Setting aside the (result of a) vote to reject a business rescue plan: mind the gaps when biting at the cherry!

Authors: P O’Brien and J Calitz

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg; Associate Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 409-435
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a1

Abstract

Die Maatskappywet 71 van 2008 skep ’n regsmiddel van laaste hulp wanneer daar nie genoeg steun van skuldeisers is om ’n sakereddingsplan te aanvaar nie. Dit verg ’n hofaansoek om (die uitslag van) ’n stemming waartydens die sakereddingsplan verwerp is, ter syde te stel. Daar is verskeie gapings in die wet wat die afdwinging van hierdie regsmiddel bemoeilik. Die vertolkingsprobleme wat vernaamlik in hierdie bydrae aangespreek word, is: Wat is die sneller vir die regsmiddel binne die konteks van die wet? Behels die regsmiddel dat die hof ’n diskresie uitoefen? Wat beteken die vereiste vir tersydestelling dat die stemming onvanpas was? Hoeveel faktore moet die hof volgens die wet in ag neem wanneer dit hierdie regsmiddel oorweeg? Wat is die vertolking van die drie faktore wat spesifiek in die wet genoem word wat oorweeg moet word, en in besonder sluit die eerste faktor die oorweging van goeie trou in? Met verwysing na watter tydstip moet oorweeg word of die stemming paslik was? Wat is die gevolge van die tersydestelling van (die uitslag van) die stemming? Wie moet as respondente gevoeg word tot ’n aansoek vir tersydestelling? Wat is die gevolg van die oënskynlike teenstrydigheid tussen die tersydestelling van die uitslag van ’n stemming, en die tersydestelling van ’n stemming, aangesien die wet beide uitdrukkings gebruik? Maak die regsmiddel dit moontlik dat die hof kan verklaar dat ’n sakereddingsplan soos gewysig deur die hof geag aanvaar te wees?

Daar word ook sydelings na moontlike grondwetlike kwessies verwys wat ter sprake kan kom by die regsmiddel. Terwyl verskeie van die leemtes wat deur die wetgewing gelaat is, gevul is deur die regspraak, was die wyse waarop dit gebeur het, in verskeie opsigte verrassend. Dit is veral ’n probleem dat benewens die drie faktore wat uitdruklik in die wet genoem word wat in ag geneem moet word wanneer die hof die regsmiddel oorweeg, die hoogste hof van appèl beslis het dat daarbenewens verdere faktore oorweeg moet word wat insluit dat die belange van alle belanghebbendes teen mekaar opgeweeg moet word. Dit behels potensieel die belange van ’n groot groep persone, insluitend die klante van die besigheid.

Dit is moeilik om te dink dat dit werkbaar by gebruik van die regsmiddel is om die belange van al hierdie persone in gedagte te hou. Daar bly ook ’n vraagteken hang oor die vraag of goeie trou oorweeg word wanneer die regsmiddel ter sprake kom, alhoewel daar sterk aanduidings is dat dit wel die geval is. Die bydrae moet saamgelees word met dié van ander kommentators wat uitwys hoe slordig hoofstuk 6 van die wet opgestel is en hoeveel leemtes dit het. Sakeredding is so ’n belangrike aangeleentheid dat hierdie hoofstuk van die wet die sosio-ekonomiese welstand van ons land in gedrang kan bring.