AANTEKENINGE

Section 2(3) of the Wills Act: more uncertainty surrounding the controversial condonation provision – multiple potential documents to be condoned and the application of section 4A disqualifications in the context of condonation

Author: JT Faber

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 564-578

Abstract

Sedert die inwerkingtreding van artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 in 1992, dien dit as ’n kritiese kondonasie-meganisme wat howe in staat stel om formeel gebrekkige dokumente as testamente te aanvaar ten einde uitvoering aan die testateur se bedoeling te verseker. Ten spyte van geregtelike en akademiese pogings om die interpretasie en toepassing van hierdie “reddingsbepaling” te verduidelik, toon onlangse uitsprake dat daar steeds onsekerheid heers oor hoe om hierdie belangrike bepaling behoorlik te interpreteer en toe te pas. Hierdie aantekening ondersoek hierdie onopgeloste kwessies krities, met ’n fokus op die regstatus van die dokument(e) onderhewig aan kondonasie en hoe dit in die boedelberedderingproses hanteer moet word, met inagneming van die normale erfreg en boedelberedderingsreëls en -beginsels.
Die aantekening sal aan die hand van Wren v Master of the Eastern Cape High Court en Solomon v Solomon ondersoek hoe die howe, waar daar meerdere teenstrydige testamentêre dokumente was, die toepassing van die reëls rakende herroeping van testamente en potensiële begunstigde-diskwalifikasie ingevolge artikel 4A in die konteks van kondonasie benader het. Hierdie sake onderstreep die verwarring oor die status van die tersake kondonasie-dokument(e), voor en na die kondonasie daarvan – veral die vraag na die regsrelevansie daarvan voor kondonasie, sowel as die regstatus daarvan na kondonasie (of sodanige dokumente, sodra dit gekondoneer is, as testamente, kodisille of wysigings tot bestaande testamente funksioneer). Die aantekening beklemtoon dat alle artikel 2(3)-dokumente regtens relevant is en as sodanig in die boedelberedderingproses hanteer moet word, maar ook dat dit eers deur die hof gekondoneer moet word – sodat die formele gebrek indien gepas verskoon word – alvorens dit as ’n testament hanteer kan word.
Die uiteindelike doel met die aantekening is om te pleit vir ’n meer konsekwente en beginselvaste benadering tot die interpretasie en toepassing van artikel 2(3), wat die noodsaaklikheid beklemtoon om uitsluitlik te fokus op die vraag of daar aan die statutêre vereistes vir kondonasie voldoen word. Dit waarsku howe daarteen om kwessies soos testeerbevoegdheid, herroeping of diskwalifikasie voortydig aan te spreek voordat kondonasie toegestaan word. ’n Behoorlike begrip van artikel 2(3) is noodsaaklik om te verseker dat die testateur se bedoeling gerespekteer word, terwyl die integriteit van die breër erfreg gehandhaaf word. Slegs dan kan die reddingsbepaling sy doel behoorlik dien om die laaste wense van die oorledene binne die grense van ’n duidelike en betroubare regsraamwerk te beskerm.