ARTIKEL

Parole power play: the correctional services minister’s power to revoke parole unilaterally

Author: LG Curlewis and KM Carter

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior lecturer in Public Law, University of Pretoria; LLM graduate and research assistant under supervision of Dr Curlewis, Law Faculty, University of Pretoria
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 486-502

Abstract

In hierdie artikel ondersoek die outeurs die besluit van Suid-Afrika se minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, om die parool van twee misdadigers wat elk tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, te herroep. Frans du Toit en Theuns Kruger is in 1994 skuldig bevind aan die grusame aanval op Alison Botha. Die besluit om parool toe te staan en later weer te herroep, wat onlangs geneem is, was die eerste in sy soort. In Suid-Afrika, wat tans gebuk gaan onder geweldige hoë statistieke van geslagsgebaseerde geweld, het hierdie debat dus hernieude belangstelling ontketen. Hierdie artikel ondersoek die Suid-Afrikaanse wetlike raamwerk ten aansien van wat presies parool sou beteken, insluitend die ingewikkelde prosedurele aspekte daarvan, asook die diskresionêre bevoegdhede wat aan die minister verleen word in hierdie verband. Die verskillende soorte parool word verduidelik, met inbegrip van die faktore wat in ag geneem word tydens oorweging daarvan, asook die instansies wat verantwoordelik is daarvoor.
’n Vergelykende ontleding met paroolstelsels in Engeland en Nederland dui aan dat beduidende verskille te bespeur is, wat veral betref aspekte soos: prosedurele duidelikheid, deursigtigheid en slagofferbetrokkenheid. Voor die hand liggende tekortkominge het aan die lig gekom.
Kritiek word gelewer op die potensiële misbruik van ministeriële magte in Suid-Afrika. Die daadwerklike invloed wat politieke invloed in paroolbesluite al in die verlede gespeel het, word beklemtoon. Dit wek uiteraard kommer oor die regverdigheid van paroolbesluite in die algemeen en rondom die stelsel as sulks. Met verwysing na judisiële ingrepe word gedemonstreer hoe die howe al in die verlede ministeriële besluite moes hersien het om prosedurele billikheid en grondwetlike rasionaliteit te bereik.
Uiteindelik bevraagteken die skrywers of die minister se eensydige bevoegdheid om soms lukraak parool te herroep toepaslik is, gegewe die moontlike vatbaarheid vir magsmisbruik in die afwesigheid van regterlike oorsig as pertinente vereiste. Daar word aan die hand gedoen dat dit hoog tyd is dat
die wetgewer moet ingryp en eens en vir altyd regsekerheid skep oor parool as sodanig. Die huidige toedrag van sake is te moeilik verstaanbaar vir beide die publiek sowel as wetstoepassers en bewerkstellig geensins eenvormigheid nie – vandaar, derhalwe die huidige gebrek in vertroue deur die samelewing jeens parool en alles daarmee saam.