Regspraak: Vicarious liability once again – a seemingly uncontentious case marred by judicial errors

Author: J Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2023, p. 157-170
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i1a10

Abstract

 LRM v The Mnquma Local Municipality handel oor ’n geval waar ’n sekuriteitsbeampte, Tukani, in diens van die Mnquma-distriksmunisipaliteit, gedurende die nagtelike ure ’n vriend van hom te hulp gesnel het toe laasgenoemde deur ’n aanvaller met ’n mes bedreig is. Ten einde die aanvaller af te skrik, het Tukani eers twee skote met sy dienspistool in die lug afgevuur, maar toe die aanvaller geensins daardeur afgeskrik is nie, het hy ’n derde skoot gemik na die padoppervlakte langs die aanvaller se voete. Die koeël het egter opgeslaan vanaf die harde oppervlak en die muur van ’n voorafvervaardigde huis aan die oorkant van die pad deurboor, waar dit die slapende N in sy kop getref het. N het ernstige breinskade opgedoen. Sy vader (LRM) het namens N en in eie naam ’n deliktuele eis teen die munisipaliteit as Tukani se werkgewer ingestel. N se moeder (DJM) en suster (MM) wat teenwoordig was tydens die gebeure en die verwonding van N gadegeslaan en beleef het, het vorderinge weens erge trauma en senuskok teen die munisipaliteit ingestel. Die hof het op sterkte van die bewoording van dokumentasie wat Tukani se dienskontrak uitgemaak het tot die gevolgtrekking geraak dat die handeling wat hy verrig het binne die bestek van sy diensverhouding uitgevoer is. Versigtigheidshalwe het die hof egter beslis dat indien dit nie die geval sou wees nie, Tukani se handeling in voldoende noue verband met sy werkgewer se onderneming gestaan het om laasgenoemde middellik aanspreeklik te kon stel. Verder het die hof aandag bestee aan wat dit as “onregmatigheid” (“unlawfulness”) bestempel het. Ongelukkig is hierdie gedeelte van die uitspraak uiters onsamehangend, byvoorbeeld deurdat die hof die locus classicus van uitsprake wat met nalatigheid verband hou – te wete Kruger v Coetzee – voorgehou het as sou dit op onregmatigheid betrekking hê, welke bevinding as ’n growwe flater bestempel kan word.  Die logiese gevolgtrekking wat ’n mens kan maak uit die hof se behandeling van “onregmatigheid” – te wete ’n onvolledige oorsig van die nalatigheids- en kousaliteitsvereistes vir deliktuele aanspreeklikheid – is dat hierdie delikselemente verwar is met die begrip “delik”, ’n uitkoms waarvoor daar géén gesag bestaan nie en trouens as totaal onaanvaarbaar beskou kan word. Dele van dié bondige uitspraak, byvoorbeeld waar die hof tot ’n positiewe bevinding van feitelike en juridiese kousaliteit geraak het, kom neer op blote feitebevindings (decisiones) waarvoor daar geen verduideliking (ratio decidendi in tegniese sin) verskaf is nie. Dit is opmerklik dat die hof geen bevinding van onregmatigheid van Tukani se optrede gemaak het nie, ofskoon toepassing van die normaal tersake reëls sou aandui dat sy handeling wél onregmatig was weens die feit dat sy positiewe gedrag wat nadeel veroorsaak het ingevolge gevestigde reg prima facie onregmatig was en die taak aan die verweerder oorgelaat is om sodanige vermoede te weerlê, wat kennelik nie gebeur het nie. Daar kan instemming betuig word met die hof se uiteindelike bevinding dat die verweerder middellik aanspreeklik is.  In sy uitspraak het regter Smith ook versuim om ’n onderskeid te tref tussen die aard van die verskillende vorderinge wat teen die verweerder ingestel is, te wete N se eis op grond van liggaamlike beserings, LRM se eis weens die verswaring van sy onderhoudsplig teenoor N as gevolg van Tukani se handeling en, les bes, DJM en MM se vorderinge weens die veroorsaking van trauma en senuskok.  Ofskoon hierdie uitspraak as rapporteerbaar en van belang vir ander regters aangemerk is, is dit hoogs twyfelagtig dat dit enige nuttige doel sal dien as gesag vir die oplossing van probleme rakende middellike aanspreeklikheid, of die bepaling van deliktuele aanspreeklikheid deur oorweging van die aan- of afwesigheid van die erkende delikselemente.