Responding to the call for legislative development to alleviate the challenges with wage deduction as civil debt enforcement mechanism in South Africa: formulating a cohesive emolument attachment order act

Author: S Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior lecturer, Stellenbosch University Law Clinic
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2023, p. 60-78
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i1a4

Abstract

Krediteure se voorkeur vir die Suid-Afrikaanse besoldigingsbeslagleggingsbevel as ’n siviele skuldinvorderingsmetode kan waarskynlik onder andere toegeskryf word aan die vatbaarheid daarvan vir ernstige debiteure-uitbuiting. Hierdie misbruik het die afgelope dekade uitgebreide ingryping deur die howe en wetgewer genoodsaak. Ten spyte van die positiewe wysigings aan die Wet op Landdroshowe in 2018, geniet besoldigingsbeslagleggingsbevel-debiteure steeds nie voldoende beskerming teen uitbuiting nie. In hierdie verband is verskeie beroepe gedoen op organisasies soos die regspraktykraad, die wetgewer en die howe, wat waardevolle geleenthede verbeur het om die saak van besoldigingsbeslagleggingsbevel-skuldenaarbeskerming te bevorder. Hierdie beskerming ontbreek veral waar besoldigingsbeslagleggingsbevele uitgereik is voor die vereiste geregtelike toesig en daarna apaties daartoe afgedwing word. Hierdie situasie stel gewetenlose invorderingsagentskappe in staat om eensydig enige en alle koste wat hulle kan vervaardig teen die debiteur te hef, aangesien hierdie koste gewoonlik nie takseer of geverifieer word na die uitreiking van ’n besoldigingsbeslagleggingsbevel nie.  Pogings om hierdie misbruike reg te stel, is met groot weerstand begroet en was grootliks onsuksesvol. Sowel die regspraktykraad as die howe, en spesifiek die hoogste hof van appèl, het versuim om die dringende heersende bekommernisse aan te spreek deur die verantwoordelikheid vir regstellende stappe voor die deur van die wetgewer te lê. Die skrywer stem saam dat die mislukkings in hierdie verband nou wetgewende ingryping noodsaak. Trouens, die besoldigingsbeslagleggingsbevel-proses het ’n dringende behoefte aan verdere wetgewende hervorming, spesifiek gefokus op gevorderde skuldenaarbeskerming.  In hierdie bydrae word gereageer op die oproep om wetgewende ingryping deur wetgewende ontwikkeling voor te stel om die ernstige en heersende kommer met die besoldigingsbeslagleggingsbevel-stelsel te verlig. Die omvang van die vereiste wetgewende ontwikkeling en die rol van die omvattende omgewing word oorweeg, voordat die spesifieke inhoud van die voorgestelde ontwikkeling bespreek word. Die skrywer bepleit wetgewende herstrukturering in die vorm van die ontwikkeling en proklamasie van ’n nuwe wet, die voorgestelde Wet op Besoldigingsbeslagleggingsbevele, met omvattende regulasies wat uitsluitlik toegewy is aan die regulering van die besoldigingsbeslagleggingsbevel-meganisme en die relevante proses.