Regspraak: Does a developer still play a role in the administration of a sectional title scheme after he or she has ceased to be the registered owner of land on which the scheme was developed? And is it correct that the voting percentage of the developer is suspended in calculating the voting percentage required for making a general meeting quorate?

Author: CG Van Der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2021, p. 859-870
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i4a10

Abstract

In Die Royal Palm-saak nader die regspersoon die KwaZulu Natal hooggeregshof om ’n bevel van ’n beregter van die KwaZulu Natal Ombuddiens op ’n regsgrond ter syde te stel. Die kernvraag is hoe die hof die verskille betreffende die kworumvereiste in reël 57(2)(c) van Aanhangsel 8 van die Deeltitelregulasies van 1988 wat op die betrokke deeltitelskema van toepassing was, kon versoen met die teenstrydige bepaling in reël 19(2)(b) van Aanhangsel 1 van die Regulasies op die Bestuur van Deeltitelskemas van 2016. Die hof aanvaar die bevinding van die beregter dat die kworumvereiste van 20 persent van die waarde van die gesamentlike kwotas in die 1988-Regulasies vervang is deur die vereiste van een derde van sodanige waarde in die 2016-Regulasies omdat nuwe wetsbepalings vroeëre algemene wetsbepalings vervang. Die hof verskil egter van die bevinding van die beregter dat die voorbehoud in die 2016-Regulasies, naamlik dat die waarde van die kwotas van die ontwikkelaar nie in aanmerking geneem moet word by die berekening van die kwotavereiste nie. Die hof beslis dat die voorbehoud nie van toepassing was nie en dat die waarde van die kwotas van die ontwikkelaar wel by die berekening van die kworumvereiste in aanmerking geneem kan word en dat die bevinding van die beregter dus verkeerd is, en die vergadering aan die kworumvereiste voldoen en dus wel geldig is. Die regter redeneer dat omdat die woordomskrywing van “ontwikkelaar” in die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas verwys na iemand wat die geregistreerde eienaar van grond is, die uitdrukking “ontwikkelaar” nie betrekking het op iemand wat nie meer die geregistreerde eienaar van die ontwikkelde grond is nie omdat hy of sy nou ’n deeleienaar en ’n lid van die regspersoon is. Die wet bevat egter verskeie bepalings ingevolge waarvan die ontwikkelaar nog steeds as ontwikkelaar funksioneer gedurende die tydperk nadat die deelplan geregistreer en die deeltitelregister geopen is en die ontwikkelaar dus nie meer die geregistreerde eienaar van grond is nie. Hierdie bepalings betrek ook die onderhawige geval waar die ontwikkelaar se stempersentasie nie in aanmerking geneem word by die berekening van die kworumvereiste nie. Dit beteken nie dat die ontwikkelaar nie algemene vergaderings mag bywoon of aan besluite van die vergadering mag deelneem nie, as aan die kworumvereiste voldoen is nie. Ek kom dus tot die slotsom dat die hof fouteer het deur die bevinding van die beregter te verwerp en die vergadering wel ongeldig was omdat nie aan die kworumvereiste voldoen is nie. In die laaste gedeelte van die bespreking wend ek ’n poging aan om die gevolge van die beoogde besluit op die nietige algemene vergadering te ontrafel.