AANTEKENINGE
Making family law judgments more accessible to the affected children through judicial letters
Author: M Carnelley
ISSN: 1996-2207
Affiliations: North-West University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 143-156
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a8
Abstract
Waarnemende regter Du Plessis het in IG v JV (30290 /21) 2023 ZAGPPHC 691 (8 Julie 2023), vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse reg, ʼn brief aan die betrokke kinders geskryf om te verduidelik waarom sy bevind het dat dit in hul beste belang is om nie in Suid-Afrika by hulle vader te bly nie maar om saam met hulle moeder te verhuis na België, al was dit teen hulle uitdruklike wense. In die aantekening word die potensiële opsie bespreek van direkte terugvoer deur die regter aan kinders in familieregtelike geskille en veral met betrekking tot ouerlike sorg- en kontakbesluite, selfs waar die kinders nie ’n party tot die geding is nie. Die bespreking word deur die vereistes van onder meer die Verenigde Nasies se Konvensie vir die Regte van die Kind gelei soos dit toepassing gevind het in die nasionale wetgewing en uitsprake in Suid-Afrika, Nederland, Engeland, Skotland en Nieu-Seeland.
Hierdie aantekening fokus nie op die reg van die kind om gehoor te word nie, maar in die besonder op die reg van die kind tot kommunikering van die besluit van die besluitnemer self. Die toepassing van hierdie aspek is nog onderontwikkeld en die outeur bespreek die beskikbare uitsprake ten einde ’n grondslag te lê vir toekomstige oorweging van die uitbreiding van hierdie ontwikkeling. Direkte kommunikasie met kinders is belangrik ten einde hulle aanvaarding van hofbesluite te bevorder veral as dit gepaard gaan met ’n empatiese verduideliking daarvan in ’n breër regs- en feitekonteks en in ’n taal wat die kind verstaan. Hoewel hierdie moontlikheid nie toepaslik sal wees in alle geskille nie, word dit onder meer aanbeveel waar daar nie aan die uitdruklike wense soos duidelik gekommunikeer deur die kind toegegee word nie of waar die kind ’n ongesonde mate van ouerlike druk ondervind of waar die verhouding van die ouers só bitter is dat hulle ongeskik is om die uitspraak aan die kind op ’n gebalanseerde manier oor te dra.
’n Paar riglyne word aan die hand gedoen vir regters wanneer hulle oorweeg om ’n brief aan die belanghebbende kinders te skryf. Die aantekening sluit af met regter Du Plessis se brief as ’n voorbeeld van ’n kinder-vriendelike uitspraak.