Regspraak: Intimate partner rape: myths, reality and the law

Author: M Watney

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2022, p. 768-780
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i4a8

Abstract

Die voortdurende opwaartse neiging in misdaadstatistiek van seksuele misdrywe en waarvan dié soort misdaad in intieme verhoudings ook deel vorm, is ’n internasionale tendens. Ook Suid-Afrika het hierdie verskynsel nie vrygespring nie, en wel tot so ’n mate dat die hoogste howe in die land dit gerade geag het om duidelike waarskuwings uit te spreek teen dit wat hulle ooglopend té gereeld op die daaglikse hofrol vind (sien S v Chapman 1997 2 SASV 3 (HHA) 5A-B en S v Tshabalala 2020 2 SASV 38 (KH) par 76). Aanvaarding van die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) 32 van 2007 (die wet) is bygevolg allerweë verwelkom as ’n positiewe ontwikkeling om die ondersoek en vervolging van seksuele misdrywe na behore aan te spreek. Uit die internasionale ervaring is dit egter duidelik dat hierdie soort doelgerigte wetgewing nie alleenstaande die deurbraak gee nie: ook moet die bewys- en prosesreg tred hou met veranderinge en in besonder moet ’n kopskuif plaasvind in die stereotipes, vooroordele en mites wat deur die gemeenskap (en in besonder die regsgemeenskap) voorbehou word oor seksuele misdrywe.  In Coko v S (2022 1 SASV 24 (OKG)) appelleer die appellant sy skuldigbevinding in die streekhof aan verkragting ter oortreding van artikel 3 van die wet, na die hooggeregshof. In die verhoorhof is dit hom ten laste gelê dat hy die klaagster, met wie hy in ’n vaste verhouding was, verkrag het. Uit die feite blyk dit dat die paartjie op aandrang van die klaagster as maagd, reeds vroeg in hul verhouding die grens getrek het dat geen seksuele omgang aan die orde gaan wees nie. Drukkies, soentjies en intieme aanraking het wel gereeld plaasgevind. Op die gewraakte dag het die twee afgespreek dat die klaagster die nag by die beskuldigde sou deurbring. Nadat hulle saam in die bed ’n rolprent op ’n skootrekenaar gekyk het, het die appellant begin om die klaagster se pajamabroek af te trek. Sy het haar bene gekruis en gesê dat sy nie seksuele omgang wil hê nie. Die appellant het voortgegaan om haar te soen en het orale seks met haar gehad. Sy het nie daarteen kapsie aangeteken nie. Daarop het hy sy broek verwyder, op haar gerol en geslagsgemeenskap met haar gevoer. Tydens die gemeenskap het sy hom probeer afstoot en aangedui dat hy haar seermaak, maar hy het voortgegaan tot ejakulasie bereik is. Sy het hom daarop gevra waarom hy sy woord verbreek het en hy het aangedui dat hy in die moment meegevoer is. Die klaagster het die nag by hom deurgebring en is die volgende oggend weg. In ’n selfoonboodskap het die appellant apologie aangeteken omdat hy sy woord verbreek het deur onbeskermde gemeenskap met haar te hê. Die klaagster het die verhouding enkele dae later verbreek. Getuienis is aangebied deur ’n sielkundige dat die klaagster na afloop van die voorval paniekaanvalle gekry het en aan post traumatiese stressindroom gelei het. Sy het twee maande later ’n strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak. Die appellant het getuig dat hy uit die klaagster se liggaamstaal afgelei het dat sy toestemming tot gemeenskap gegee het. Die verhoorhof het die appellant se weergawe verwerp en hy is skuldig bevind aan oortreding van artikel 3 van die wet (verkragting) en gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf. Op appèl bevind die hooggeregshof egter dat die staat gefaal het om bo redelike twyfel te bewys dat die appellant bewus was dat daar geen toestemming was nie en dat hy dus nie opset gehad het om die klaagster te verkrag nie. Die skuldigbevinding en vonnis is bygevolg ter syde gestel.  Die toestemmingselement by verkragting sal deurgaans ’n deurslaggewende rol vervul, ten spyte van regshervorming wat daarop gemik is om die sekondêre viktimisasie wat dit tot gevolg het, te verminder (Burchell Principles of Criminal Law (2016) 619). Smythe en Pithey argumenteer dat in die lig van die bepalings van die wet, die feitelike ondersoek na die bestaan van toestemming eerder onderneem moet word deur ’n ondersoek na die optrede van die beskuldigde en die omringende omstandighede van die voorval (Sexual Offences Commentary Act 32 of 2007 (2011) 2-6). Skuld in die vorm van dolus directus of dolus eventualis word vereis alvorens ’n skuldigbevinding aan verkragting kan volg. ’n Beskuldigde sal vrygespreek word vanweë ’n gebrek aan wederregtelikheidsbewussyn indien hy bona fide, maar verkeerdelik geglo het dat die klaagster toestemming verleen het. Dit word nie vereis dat sy foutiewe geloof redelik moes wees nie. Daar word aan die hand gedoen dat in die onderhawige geval die appellant onder geen wanindruk kon verkeer oor die feit dat die klaagster geen toestemming tot seksuele omgang verleen het nie. Deur hierdie uitspraak het die hooggeregshof die indruk geskep dat seksuele voorspel outomaties toestemming tot opvolgende geslagsverkeer verleen. Alhoewel die destydse waarskuwing van Langenhoven in “Die mot en die kers” hier opklink, kan daar in ’n grondwetlike bedeling nie só onagsaam met die menswaardigheid, vryheid en sekerheid van die persoon omgegaan word nie.  Ook internasionaal word sodanige benadering afgekeur. In Engeland en Kanada word vereis dat die dwaling oor toestemming redelik moet wees. Die Engelse skrywers Rook en Ward Sexual Offences Law and Practice (2016) dui aan dat aanvanklike toestemming tot ’n tipe seksuele aktiwiteit nie outomaties beteken dat toestemming nou daarmee verleen is vir enige denkbare verdere seksuele aktiwiteite nie (79). In die Kanadese beslissing van R v Ewanchuk (1999 1 SCR 330) beslis die hooggeregshof dat voortgesette seksuele handelinge nadat ’n party toestemming geweier het, ten minste roekeloos is en onverskoonbaar (par 52). Die posisie in Malawi toon weinig ontwikkeling in pas met internasionale tendense. In België het die wetgewer so onlangs as 2 Junie 2022 die Strafwetboek se bepalings met betrekking tot verkragting dusdanig gewysig deur die invoeging van ’n omvattende definisie van toestemming waardeur dié element nou sentraal staan in die ondersoek of verkragting gepleeg is en is die vonnisbepaling ook sterk opwaarts aangepas (a 417/5 en 417/11 Strafwetboek). Ook in Spanje is wetgewing wat bepaal dat slegs uitgesproke toestemming tot seksuele omgang as toestemming aanvaar sal word, tans in die parlementêre aannemingsproses.  Daar word aan die hand gedoen dat die Wysigingswet sowel as die bestaande Suid-Afrikaanse straf-, proses- en bewysreg ’n voldoende raamwerk skep om seksuele misdrywe, óók gepleeg in intieme verhoudings na behore aan te spreek. Geen verdere regswysiging in dié verband word voorgestel nie. Wat wel aandag verdien is die stereotipes, vooroordele en mites wat deur die gemeenskap (en ook die regsgemeenskap) gekoester word oor seksuele misdrywe. Juis dáár lê die knoop wat toepassing van die reg op die feite erg belemmer.