in Suid-Afrika behoort dus ongedokumenteer gelaat te word nie. Elke kind, ongeag sy of haar nasionaliteit, behoort die basiese regte wat gewaarborg word in die Suid-Afrikaanse grondwet te kan geniet en te kan afdwing.