REGSPRAAK

Historical mine dumps: melius est petere fontes quam sectari rivulos!

Author: PJ Badenhorst

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Deakin University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 391-400
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a12

Abstract

In Promispace CC v DRD Gold Limited and the City of Johannesburg is beslis dat, by oordrag van eiendomsreg van grond tydens registrasie in die akteskantoor, eiendomsreg verkry word nie alleen van die grond nie maar ook alles wat op die grond aangetref word, hetsy roerend of onroerend. Die stelling is klaarblyklik onjuis. Vir eiendomsoordrag van roerende sake word lewering (traditio) geverg. By eiendomsoordrag van mynhope, wat voor die inwerkingtreding van die Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 van 2002 (“Act 28 of 2002”) of te wel die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumbronne 28 van 2002 (“historiese mynhope”) tot stand gebring is, geld die gemenereg. Dit is belangrik om bewus te wees dat die sakeregtelike beginsels van die gemenereg ten aansien van sodanige mynhope van toepassing is.
Die sakeregtelike beginsels ingevolge die gemenereg behels: eiendomsreg ten opsigte van minerale word aanvanklik verkry deur die persoon wat geregtig is om vir minerale te prospekteer en/of te myn. Sodanige reghebbende verkry ook eiendomsreg ten opsigte van onontginde minerale, sand, klippe en grond, waaruit die (roerende) mynhoop bestaan.
Eiendomsoordrag of eiendomsverkryging van ’n (roerende) mynhoop kan in die volgende gevalle plaasvind: Eerstens tydens eiendomsoordrag van die roerende mynhoop aan ’n koper deur byvoorbeeld lewering met die lang hand (traditio longa manu). Vir hierdie vorm van lewering moet aan die volgende vereistes voldoen word: (i) die partye moet die bedoeling hê om van hierdie vorm van lewering gebruik te maak; (ii) die saak moet duidelik deur die oordraer aan die oordragnemer in die teenwoordigheid van die saak uitgewys word; (iiii) die oordragnemer moet na sodanige uitwysing in staat wees om fisiese beheer oor die saak uit te oefen met die bedoeling om die eienaar van die saak te wees en (iv) die saak moet duidelik geïdentifiseer word.
Tweedens, eiendomsoordrag geskied ook tydens toe-eiening (occupatio) van die roerende mynhoop deur ’n vreemde persoon, indien die eienaar afstand gedoen het van sy/haar eiendomsreg ten opsigte van die mynhoop. Die vereiste vir toe-eiening is die volgende: (i) die saak moet ’n liggaamlike saak wees wat heerloos is en dus aan niemand behoort nie (’n res nullius), maar wel vir eiendomsreg vatbaar wees; (ii) die besitnemer moet die bedoeling hê om eienaar van die saak te wees en (iii) daar moet ’n fisiese besitname van die saak plaasvind.
Indien ’n verbinding of natrekking (accessio) van die mynhoop met die grond plaasgevind het, verloor die mynhoop sy selfstandigheid as saak en kan dit nie langer die objek van ’n saaklike reg wees nie en kan daar ook nie langer sprake wees van ’n afsonderlike eiendomsverkryging ten aansien van die mynhoop as voormalige saak nie.
By die bepaling of ’n roerende saak deel uitmaak van die grond waarop dit as afval opgehoop is, moet die volgende faktore in ag geneem word: (i) die aard en doel van die roerende saak; (ii) die wyse en graad van aanhegting van die roerende saak met die grond en (iii) die bedoeling van die eienaar van die roerende saak met betrekking tot die aanhegting van sy saak met die grond. Vanweë die unieke aard van mynhope word aangetoon dat die toepassing van die gemelde drie faktore nie altyd paslik of doenlik is nie. Slegs indien die verbinding van die (roerende) mynhoop met die grond plaasgevind het, kan eiendomsoorgang van die grond waarop die mynhoop geleë is deur registrasie in die akteskantoor geskied (mits natuurlik aan die ander vereistes vir eiendomsoordrag voldoen is). Daar word aan die hand gedoen dat die hof in die Promispace-saak nie die verskillende moontlikhede en die toepaslike sakeregtelike beginsels ingevolge die gemenereg behoorlik in ag geneem het nie.