
REGSPRAAK
Private defence or necessity? The quaint case of the absconding taxi driver
Author: J Scott
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 885-900
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a13
Abstract
Dit staan soos ’n paal bo water dat die norme ons deliktereg – ’n afdeling van die privaatreg wat besonder dikwels in regspraak weerspieël word – so stewig deur talle hofuitsprake gevestig is en deur akademici in handboeke deurtrap is dat die grondbeginsels daarvan, met geringe uitsonderinge, vasstaan. Daar sal gepoog word om aan te toon dat die hof in die saak onder bespreking gevestigde beginsels geïgnoreer het deur die verweer van ’n persoon wat teen ’n onregmatige aanvaller opgetree het en laasgenoemde daardeur benadeel het, as een van noodtoestand in plaas van noodweer te behandel.
Die feite het soos volg daar uitgesien: M, ’n veiligheidswag, het vermoed dat die eiser wat met sy taxi die terrein waaroor M toesig gehou het, wou verlaat, ’n gesteelde noodwiel in sy voertuig gehad het. M het die toegangshek toegestoot toe die taxi daardeur wou beweeg en die eiser (bestuurder) vervolgens gevra om dit te deursoek. Toe laasgenoemde hom ignoreer, het M die skuifdeur van die voertuig self oopgemaak en dit bestyg. Terwyl hy nog staande agter die bestuurdersitplek was, het die eiser skielik wild weggetrek, die kantspieël en skuifdeur teen ’n hekpaal afgery en teen hoë spoed voortgesnel terwyl hy sy voertuig heen en weer geswaai het in ’n poging om M by die deur te laat uitval. M se pleidooie dat hy moes stilhou, is in die wind geslaan en M het vir sy lewe gevrees. Daarop het M sy dienspistool aan die eiser getoon en uiteindelik ’n skoot deur die oop deur afgetrek, sonder enige effek. Ten einde raad het M die eiser toe in die been verwond, wat laasgenoemde gedwing het om sy voertuig tot stilstand te bring. Daarop het die eiser op grond van sy beserings in die streekhof vergoeding van M se werkgewer gevorder. Sy vordering is van die hand gewys omdat die landdros beslis het dat M in noodtoestand opgetree het, ofskoon laasgenoemde die regverdigingsgrond van noodweer gepleit het. Die eiser se appèl na die hooggeregshof het misluk, omdat die hof dit eens was met die streeklanddros se bevinding dat noodtoestand die toepaslike regverdigingsgrond was.
Daar word aan die hand gedoen dat die feitestel geen voorbeeld van die verweer van noodtoestand weerspieël nie, dog een van noodweer (soos inderdaad aanvanklik namens M gepleit). Die hoofkenmerk van ’n noodweershandeling, te wete ’n onregmatige aanval deur die eiser op M, was duidelik hier aanwesig, terwyl die hoofkenmerk van ’n noodtoestandshandeling, naamlik dat die benadeelde ’n onbetrokke (onskuldige) derde moet wees, afwesig was. Hierdie kenmerke word wyd in die regspraak en handboeke weergegee. ’n Aansienlike gedeelte van die uitspraak – waarin die hof aangedui het waarom die landdros nie fouteer het nie deur die uitspraak volgens die beginsels van noodtoestand te lewer, ofskoon die verweerder noodweer gepleit het – was dus streng gesproke onnodig.
Nieteenstaande die hof se verwarring betreffende die aanwending van die korrekte regverdigings-grond, is die bevinding te verwelkom dat M se handeling regmatig was en die eiser derhalwe in sy vordering moes misluk. Dit ly geen twyfel nie dat M se gedrag ingevolge die boni mores (ofte wel die regsoortuiging van die gemeenskap) – die erkende toets vir onregmatigheid – redelik en derhalwe regmatig was.