Regspraak: To pay, or not to pay: that is the question

Author: FR Malan

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 746 – 754
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a8

Abstract

Die uitspraak van die supreme court van die Verenigde Koninkryk op 12 Julie 2023 is van besondere belang vir die ontwikkeling van die bankreg. Dit bring sekerheid en los ouer historiese vraagstukke op. Philipp v Barclays Bank is gemoeid met die vraagstuk wanneer mag en behoort ’n bank ’n betalingsopdrag van ’n kliënt te weier of op te skort hangende verdere bespreking met die kliënt.
As uitgangspunt word aanvaar dat die primêre plig van ’n bank is om die opdrag van sy kliënt spoedig en noukeurig uit te voer. Enige plig om die opdrag ter goeder trou en sonder nalatigheid uit te voer, het betrekking op die wyse van uitvoering soos wanneer die bank ’n insolvente korrespondent-bank sou aanstel. In die Philipp-saak word die sogenaamde sorgvuldigheidsplig wat in Barclays Bank PLC v Quincecare Ltd (1992 4 All ER 363) sy beslag gekry het, ondersoek en word bevind dat daar geen konflik tussen die plig om uitvoering aan die betalingsopdrag te gee en die plig om met redelike sorg op te tree bestaan nie. Die verpligting om met redelike sorg op te tree, het betrekking op die uitvoering van die opdrag; byvoorbeeld, welke korrespondentbank om aan te stel. Wanneer dit vasstaan dat die opdrag om te betaal of oordrag te bewerkstellig geldig is, moet daardie opdrag met sorg en te goeder trou uitgevoer word.
Die belangrike vraag wat egter agterweë bly, is wanneer, indien hoegenaamd, die bank moet weier om ’n betalingsopdrag uit te voer. In die lig van die ontleding van die bank- en kliëntverhouding waar die gemeenregtelike reël van die bank vereis om te goeder trou en sonder nalatigheid sy plig uit te voer, word aan die hand gedoen dat die betalende bank verplig is om sy kliënt van omstandighede te verwittig waarvan die kliënt onbewus is en wat daarop dui dat die kliënt sou verkies dat daar nie gevolg aan die betalingsopdrag gegee moet word nie.