
AANTEKENINGE
Fiduciary duties of spouses married in community of property
Author: JL Van der Merwe
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2025, p. 797-810
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i4a8
Abstract
Fidusiêre pligte word normaalweg van regsweë opgelê aan ’n persoon wat in ’n posisie geplaas is om regshandelinge aan te gaan namens ’n ander persoon of wat ʼn ander persoon se regte namens daardie persoon kan aantas. Dit is om kwesbare persone te beskerm teen magsmisbruik. Daar is nie ’n beperkte lys van sulke verhoudings nie.
Een so ’n kwesbare verhouding is die huwelik binne gemeenskap van goedere, waar die eggenotes belangrike transaksies kan aangaan sonder toestemming van die ander gade, wat selfs kan lei tot sekwestrasie van albei eggenote. Tradisioneel het die maritale mag van die man verhoed dat fidusiêre pligte aan hom opgelê kon word insluitende die lewering van ʼn rekening.
Die maritale mag is ten dele afgeskaf deur die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 en ten volle in 1993 deur ’n wetswysiging. Die wet sluit nie die toedigting van fidusiêre verpligtinge uit nie. Nou is daar geen rede wat verhinder dat fidusiêre verpligtinge opgelê word aan sodanige gades nie.
Die tradisionele vorms van regshulp om misbruik van mag te beveg soos die actio Pauliana utilis, die lig van die korporatiewe sluier of die ignorering van ’n trust se afsonderlikheid is onvoldoende om magsmisbruik behoorlik te bekamp omdat kwade bedoelings bewys moet word, wat dikwels te moeilik is.
Fidusiêre pligte is broodnodig om te verhoed dat ’n gade inkomste weerhou van die gesamentlike boedel deur dit in ’n trust te plaas of aan ’n buitestander toe te vertrou en ook om gades tot ’n mate te beskerm teen roekelose transaksies aangegaan deur die ander gade op eie houtjie.
Die vraag moet nie wees of daar kwade bedoelings was nie maar eerder of die gedrag die verwesenliking van die huweliksbedeling belemmer het.
Die fidusiêre plig van lewering van ’n rekening en debattering daarvan is noodsaaklik om te help om te bepaal of daar misbruik van mag was en om die volle waarde van die gesamentlike boedel behoorlik te bepaal.
Indien fidusiêre pligte toegereken word aan sodanige huweliksgenote is wetswysiging om bogemelde leemtes aan te vul onnodig.